Halwe waarhede en gevaarlike stereotipes

Deel op
Die grondkwessie in SA bly hoog op die agenda van die ANC en sy trawante op die grond. ‘n Mens hoef net na Radio 702 te luister om te hoor hoedat radikale (of is dit dalk alle? swartes die persepsie uitspreek dat blankes histories die grond van swartes gesteel het. In hierdie verband is ‘n halwe waarheid wat ‘n persepsie en nog later ‘n stereotipe in denke geword het, gevaarliker as ‘n leuen!

Dr. Pieter Mulder het vir die eerste keer in jare vir hom naam gemaak onder Afrikaners deur die ANC-regering in die parlement aan te vat oor die wanopvatting dat blankes swartes se grond gesteel het. President Zuma het in sy staatsrede skerp teen Mulder gereageer en om die kroon te span het die DA se nasionale woordvoerder, ene Mmusi Maimane, hom in ‘n verklaring tot die ANC-koor toegevoeg, deur ‘n aantal wilde stellings te maak.

Maimane wil vir Mulder ‘n les in die geskiedenis leer, lui sy verklaring van 16 Februarie 2012. Maimane verwys na die “narrow minded constituency” van Mulder, en bevraagteken Mulder se standpunt dat swartes nie op alle grond aanspraak kan maak nie, omdat swartes sowat 40% van alle grond voor die koms van wittes, nie beset het nie.

Hy veroordeel die 1913-Wet op grondbesit wat 87% van die grond aan blankes laat toekom het en wat apartheid se oorspronklike sondeval was en verwys na die lyding van swartes as gevolg van grondontneming.

By ontvangs van die Maimane-verklaring, was my eerste reaksie dat hy na sy maai moet vlieg, maar het ek tog besluit om ‘n aantal vrae aan Maimane te vra. Dit is vrae wat aan die wortel van die grondprobleem lê:

Het die Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie in 1652 ‘n verversingspos aan die Kaap tot stand gebring deur die anneksasie van grond wat toe aan ‘n bepaalde staat, regering, owerheid of volk behoort het?

Het die Vryburgers wat die binneland ingetrek het dus ook grond wat aan ander behoort het, geannekseer?

Het die Voortrekkers eers in die Vrystaat en ander in Transvaal twee Boererepublieke tot stand gebring deur grond van ander volkere met ‘n eie regeringsvorm te annekseer?

Watter blanke owerheid het in 1913 die vermeende arbitrêre grondverdeling gemaak?

Is daar na 1913 en by name deur die regering van dr. H F Verwoerd nog grond tot die 1913-grondverdeling gevoeg, en indien wel, hoeveel en waar?

My vermoede is dat as Maimane tog wel sal antwoord, dit in vae propagandistiese terme sal wees. Die waarheid is dat die saak feitelik gans anders is. Ek het my reaksie op die Maimaneverklaring aan Beeld gestuur, in die hoop dat dit geplaas sal word, maar ook dit het nie gebeur nie. Die brief lui:

“Thomas van der Merwe et al verklaar in sy “Historical Foundations of SA Private Law (p.93) dat die Kaap ‘n res nullius (‘n ding sonder eienaarskap) was en dat die Kaap in die besit van die Hollanders ingevolge die Romeins-regtelike reël van occupatio gekom het. Die Vryburgers het permanensie aan die teenwoordigheid van die Nederlanders gegee. Die Voortrekkers het hierdie reg op okkupasie van grond wat nie deur ‘n staat besit word nie na die binneland in die Vrystaatse en Transvaalse Republieke uitgebrei.

Die nasate van die Hollanders het dus ‘n onvervreembare eerste okkupasiereg op die Wes-Kaap en op die grondgebiede van die Vrystaatse en Transvaalse Republieke.”

Nou iets oor die 1913-grondverdeling. Hierdie verdeling kan nie die apartheid van dr. Malan ten laste gelê word nie, want die Nasionale Party is eers in 1914 gestig. In 1913, ‘n kort drie jaar nadat Afrikaners in die Unie van Suid-Afrika as gevolg van die nederlaag teen Groot Brittanje ingedwing is, het die Unieregering grondbeskerming aan die swart volkere in hulle tradisionele gebiede (Ciskei, Transkei, en ander) verleen. Hierdie daad is later deur dr. Verwoerd opgevolg deur nog grond aan die nasionale etniese state toe te voeg. Die oogmerk van Verwoerd moet binne die breër politieke prentjie verstaan word. Hierdie breër prentjie lyk soos volg, dit nog na aanleiding van Neels Jackson se ewe verwronge beeld insake apartheid.

Ek verwonder my steeds dat joernaliste soos Neels Jackson, hierdie keer oor apartheid (Beeld, 9 Februarie 2012), sonder ‘n diepgaande kennis oor sake skryf. Die resultaat is dan niks anders as propaganda nie!

Voor 1910 was die Britsgeïnspireerde beleid rasgebaseerde segregasie. Na 1948 was die, nog steeds rasgebaseerde, beleid van dr. DF Malan apartheid.

Die politieke oorname van dr. HF Verwoerd het die beleid laat verlê na volks- of kultuurgebaseerde afsonderlike ontwikkeling. Daar is toe uitgegaan van die standpunt dat die individu in kulturele gemeenskapsverband moes ontwikkel.

Om dit te kon doen, moes die politieke roereier ontstrengel word. In die tussentyd deur sg. “kleinapartheid”-maatreëls. Die beleid het vanselfsprekend ook tot beperkte volksverskuiwings aanleiding gegee, ten einde konsolidasie van grondgebied te verseker. Jackson kan gerus die grondwette van Bophuthatswana en ander by my kom lees, sodat hy kan weet waaroor dit gegaan het.

Ons wat destyds in politieke huise grootgeword het, was bewus daarvan dat die einddoel van Verwoerd ‘n konfederale Suider-Afrikaanse gemenebes van nasies (of volke), elkeen in ‘n eie hartland was.

Die nasate van Verwoerd boekstaaf die morele gronde van Verwoerd se beleid in Orania. Hoe langer hoe meer ons in die roereier en klasgebaseerde (ryk-arm) Suid-Afrika na 1994 leef, hoe meer verlang ons na ‘n kultuurgebaseerde samelewing waar elkeen se identiteit beskerm word.

Om kort te gaan: Afrikaners is dit aan hulle kinders verskuldig om ‘n ware beeld insake apartheid en die grondverdelingaangeleentheid te hê.

Фильчаков прокурор харькова

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.