Die Stepfords van Pretoria

Deel op

Hierdie stuk is ʼn blote tussenspel voor die finale aflewering in my huidige drieluik van rubrieke wat begin het met Een minuut oor twaalf, Twee minute oor twaalf – ʼn Boer in die vreemde en binnekort deur ʼn derde aflewering gevolg sal word.

Ry vanuit die suide met die R21 na Pretoria en die eerste voorstedelike woonbuurtes aan jou linkerkant  herinner jou aan ʼn slegte weergawe van die film The Stepford Wives.  Terwyl hierdie ligsinnige Hollywoodfilm beter, hoewel oordrewe woonhuispaleise met ‘n Amerikaanse ontwerpsstrekking vertoon, is ons eie “Stepfords” se smaak nog swakker, geensins gegrond in Suid-Afrikaanse argitektoniese bodem nie en hier en daar oortref dit selfs die skaal van die Stepford-paleise.
Deel op

ʼn Vriendin vertel my die staaltjie oor iemand wat sy ken wat in die laat sewentigerjare, toe “Spaanse villas” hoog mode hier te lande was, Spanje besoek het as deel van ‘n georganiseerde toergroep. Klaarblyklik, so gaan die verhaal: Op die toer was ‘n  “Tannie” van Kroonstad, wat Spanje besoek het met die uisluitlike doel om Spaanse woonhuisargitektuur te bestudeer, sodat sy dan met haar terugkeer haar eie “outentieke” Spaanse villa kon ontwerp. Ten anskoue van die relatiewe eenvoud van die ware Jakobusse, het sy toe met teleurstelling, amper skok, die uitspraak gemaak: “Ag nee wat, daar is baie beter voorbeelde van Spaanse villas in Bloemfontein!”  Nou ja, in Pretoria is daar sekerlik “baie beter voorbeelde van Toskaanse villas as in Toskane”.

Dit wil vir my altyd voorkom asof Afrikaners en persoonlike finansiële rykdom nie ʼn goeie kombinasie uitmaak nie. Gaan kyk gerus na die volstruispaleise van Oudtshoorn. Hoewel dit lyk soos sprokiespaleise, moet mens ingedagte neem dat sprokies spreek tot die oordadige fantasieë van kinders. Vir seker moet daardie geboue behoue bly want ten minste is hulle deur argitekte (ten minste sommiges; so verstaan ek) volgens sekere riglyne ontwerp. Boonop het hulle geskiedkundige waarde en getuig hulle van die volstruisveermodegier in Europa tydens daardie era. Met die ontdekking van die binnebrandenjin sou dames met sulke volstruisveerversierde hoede egter gou soek na eenvoudiger hooftooiselontwerpe. Die “hoë” snelhede van die oopkapmotors van die vroeë 1900’s het gou korte mette met sulke beveerde hoede gemaak. Dit was dan ook die einde van die volstruispaleise. Miskien is dit ook maar beter so.

Tydens die AOB is Boere wat die wapen neergelê het en trou aan die Britse kroon gesweer het, toegelaat om terug te keer na hul plase en met hul boerderye voort te gaan. Soos ek die geskiedenis verstaan, het sulke “Boere” vinnig ryk geraak. In ʼn landbouekonomie wat deur die “verskroeideaardebeleid” van die Engelse vernietig is, sou hierdie boere vinnig finansiële opgang kon maak om aan broodnodige tekorte te voorsien. Ook sulkes sou dan vinnig hulself aan argitektoniese oordadigheid oorlewer. Dit is dalk deels die rede waarom daar ook in die Transvaal sulke Viktoriaanse paleise bestaan. Dalk kan mens hulle “Veraaierspaleise” noem. Weereens is dit die uitdrukking van oordadigheid. Soortgelyk aan vandag is dit klaarblyblik die materiële ambisies van diegene wat swaarders weeg as enige beginselsaak. Tog wil dit voorkom asof baie van die hedendaagse pasrykes wel argitekte gebruik het wat argitektoniese beginsels gerespekteer het, al is die huise, soos in die Oudtshoorn geval, oordadig kitsch. 

