Afrikaans word koeranttaal

Klaas Waarzegger

Klaas WaarzeggerLouis Henri Meurant (1812-1893) het in 1830 ‘n drukpers gekoop waarmee hy op 30 Desember 1831 The Graham’s Town Journal begin uitgee het. Meurant en die latere redakteur Robert Godlonton was die eerste wat die opspraakwekkende nuus oor Piet Retief en Dingane uitvoerig gerapporteer het. Retief se stukke is uit Hollands vertaal, en die lesers het soveel daarin belang gestel dat De Zuid-Afrikaan dit terugvertaal het na Nederlands. Waar die Commercial Advertiser kant gekies het teen die trekkers, het die Journal die ander kant gestel, en sy sirkulasie opgestoot.

Meurant het later sy aandeel in die drukkery verkoop en ander werk gedoen, onder meer as tolk. Hy was tolk toe die Setlaars in 1837 ‘n Bybel as afskeidsgeskenk aan die Voortrekker Jacobus Uys oorhandig het, asook by die onderhandelinge voor die Sandrivier-Konvensie van 1852. Van 1844 tot 1850 was hy uitgewer en redakteur van Het Kaapsche Grensblad (wat bestaan het tot 1861). Daarin het gereeld stukke in Afrikaans verskyn. Met die Afrikaans het Meurant die blad gewild gemaak by oosgrensboere vir wie Nederlands al ‘n moeilik leesbare taal was.

Voor Meurant het Boniface, die Skot A.G. Bain, en Nederlanders onder skuilname soms Afrikaans geskryf. Bain is die skrywer van “Kaatje Kekkelbek or life among the Hottentots” (1838): “My name is Kaatje Kekkelbek, / I come from Katrivier, / Daar is van water geen gebrek, / But scarce of wine and beer.” Dit was tipies van die eerste skriftelike Afrikaans: die taal van nie-blankes of anders naïewe en onontwikkelde wit mense is met ‘n grappige effek gebruik.

Maar Meurant het Afrikaans vir ‘n ernstiger saak, die politiek, ingespan. Dit was in 1860 en 1861 in ‘n stryd tussen die oostelike en westelike distrikte in die Kolonie. Die Engelse van die ooste het Afrikaner-oorheersing deur die weste gevrees en wou van die weste afskei. Soos gewoonlik het die Afrikaners hulle nie aan die stryd gesteur nie. Meurant het besef dat, as hy die Afrikaners wou beïnvloed, hy Afrikaans moes skryf. Dit was die taal wat sy Grensblad-briewe so gewild gemaak het.

Om hul steun vir die afskeidingsbeweging te wen, het Meurant ‘n samespraak geskryf en twee boere as sy mondstukke in hul eie taal laat optree. Die samespraak is in Desember 1860 in The Cradock News geplaas en het groot byval gevind: 1500 eksemplare is uitverkoop en nog 1500 is toe gedruk. So groot was die sukses dat die uitgewers dit gebruik het om ‘n nuwe blad te loods. Hulle het ‘n aparte Hollandse blad opgerig, Het Cradockse Nieuwsblad, wat die samespraak sou voortsit. Daarin is die volgende vier aflewerings geplaas. Op 6 April 1861 is dit as ‘n aparte boekie van 75 bladsye uitgegee onder die lang titel: Zamenspraak tusschen Klaas Waarzegger en Jan Twyfelaar over het onderwerp van afscheiding tusschen de Oostelyke en Westelyke Provincie. Toe dit omstreeks 1861 duidelik word dat die afskeidingsbeweging misluk het, het Meurant opgehou om daaroor te skryf en het die klein Cradockse “taalbeweging” tot ‘n einde gekom.

Meurant se stukke is oorgeneem deur ander Hollandse of tweetalige koerante soos De Zuid-Afrikaan en Het Volksblad. Dit was die eerste keer in dertig jaar dat De Zuid-Afrikaan weer Afrikaans gebruik het. Tot 1831 het dié blad en die Commercial Advertiser ‘n paar stukkies Afrikaans geplaas.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.