Godsdiensgeweld in Nigerië duur voort

Deel op

Vermoedelik Nigeriese Islamiete het gister op ‘n mark in die noordoostelike stad Maiduguri losgebrand en bomme afgesit en sodoende ten minste 30 mense gedood, het ‘n mediese beampte en ‘n ooggetuie gesê.

Geweerskuts wat daarvan verdink word dat hulle lede van die Islamitiese sekte Boko Haram is, het die visafdeling van die Baga-mark bestorm en die stalletjie-eienaars en smouse met koeëls besaai, het handelaars gesê en aangevoer dat vroue en kinders onder die gestorwenes is.

“Die doodsgetal kan niks minder as 30 wees nie,” het ‘n verpleegster van Maiduguri aan AFP gesê.

Die militêre owerhede het die aanslag op die mark bevestig maar ontken dat enige burgerlikes gesterf het en gesê die veiligheidsmagte het agt aanvallers doodegeskiet en die bomme wat deur hulle geplant is, veilig afgestel.

“Teen omtrent 13h30 vandag het sekere gewapende persone wat vermoedelik lede van Boko Haram is, die Baga-mark van die Maiduguri-metropool aangeval en burgerlikes by die mark geskiet,” het Luitenant-Kolonel Hassan Mohammed, segsman van ‘n spesiale militêre eenheid in die stad aan AFP gesê.

Hy het gesê dat verskeie persone gewond is maar dat daar “geen burgerlike sterftes teen hierdie tyd” was nie.

Die militêre mag het “onmiddellik tot die redding van die situasie gekom en drie bomme wat deur lede van die sekte geplant is, afgesit, en agt lede van die sekte doodgeskiet,” het Mohammed gesê.

Een handelaar wat sy naam as Mairami verskaf het, het egter gesê dat gewapende mans die voedsel- en verbruikswaremark bestorm en “sonder aansien des persoons losgebrand het. Ten minste 30 mense insluitende vroue en kinders is gedood.”

Nog ‘n smous, ene Gana, het ‘n soortgelyke verslag van die aanval in die stad, ‘n vesting van Boko Haram wat geblameer is vir ‘n dodelike vlaag bom- en skietaanvalle hoofsaaklik in die noorde van Afrika se mees bevolkte land, gegee.

“Hierdie gewapende mans het eenvoudig losgetrek. Ek het drie militêre bussies die mark sien verlaat, met lyke daarin opgestapel. Daar was verskeie ontploffings na die geskietery,” het Gana gesê.

Die aanvallers het handelaars daarvan beskuldig dat hulle met die militêre owerhede meewerk na die inhegtenisname verlede week van ‘n verdagte Boko Haram-lid in die mark, het getuies gesê.

Mairami het gesê een van die gewapende mans het woedend geskree dat die handelaars “saamgespan het met die soldate” om te help om lede van die sekte te arresteer.

“Ons het derhalwe oorlog gevoer teen julle,” het die gewapende man volgens Mairami gesê voordat hy koeëls uitgegiet het op smouse en klante.

Die verpleegster het gesê dat dit moeilik is om ‘n presiese dodetal van die aanval vas te stel aangesien die veiligheidsmagte die lyke nie na die lykshuis geneem het nie maar naasbestaandes toegelaat het om hulle geliefdes op te eis vir onmiddellike begrawing volgens Moslem-rites.

Verlede week het handelaars ‘n gewapende man wat daarvan verdink is dat hy ‘n lid van Boko Haram is, oorrompel en hom aan die militêre owerhede oorhandig.

Maiduguri, die hoofstad van die Borno-staat en die tuisbasis van Boko Haram, het beleef dat van die ergste geweld op die ekstremistiese sekte, wat hulle aanvalle hoofsaaklik op die Moslem-noorde toegespits het, geblameer is.

Die insypeling wat op Boko Haram geblameer is, het al reeds 200 mense se lewens hierdie jaar geëis, insluitende 185 in gekoördineerde wapen- en bomaanvalle in Nigerië se tweede stad Kano op die 20ste Januarie, die dodelikste aanval tot dusver.

Die geheimsinnige sekte het gesê hulle wil ‘n Islamitiese staat regoor Nigerië se erg verarmde, hoofsaaklik Moslem-, noorde oprig en sommige ontleders glo die Islamiete is verbonde aan enersdenkende groepe soos Al-Kaida.

Ander ontleders hou vol die sekte is ingestel op ‘n nougebonde plaaslike agenda.

Фильчаков прокурор отзывы

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.