Nuwe Klaas Waarzeggers en Jan Twyfelaars

Louis Henri Meurant

Louis Henri MeurantKlaas Waarzegger se samesprake en briewe het groot geesdrif vir Afrikaans gebring. Talryke Afrikaanse briewe en samesprake het in die koerante, veral Het Volksblad maar ook De Zuid-Afrikaan en ander blaaie verskyn. Die 20ste-eeuse taalkundige J. du P. Scholtz het stukke in Afrikaans aangetref in ongeveer 300 nommers van koerante tussen 1861 en 1869. Klaas Waarzeggers en Jan Twyfelaars het uit alle dele van die land geskryf — sommige Gert of Piet Waarzegger, maar die meeste met nuwe grappige skuilname. In die Vrystaat het die tweetalige The Friend / De Vriend ook van die briewe oorgeneem en het Vrystaters self Afrikaans begin gebruik. “Ik was altyd bang gewees om in de krant te schryf”, laat P. Gedult in The Friend van 9 Augustus 1861 van hom hoor, “maar nou dat ik gezien het, dat Klaas Waarzegger ook in de krant schryf, wil ik tog ook perbeer om de mense te laat hoor, hoe dat het hier in onse arme verlate dorp Harriesmith gaat.”

Min mense het destyds geweet wie Klaas Waarzegger was. Die geheim het eers in 1922 uitgelek. Die taalkundige J.J. Smith het dit toe bekend gemaak in Die Huisgenoot, ‘n blad waarvan hy die redakteur was.

Van 1870 af is meermale Afrikaanse gediggies in Het Volksblad gepubliseer. Lesers het met groot plesier F.W. Reitz se gewilde gedig “Klaas Geswind en sy perd” gelees wat die eerste keer op 19 Julie 1870 verskyn het en talle kere herdruk is in koerante en tydskrifte. Dis ’n verafrikaansing van Robert Burns se “Tam O’Shanter”. Strofes soos die volgende het tot vandag toe bekend gebly:

“Plesier is nes ’n jong komkommer:
As jij hom pluk, verlep hij sommer;
Of nes ’n skulpad in sij dop in:
So’s jij hom vat, dan trek hij kop in.”

Dit was ’n verafrikaansing van: “But pleasures are like poppies spread, / You seize the flower, its bloom is shed! / Or like the snow falls in the river, / A moment white — then melts for ever.” Ander gedigte van dié tyd is “De steveltjes van Sannie” (1873), ook van F.W. Reitz, en “Dopper Joris en zijn zijltje” van Pulvermacher (1873).

Wat mense nog meer opgewonde gemaak het, is bydraes wat ’n Engelse wetsagent van Fraserburg, H.W.A. Cooper (1842-1894), onder die skuilnaam Samuel Zwaartman geskryf het. Van 13 Januarie tot 4 Augustus 1870 het sy 25 “Boerenbrieven” en van 16 Maart tot 8 Junie 1871 sy “Kaapsche Schetsen” in Het Volksblad verskyn. Dié briewe het tot ‘n nuwe stortvloed Afrikaans gelei. Het Volksblad het op 18 Junie 1870 gesê dat dit lyk of Zwaartman se geskrifte tot “eenen verschrikkelijken schrijflust in het Boerenhollandsch” gelei het; sy lessenaar “is opgestapeld met brieven”, die een ongelukkig slegter as die ander.

Mense soos Meurant het Afrikaners onbedoeld en onbewus gereed gemaak vir ‘n Afrikaanse taalbeweging om van die volkstaal ‘n kultuurtaal te maak en weerstand te bied teen die verengelsing van die volk. Meurant en sy navolgers het mense gewoond gemaak aan Afrikaans as skryftaal en taal vir ernstiger sake – dinge waaroor ook ontwikkelde mense praat.

лобановский александр фото

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.