Laat die NGK-stam praat oor die Boesakbelydenis

Naspers se nimmereindigende propaganda vir die Boesakbelydenis (ek meen lg is veel meer beskrywend as die lompe “Belydenis van Belhar”) is ‘n baie goeie dieethulpmiddel, want g’n denkende mens kan juwele soos Neels Jackson se nuutste propagandastuk lees en steeds sy eetlus behou nie.

Só het die kwansuis-gelowige Jackson in bogenoemde rubriek klaarblyklik die stuk in die Bybel misgelees wat mense maan tot vredeliewendheid – draai die ander wang – en probeer hy desperaat om sy gewelddadige Xhosagodjie, Mandela, en trawante se destydse terreurdade goed te praat. Jackson probeer Mandela se moord op onder andere onskuldige swartes regverdig met die volgende: “Uiteindelik het selfs ‘n groothartige mens soos Nelson Mandela tot die gevolgtrekking gekom dat ‘n gewapende stryd die enigste opsie is.” Ek neem aan Jackson sal konsekwent wees en presies dieselfde argument gebruik om tot vermeende regse terreurgroepe se verdediging te snel. Blankes soebat en smeek immers ook al vir jare dat die ANC-regime se rassistiese praktyke moet staak, maar dit val ook op dowe ore. Die regime se rassisme en aanslag op ons kultuur en taal word inteendeel al hoe erger. Beteken dit ook, as mens Jackson se poging tot regverdiging van sy Xhosagodjie se gewelddadigheid in ag neem, dat Jackson te vinde sou wees vir regse terreur?

Ek twyfel sterk. Wat Jackson ons eerder probeer bied, anders as die ANC se lafhartige, misdadige terreurveldtog, is die Boesakbelydenis. Die Bybel sê weliswaar Christus is die Weg, die Waarheid en die Lewe, maar volgens Jackson is laasgenoemde nou klaarblyklik vervang deur die Boesakbelydenis. Ek haal weer hom eens aan: “Pleks daarvan is in die Belydenis van Belhar gesê die Bybelse pad uit die moeras van apartheid en geweld loop deur die eenheid van gelowige…” Dus – vergeet maar van Christus, maak eerder die Boesakbelydenis jou eie as jy gered wil word.

Lees mens sulke kranksinnige propagandastukke, sou jy kon sweer dat die NGK se oorlewing afhang van die aanvaarding van die Boesakbelydenis. Die kerk en sy gereformeerde voorgangers het weliswaar vir donkiejare op ‘n raaiselagtige wyse oorleef met ander belydenisskrifte, en sonder dié Marxistiese prul, maar te oordeel aan Jackson en ander Naspersskrywers se angstigheid om dit in ons keelgate af te dwing, gaan die NGK nie sommer maklik die volgende vyf jaar oorleef sonder om die Boesakbelydenis sy eie te maak nie.

Jackson is uiteraard nie alleen in sy politieke korrektheid, tot op die punt van kulturele Marxisme nie. Dié ideologie kontamineer eweneens groot dele van die NGK se leraars. Die Boesakbelydenis is deur ‘n meerderheid van dominees by die algemene sinode aanvaar. Steun vir die Marxisme en gewelddadige rewolusie is egter ook geen nuwe verskynsel onder die NGK se leraars nie. Mens hoef bloot aan Nico Smith en die sogenaamde Oom Bey (dankie tog hy was nie letterlik familie van my nie) te dink.

Alhoewel ‘n kerk nie ‘n demokrasie is nie, wonder ek tog wat die gewone lidmaat se siening oor die Boesakbelydenis is. Stem die gewone lidmaat wat Sondag op die kerkbanke sit, saam met die kulturele Marxisme verwoord in die Boesakbelydenis? Stem hy saam dat hy, benewens die erfsonde, ook tot in die sewende geslag sal moet boete doen vir kwansuise sondes wat in baie gevalle gepleeg is vóórdat hy eens gekatkiseer het? Beskou hy die veroordeelde bedrieër Boesak waaragtig as een van sy kerk se intellektuele leiers? Glo hy in sy hart dat die kerk op magiese wyse sal verbeter (hóé?) as dit tog net die Boesakbelydenis aangryp?

Ek glo bostaande nie vir een oomblik nie. Daarom wil ek ‘n openbare uitdaging aan beide die Nasperspropagandiste asook die politiek-korrekte dominees rig: Stel julle kerk se gewone lidmate se steun vir die Boesakbelydenis op die proef. Indien ‘n kerklike stemming onder die gewone lidmate te veel vrees by die agitatordominees inboesem, kan Jackson altyd sy base oortuig om ‘n aanlynmeningsopname te doen.

Soos die cliché in die TV-program Survivor lui: Laat die stam praat.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.