Uitgewers, ook die swaer van Karl Marx

Louis Henri Meurant

Louis Henri MeurantDe Gereformeerde Kerkbode het van 1880 tot 1883 verskyn onder die naam De Christen en van 1884 tot 1932 as De Kerkbode. Tot in 1910 is dit uitgegee deur Van de Sandt de Villiers. B.J. van de Sandt (1798-1850) was die eerste Afrikaner wat drukker geword het. Hy het in 1809 as seun van elf jaar by die staatsdrukker begin werk en was van 1832 tot 1844 superintendent. Hy en sy vrou was kinderloos, en het die seun van haar jongste broer aangeneem, wat dieselfde naam as sy oom gehad het: B.J. van de Sandt de Villiers (1826-1878).

Nadat die kantoor van die staatsdrukkery gesluit is, het Van de Sandt en sy aangenome seun in 1845 met ‘n eie drukkery begin. Die firma het hoofsaaklik godsdienstige, regs- en politieke werke gedruk, maar ook literêre en natuurhistoriese boeke vir Kaapse firmas soos J.C. Juta. Juta was die eerste Suid-Afrikaanse uitgewer, en was getroud met Louise Marx, suster van Karl Marx. Marx was die geestelike vader van die Kommunisme. Die Marxe se ouers was uit Joodse rabbyngeslagte; hul moeder is in Nederland gebore. Juta het in 1853 Kaap toe gekom en ‘n florerende uitgewery en boekhandel opgerig.

Behalwe De Kerkbode het Van de Sandt de Villiers ook ander godsdienstige blaaie gedruk — as goeie sakeman sowel Elpis as De Onderzoeker en De Wekker wat in ‘n kerkstryd later in die eeu twee teenoorgestelde rigtings gesteun het! Sy invloedrykste publikasie was Het Volksblad. Dié blad het in 1849 begin verskyn en sowat ‘n jaar bestaan. Van 1858 tot 1886 het dit herleef.

Die vernaamste Hollandse koerant was nog De Zuid-Afrikaan wat van 1841 af twee keer per week verskyn het en van 1880 af drie keer. Teen 1834 was sy sirkulasie twee keer so groot as dié van die Commercial Advertiser. As teenvoeter vir Commercial Advertiser het ook gedien The Mediator wat in 1837 as onpartydige Engelse blad begin het, maar binne enkele maande tot De Mediator herdoop is en simpatiek was teenoor die Voortrekkers. Sy opvolger was De ware Afrekaan (1838-1842). Volgens die redakteur en eienaar R.H. Atkinson was dit die oogmerk om die Afrikanersaak te help teen die “Philippijnsche Factie”, dit is John Philip en medestanders. Die koerant het heelwat inligting oor die Groot Trek gepubliseer. Philip het ook onder skoot gekom by ‘n ander joernalis, Charles Etienne Boniface, wat ‘n tydjie lank die eerste redakteur van De Zuid-Afrikaan was en later in Natal by verskeie Hollandse koerantjies betrokke was. Boniface het Philip en die oordrewe matigheidsbeweging aangeval in De nieuwe ridderorde of de temperantisten (1832), die suksesvolste van sy toneelstukke. Dit was die eerste gepubliseerde oorspronklike drama in die land. Hy laat die bruin mense daarin Afrikaans praat — die eerste skrywer wat in sy literêre werk van die volkstaal gebruik gemaak het.

In die Oos-Kaap het die duisende Britte ‘n oorwegend Engelse stempel afgedruk op Port Elizabeth en Grahamstad sodat die lewenskragtige blad, The Graham’s Town Journal, eentalig Engels was en dit gebly het. Die oprigter en eerste redakteur was een van die eerste joernaliste wat Afrikaans as skryftaal gebruik het, Louis Henri Meurant — half-Switsers, half-Engels, maar gebore Kapenaar.

Александр Фильчаков Васильевич

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.