Slawerny in die VSA deur museumuitstalling ondersoek

Thomas Jefferson het geskryf dat: “alle mense gelyk geskape is” om die Amerikaanse onafhanklikheid van Brittanje te verklaar, maar hy was ‘n lewenslange slawe-eienaar, wat slegs nege van sy meer as 600 slawe vrygestel het tydens sy leeftyd.

Dié teenstrydigheid tussen ideale en die realiteit is die middelpunt van ‘n nuwe uitstalling wat Vrydag in die Smithsonian Institution open. Die instelling beplan intussen ook ‘n nasionale museum vir swart geskiedenis. Dit bied ‘n blik op Jefferson se Monticelloplantasie in Virginia deur die lewens van ses slawegesinne en artefakte wat opgegrawe is van waar hulle gewoon het.

Die uitstalling, “Slawerny by Jefferson se Monticello: Paradoks van Vryheid,” is tesame met Monticello ontwikkel en sal by die Nasionale Museum van Amerikaanse Geskiedenis tot middel-Oktober te siene wees. Dit sluit ‘n blik op die gesin van Sally Hemings, ‘n slavin, in. Die meeste geskiedkundiges glo sy het ‘n intieme verhouding met die derde president gehad, en dat hy die vader van haar kinders was.

Die museumdirekteur Lonnie Bunch het gesê sy personeel het hiermee idees getoets vir toekomstige uitstallings van die Nasionale Museum vir Afro-Amerikaanse geskiedenis en kultuur.

Dit is geskeduleer om in 2015 naby die Washingtonmonument te open.

Bunch het gesê museum-amptenare wil sien hoe die publiek reageer op onderwerpe soos slawerny, want hulle wil probeer om die geskiedenis aan te bied vir die wydste moontlike gehoor.

Slawerny, het hy gesê, is nog steeds die “laaste groot onnoembare” in die openbare diskoers, maar staan sentraal in die vorming van die Amerikaanse geskiedenis.

“Dit is ‘n storie wat ons weet moeilik gaan wees om te vertel en dit gaan ‘n uitdaging wees, maar hierdie nuwe museum het die storie om te vertel,” het hy aan Associated Press gesê. “Op baie maniere, is die Smithsonian die groot legitimiseerder, so as ons kan worstel met slawerny en Jefferson, kan ander mense ook.”

Kuratore wou nie onomwonde standpunt inneem oor die president en sy slavin se beweerde wit-swart verhouding nie, maar hulle toon dat dit waarskynlik ‘n intieme een was, wat gebaseer is op dokumentêre en genetiese bewyse.

Baie artefakte, waaronder gereedskap en kombuiskeramiek van slawegesinne op Jefferson se plantasie, sal vir die eerste keer aan die publiek vertoon word.

Terwyl sulke items gesien kan word deur 450 000 mense ‘n jaar by Monticello, is dit toeganklik vir miljoene besoekers by die Smithsonian, het kurators gesê.

In die uitstalling, word mondelinge geskiedenis van die afstammelinge van Jefferson se slawe openbaar deur verhale, saam met gedetailleerde rekords soos gehou deur Jefferson.

“Ons kan begin om slawerny te verstaan, nie as ‘n abstraksie nie, maar deur die stories van individue en gesinne wat oorleef het binne ‘n stelsel wat hulle menslikheid ontken het,” sê Leslie Green Bowman, president van die Thomas Jefferson-stigting.

Kuratore verken ook die belangrikheid van slawerny in die vroeë geskiedenis van die VSA en Jefferson se standpunte oor slawerny, wat hy ‘n “afskuwelike misdaad” genoem het.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.