Ons eietydse Stepdford-huisvroue en hul megalomaanse mans, wat net so leegkop soos hul eweknieë in die Hollywoodproduksie is, trek egter al te dikwels hulle eie ontwerpe op. Van my kinderdae af onthou ek hoe my ouers geril het as mense sê hul “trek self hulle huisplanne op”. Nou ja, ek het enkele huise in SA gesien wat deur mense, met werklik goeie smaak, self ontwerp is, maar daar is maar min sulkes. Wat die “self-optrekkers” met die baie geld en min smaak, nie begryp nie, is dat enige goeie argitektoniese styl gebasseer is op formules en skale. Bestudeer gerus die klassieke argitektuur en dit is onmisbaar opsigtelik vir die oog wat daarvoor soek. Gaan kyk na die Kaaps-Hollandse huise uit die 1700’s en vroeë 1800’s en jy sal sien dat argitekte soos Thibault en ander daardie beginsels godsdienstig toegepas het.  

Terselfdertyd het SA ʼn leërskare van argitekte wat geensins probeer om die publiek op te voed nie, maar net daarop uit is om vinnig geld te maak. Behalwe Toskaanse veiligheidsbuurtes en ander ewe kitsch privaatvillas omring deur “privaatparke”, verskyn pseudo-Bisantynse kantoorparke en toringgeboue met walglike oordadigheid.

Hoewel baie Kapenaars ook ʼn stewige klap van leëkop-Stepfordagtigheid weg het, het inwoners van daardie provinsie, meer onlangs, hulself begin verdiep in woonhuisstyle wat eenvoudiger weergawes van die outentieke Kaapse styl weerspieël. Kapenaars is besig om hul argitektoniese wortels te herontdek en dit op eenvoudige en onderbeklemtoonde wyse uit te druk. Jammer om te sê, maar daar was nog altyd meer styl en smaak in die Weskaap as hier in die Noorde waar fortuinsoekers gans te veel invloed gehad het.

“Argitektoniese Beginsels” behoort ‘n verpligte skoolvak in ʼn toekomstige volkstaat te wees. Maar nou ja, ek dink nie die Stepfords van Pretoria is die stoffasie wat gemobiliseer kan word vir ʼn volkstaat nie. Wie gaan al daardie Italiaanse teëls poleer, al die gange skoonvee, die marmerverftegniek (asof dit nie erg genoeg is dat so ʼn tegniek enigsins bestaan nie) van die suile instand hou, om nie te praat van die parke om hierdie villas nie? Hoe gaan daardie  koppe wat met handelsmerke en swak smaak gevul is nog enige ruimte kan maak vir ideologiese intellek, veral as dit beteken dat dat jy self jou eie vuilwerk moet doen?  Die behoefte aan materiële weelde oortref alles.

Die feit dat daar in die noorde van Pretoria ʼn winkelsentrum met die naam Kolonade is, spreek boekdele… Hoeveel Afrikaners het al van die Bauhaus gehoor? Hoeveel ken die name van bekroonde Suid Afrikaanse argitekte soos Gawie Fagan, Pius Pahl, Revel Fox e.a.?

In ʼn volkstaat sal huise klein en funksioneel wees. Gaan kyk maar in Nieu-Seeland, Australië, Swede of enige plek waar daar nie goedkoop swart arbeid is nie. Suid-Afrikaners wat in Nieu-Seeland aanland, is geskok oor die “lae lewenstandaard” omdat huise so klein is. Nee, dit is nie lae lewenstandaard nie, dis logika. Kleiner huise beteken minder werk, beteken jy kan dit self behartig! Ek dink nie die Stepfords van Pretoria sal goeie of gewillige volkstaters uitmaak nie, maar meer hieroor in my volgende aflewering waarvan hierdie as blote tussenspel moet dien.

погремушкипрокурор Фильчаков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.