Hollandse koerante in die Kaapkolonie

Abraham Faure
Deel op

Abraham FaureBaie Kaapse Afrikaners was omstreeks 1855 nog onverskillig teenoor die politiek en die verontregting van hul taal. Die Engelssprekendes wat aktief was in die politiek, was bang dat die Afrikaners hulle sou oorheers. So was baie Engelssprekende liberale in die westelike distrikte gekant teen die bepaling dat alle mans kon stem, mits hulle eiendom van £25 besit. Hulle was bevrees dat daar te veel Afrikaners op die kieserslys sou kom! In die oostelike distrikte was die Engelssprekendes teen dieselfde bepaling, maar omdat dit volgens hulle aan te veel swart en bruin mense die stemreg sou gee. Die meeste Wes-Kaapse Afrikaners was tevrede met die £25-bepaling en het geen beginselbeswaar daarteen gehad dat swart en bruin mense sou kon stem nie. Dit was ook die standpunt wat geseëvier het.

Die Kaap het in 1853 verteenwoordigende bestuur gekry — ‘n wetgewende raad en ‘n wetgewende vergadering kon wette maak, maar die goewerneur en ander hoë amptenare het die meeste regeringsmag besit. Die Afrikaners het nietemin polities onverskillig gebly. Een rede daarvoor was dat hulle nie hul taal in die parlement mog gebruik nie. De Zuid-Afrikaan het aan kiesers die raad gegee om geen lid parlement toe te stuur wat nie Engels kan praat nie. Die afdeling Albert het hom nie daaraan gesteur nie en ‘n eentalige, J.A. Kruger, gekies. Hy het op 16 Mei 1856 vergeefs verlof gevra om Hollands in die wetgewende vergadering te praat. In die volgende paar jaar het kiesers van Albert in ‘n hele paar petisies versoek dat sowel Hollands as Engels erken word, telkens vergeefs.

Hoewel Hollands uit die openbare lewe geweer is, het verskeie blaaie daarin verskyn. Die energieke dr. Abraham Faure wat Het Nederduitsch Zuid-Afrikaansch Tijdschrift opgerig het, het in 1838 begin met De Honingbij, wat die godsdiens moes bevorder. Dit is in 1849 op aandrang van veral ds. G.W.A. van der Lingen van die Paarl vervang deur die kerklike nuusblad De Gereformeerde Kerkbode. Faure was ook daarvan die redakteur. Dit het in 1852 die amptelike orgaan van die NG Kerk geword, hoewel dit eers van 1884 af as lyfblad van die kerk dien. Die Kerkbode bestaan vandag nog.

Dr. Faure was, behalwe redakteur, ook ‘n kerkhistorikus, sendingman en groot prediker, en was van 1822 tot 1867 by die Groote Kerk, Kaapstad. As biblioteekpionier was hy in 1853 stigter van ‘n boekvereniging wat duisende stigtelike boeke oor die hele land versprei het. Hy was een van die predikante wat die Groot Trek veroordeel het omdat hy dit beskou het as ‘n opstand teen ‘n owerheid wat deur God ingestel is. Kort ná die anneksasie van Natal het die Kaapse goewerneur, sir George Napier, Faure daarheen gestuur om by die Boere ‘n beter gesindheid teenoor die Britse bewind te skep. Hy is hartlik ontvang maar het in sy eerste diens heel ontaktvol vir koningin Victoria gebid. Toe die trekkers agterkom dat die Kaapse regering hom gestuur het, het sy sending op ‘n mislukking uitgeloop en twee ouderlinge van Weenen het hom in kennis kom stel dat daardie gemeente hom nie sou ontvang nie.

данильченко юрій броніславович

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.