Selfbeskikking: Is Afrikaners ontsteld?

Deel op

In die moderne wêreld het etnisiteit as gronde vir selfbeskikking heelwat minder waarde as ʼn selfbeskikkingseis gebaseer op politieke eenheid. Dit blyk veral in die geval van Suid Afrika dat die internasionale gemeenskap nie die verskil tussen diskriminasie en selfbeskikking begryp nie. Dit is ʼn sensitiewe onderwerp by die Internasionale Menseregtekommissie en soortgelyke liggame wat hul bemoei met selfbeskikking. Polities is die Afrikaner as etniese groep vormloos, en ons Afrikaner politieke partye is visieloos.

Die fundamentele kriteria vir ʼn minderheidsgroep is gemeenskaplike etniese, godsdienstige en taal of kulturele eienskappe wat onderskeibaar is van die hoofstroomsamelewing. Castellino stel dit ook dat die minderheidsgroep solidariteit moet impliseer ter behoud van sy identiteit. Die definisie maak nie territoriale aannames nie en dit impliseer kompleksiteite waar die minderheidsgroep geografies verspreid is en wel regte wil opeis vir selfbeskikking. Daar bestaan verskillende vorme van selfbeskikking soos munisipale outonomiteit en konsosiasie wat ʼn minderheidsgroep kan beding maar die essense van selfbeskikking is sesessie. As die betrokke minderheidsgroep egter in diaspora is, sal sesessie moeilik haalbaar wees.

Daar word baie gepraat en geskryf oor selfbeskikking maar ek kon nie enige bewyse kry waar enige Afrikanerorganisasie grondgebied geïdentifiseer het of ʼn formele eis vir selfbeskikking ingedien het by nasionale of internasionale strukture nie.

Die meerderheid outeurs is dit eens dat ʼn eis tot selfbeskikking erge onrus teweegbring. Die meerderheid selfbeskikkingsbewegings is verklaarde en gelyste terroriste-organisasies. Die wêreld het egter niks van ons te vrees nie. Afrikaners self ook nie. Geen Afrikanerorganisasie is gelys nie. Waar laat dit die Afrikaner?

Afrikaners word geteister met marginalisering, plaasmoorde, kulturele vernietiging, maatskaplike ellende, ontkenning van Afrikaans. Die vraag is wanneer raak die situasie onhoudbaar? Tot watter punt moet die Afrikaner uitgemoor, gemarginaliseer, verneder en vernietig word voordat Afrikaners mobiliseer? Steeds sien ons geen gestruktureerde standpunte of mobilisasie nie. Wat is die rede? Is die onhoudbare punt nog nie bereik volgens die kollektiewe mening nie of is die Afrikaner reeds vernietig?

Johann Wingard het al dikwels die opmerking gemaak dat volkswil ontbreek by Afrikaners. Daarmee kan hierdie skrywer net saamstem. Solank die Afrikaner, ongeag die diversiteit van die groep, nie ʼn gemeenskaplike volkswil demonstreer vir selfbeskikking nie, gaan daar niks van kom nie. Dit bly ‘n enigma waarom bestaande Afrikanerstrukture nie die geleentheid aangryp om Afrikaners te mobiliseer tot weerstand nie. Oproepe in die verband bly onbeantwoord

Die VN-resolusies, Internasionale Geregshofuitsprake, konstitusionele demokratiese voorbehoude, liberale uitgangspunte waar individuele vryheid bo groepsvryheid gestel word, is alles manifestasies van ontmoediging van selfbeskikkingseise. Demokrasie is nie ‘n onding nie, dit is die misbruik van demokrasie wat ellende veroorsaak..

Een van die Afrikaner politieke leiers het in 1997 gewaarsku teen gevare om deel te neem aan die sentrale politieke gesag. Die gevolg daarvan is dat “leiers” mag afsien van hul einddoelwitte. Die algemene Westerse uitgangspunt is dat deelname aan of verteenwoordiging in die sentrale regeringsgesag belangrik is vir ʼn minderheidsgroep wat selfbeskikking ingedagte het. Dit is egter duidelik dat die uitgangspunt slegs die verwronge beleidsrigtinge van internasionale organisasies en strukture ondersteun. Die effek is blatante ignorering en onderdrukking van selfbeskikkingsbewegings. Derhalwe word konstitusionele selfbeskikking as die enigste haalbare alternatief voorgehou en word dit afgedwing en onderhou deur state.

As gevolg van ʼn gebrek aan georganiseerde Afrikanerleierskap neem die meerderheid Afrikaners deel aan alternatiewe politiek van die dag. Dit is die enigste alternatief wat aan Afrikaners beskikbaar is. Daarmee saam is die daaglikse frustrasies wat ondervind word wanneer interaksie met die regering en besighede plaasvind. Afrikaners is uitgelewer aan regstellende aksie en SEB-kreature wat meesal onbeholpe, onbevoeg, blatant anti-wit en subversief is. Die effek is sigbaar in die toestand van die landsadministrasie en dienste.

Die onomwonde realiteit is dat Afrikanervryheid nie deur ʼn gepratery gaan realiseer nie. Vir optrede het ons strukture en organisasies nodig met politieke wil om Afrikaners en blankes in die breë te mobiliseer en deelname te skep om Afrikaner selfhandhawing te bewerkstellig.

Dr Verwoerd het op 18 November 1961 gesê “Laat ons ons alleen ontstel as daar nie in ons genoeg vegkrag en werkkrag en denkkrag is om dit te oorwin wat in ons pad gegooi is nie” (Pelzer 1966:596).

Is Afrikaners ontsteld?

лобановский александр дочь

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.