Geboorte van die Boererepublieke

Napoleon III
Deel op

Napoleon IIIDie neerlaag by Boomplaats het Pretorius se aansien as Voortrekkerleier kwaai geknou. Hy het egter voeling behou met die Afrikaners suid van die Vaalrivier, en het die gebeurtenisse in Suider-Afrika so goed beoordeel dat hy die nuwe politieke situasie kon benut wat teen 1851 ontstaan het. In die Kaap was die agtste grensoorlog (1850-1853) aan die gang, die Basotho het maj. Warden by Viervoet verslaan, terwyl Mosjwesjwe Pretorius ‘n bondgenootskap teen Brittanje in die Oranjerivier-Soewereiniteit aangebied het. Daar was gerugte van ‘n Zoeloe-opstand in Natal.

Buitendien was daar in Europa dinge aan die gang wat die Britte verontrus het. Frankryk het ‘n nuwe staatshoof gekry: Napoleon III, ‘n broerskind van Napoleon, wat aan die begin van die eeu so ‘n bedreiging vir Brittanje was. Die Britte het die nuwe Franse keiser gewantrou. Die wantroue het skaars gewyk of die optrede van Rusland het spanning veroorsaak. Dié land het so teenoor Turkye opgetree dat Frankryk en Engeland in 1854 oorlog teen Rusland verklaar het. Dit was die Krimoorlog wat in 1856 met die Vrede van Parys beëindig is. In die stuk of tien jaar van onrus en spanning was Engeland sterk gekant daarteen om sy gesag in Suid-Afrika uit te brei. Vir die Afrikaners was dié Britse onwilligheid ‘n groot geluk. G.D. Scholtz sê dat Napoleon III eintlik die meeste van almal gedoen het om te sorg dat die Britte die onafhanklikheid van die Transvaalse en Vrystaatse republieke erken.

Maar die erkenning het nie vanself gekom nie. Vroeg in 1852 is Pretorius aan die hoof van ‘n afvaardiging na die plaas van Piet Venter aan die Sandrivier om twee Britse kommissarisse te ontmoet. Daar het die Britte die onafhanklikheid van die gebied noord van die Vaalrivier erken. Dit is op 17 Januarie 1852 so beskryf in die Sandrivier-konvensie. Vir die eerste keer sedert die Groot Trek begin het, kon die trekkers dan kry wat hulle so lank wou hê: ‘n onafhanklike staat.

Pretorius se ideaal was dat die Oranje die suidgrens van die onafhanklike gebied moes wees. In die eerste maande van 1853 was daar bespiegelings dat die Britte die gebied noord van die Oranje aan die Afrikaners wil terug besorg. Pretorius het koningin Victoria gevra om “alle gronden” wat vroeër aan die Voortrekkers behoort het, terug te gee. Ondanks kwaai teenstand van die Engelse van Bloemfontein het sir George Clerk en die republikeinse verteenwoordigers op 23 Februarie 1854 die Bloemfontein-konvensie onderteken en het die Oranje-Vrystaat tot stand gekom.

Dié teruggawe het Pretorius nie beleef nie. Op 23 Julie 1853 is hy oorlede — sewe maande ná die dood van Hendrik Potgieter op 16 Desember 1852. Die twee groot leiers is op 16 Maart 1852 op Rustenburg met mekaar versoen. Op dié dag het die Volksraad vergader en die Sandrivier-konvensie goedgekeur. Oor ‘n geopende Bybel het Potgieter en Pretorius mekaar die broederhand gereik.

As die Groot Trek ‘n rebellie was soos die Britse owerheid en die meeste NG predikante dit beskou het, was dit ‘n geslaagde opstand. Hoewel die trek die posisie van Afrikaans in die Oos-Kaap verswak het, het dit gehelp dat dié taal noord van die Oranjerivier uitbrei. Hollands het daar die amptelike of hooftaal geword. Het Engelssprekendes die gebied die eerste beset, was Engels van die begin af die hooftaal in die grootste deel van die land.

Фильчаков Харьков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.