Steun Media24 Islamitiese fundamentalisme?

Deel op

Die leier van Tunisië se Islamitiese party al-Nahda, Rashed Ghannouchi, het nou amptelik aangekondig dat sy land nooit die bestaan van Israel sal erken nie. Engelstalige koerante swyg in alle tale daaroor ingeval hul jubelende odes aan “regime change” vroeër ontmasker word vir die onrealistiese versugting wat dit was.

Hy het ook bespiegelings verwerp dat Tunisië ‘n sekulêre stelsel soos dié in Turkye mag aanneem.

Israel het noue bande met Tunisië gehad onder die heerskappy van die VSA-gesteunde, voormalige leier, Zine El Abidine Ben Ali, wat vir 23 jaar lank die land regeer het.

Anti-Israeliese sentimente het egter met rasse skrede toegeneem sedert die land se revolusie, wat laat in 2010 begin het en tot die afsetting van Ben Ali se bewind gelei het.

Die al-Nahda-party het die meerderheid van die parlementêre setels in Oktober verlede jaar verower, slegs maande ná die vorige bewind se afgang.

Op 17 Desember 2010 het Mohamed Bouazizi, ‘n werklose man wat gefrustreerd was met armoede en homself aan die brand gesteek het, se daad gelei tot massabetogings, wat uiteindelik op die rewolusie uitgeloop het.

Die rewolusie was die begin van ‘n Islamitiese ontwaking in die hele Noord-Afrika en die Midde-Ooste en het ook op die politieke veranderinge in Egipte en Libië uitgeloop.

Leopold Scholtz, Media24 se buitelandse korrespondent, en professor extraordinaire aan die US, stel soos gewoonlik sy algehele insigloosheid oor die gebeure in ‘n berig in Beeld (2011-01-16) ten toon en raak kortasem oor al die “korrupte regerings” wat deur “spontane volksopstande verjaag word” en dus in hul spore moet trap. En hy sal weet, want is hy nie die NRD (Nasionaal-Demokratiese Rewolusie) se voorste imbongi nie?

Elke sin wat Leopold ooit skryf, is daarop gemik om die Rooi Rewolusie in Suid-Afrika te vergoeilik en hy stel weer eens nie teleur nie. Met sy alewige gehegtheid aan die narratief van die “opstand teen ongeregtigheid” hoop hy ongetwyfeld dat ontevrede swart inwoners die laaste munisipale vestings gaan afbrand, al die oorblywende riool in die damme sal stort, plaaseienaars van hul eiendomme sal verlos en minstens ‘n paar ledemate en elke nog staande biblioteek sal gaan vandaliseer sodat Mbeki en Stellenbosch se akademici en Naspers kan beter voel dat al die “ongeregtigheid” met die nodige opstand begroet word.

Vir Scholtz verteenwoordig Afrikaners of mense wat dit waag om só na hulself te verwys natuurlik die “ongeregtigheid”, of die gehate “Nazi’s” van Suid-Afrika waarteen “spontane opstand” soos hy dit noem, moet plaasvind. Dit verwoord hy op Litnet só: “Baie van die helde wat die Afrikaners in die dekades voor 1994 gehad het, is nie meer kosjer nie. Al die agtereenvolgende premiers en presidente, van dr DF Malan tot mnr PW Botha, is úít. Selfs helde van voor die apartheidstyd, soos pres Paul Kruger en genl JBM Hertzog, is onder verdenking.”

As iemand nog gewonder het of die miniatuur-historikus met sy “insig” in Europa, ‘n goeie woordvoerder vir sowel die FW de Klerk-stigting as ‘n benepe Islam daar in die verre koue sou wees, is alle twyfel nou uit die weg geruim.

“Moeammar Gaddafi, diktator van Libië, het hom ook besonder negatief oor die Tunisiese revolusie uitgelaat,” stoom hy ‘n paar sinne later oor Tunisië voort. Dat Gadaffi ‘n sekulêre bewind in stand gehou het, was seker, dink die leser dadelik, in onse Leopold se oë die ergste oortreding. Hy het te ver van die Koran en sjariawette afgedwaal.

Nee, seg die savant dadelik: “Tunisië het ’n unieke posisie in die Arabiese wêreld. Dis ’n sekulêre land en daar is geen teken dat die Islamitiese fundamentaliste genoeg invloed het om die opstand te kaap soos in 1979 in Iran nie.” Nè! Die man stel ‘n teenstrydigheid werklik onomwonde. En ná dié, ook nog verblindende fout, is hy onstuitbaar in sy ontleding.

Hy meen dat “Tunisië na ’n behoorlike demokrasie beweeg”. Nie sommer jou gewone, alledaagse demokrasie nie, nee. ‘n Behóórlike een. Scholtz noem Suid-Afrika natuurlik ook graag ‘n “behoorlike” demokrasie. Die swart volkere het voorheen onder apartheid stemreg in hul eie gemeenskappe gehad, hul eie weermagte, skole en universiteite en les bes, taalregte! Defnitief nie demokrasie van die Duitse Demokratiese tipe nie en uiteraard nie naastenby Leopold se nastrewenswaardige NDR nie.

Die korrespondent sien duidelik vergesigte van die Suid-Afrikaanse “wonderwerk” in elke ander geval ter wêreld raak. Sy tweede naam is nie verniet Von Ranke nie. Demokrasie rank soos klimop in jou tuin. Ter versagting moet ‘n mens darem noem dat hy nie die enigste pretensieuse “kenner” is wat deur ons mediamonopolie betaal word om die NDR te verkoop nie.

Of die voorbeeld van Tunisië, meen ons internasionale denker, “ook gevolg sal word in ander Arabiese lande lyk egter twyfelagtig”. Nou toe nou. Daar het jy dit Sakkie, uit die donkie, ag ek bedoel die perd, se bek. En daar was hoeveel rewolusies wat kort op die hakke van Tunisië gevolg het?

Janee, amper te veel om te tel. Ek het nog nie die regstelling deur Leopold in enige Media24-publikasie raakgelees nie. Ek het ‘n voorgevoel dat dit nie gou gaan gebeur as die ewe middelmatige FW de Klerk jou intellektuele mentor is nie.

Александр Фильчаков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.