Die wit poppekas

Deel op

Afrikaners ondersteun die DA omdat Helen Zille ‘n moeilike tannie is. Laat ons nou maar nie daaroor twyfel nie. Hulle gee werklik nie om of sy Duits, Engels, of ‘n voormalige Black Sash-aktivis is nie. Om die waarheid te sê, die  jonger geslag weet in elk geval te min van die geskiedenis om te verstaan hoekom enige van daardie aspekte problematies is. Die oueres se besluite word ook nie meer deur die verlede beïnvloed nie. Vir hulle is dit net nie meer relevant nie.

Wat hulle wel ís, is die bliksem in. Hulle is, om dit nou maar kru te stel, de móér in vir ‘n ANC-regime wat hulle om elke hoek en draai en sommer in die oopte óók verneuk. Boonop is hulle siek en sat vir misdaad. Vir die gemiddelde Afrikaner is die ANC waarskynlik die simbool van alles wat verkeerd in SA is – en met reg.

Ek dink stellig dat bitter min Afrikaners en amper net so min Engelse omgee vir die DA se multikulti- smeltkroesideologie. Om die waarheid te sê, ek vermoed dat die benardheid wat swart regering oor SA gebring het, die gemiddelde witte tot sulke raserny dryf dat die meeste in mindere of meerdere mate woede teenoor die huidge bestel koester. Hóé anders verduidelik mens dat 20% van blankes reeds die land verlaat het?

Dis hoekom Helen Afrikaners se steun het. Eintlik was dit Tony Leon wat reeds daardie insig gehad het met sy “Gatvol”-veldtog. Hoe ironies tog dat juis die Progge dít, wat niks anders as “regse” woede is nie, vir eie gewin uitgebuit het.

Die DA se ambisies oortref egter wat sy blanke ondersteuningsbasis se demografiese perke kan oplewer en daarom moet die party nou verswart. Dit hang natuurlik ook saam met die oorname van die party deur die sosialistiese faksie. Terwyl Tony Leon, Athol Trollip e.a. die Houghton- kapitalistiese faksie verteenwoordig het, was Helen Zille eintlik nog altyd ‘n heimlike sosialis. Om die hele spulletjie bymekaar te hou, moes ‘n ware eierdans kos. Sy sug sekerlik van verligting noudat dit tot ‘n einde kom. Met die opkoms van mense soos Mazibuko, Wilmot James, Patricia de Lille e.a. neem die swart sosialiste finaal die party oor.

Dit linkswaartse verskuiwing van die DA sal Afrikaners nie onmiddellik pla nie. Dit vat maar lank voordat ons goedgelowige ou volkie enige onraad vermoed. Kort naá die opkoms van Cope, wat wesenlik ‘n wegbreekfaksie van die ANC was, het heelwat Afrikaners dit as die hoop vir ‘n nuwe regering gesien. ‘n Linkse DA sal heelwat verkeerd moet doen voordat Afrikaners daarvan sal afstand doen.

Teen 1994 was die DP en die VF albei maar bitter klein.  Dis moelik om te glo, maar die VF (2,17%) was destyds groter as die DP (1,73%). Die DP en sy opvolger (DA) het die pad van konfrontasie met die ANC gekies. Dit het tot Afrikaners en bruines gespreek en vandag is dit ‘n 24%-party. Die VF het die pad van “samewerkende opposisie” gekies. Dit was ‘n rampspoedige strategie wat beteken dat die party op groot skaal deur sy eertydse ondersteuners verlaat is. Ná die onlangse plaaslike verkiesings staan die party op 0,5%. Met die DA wat dus met 1 387 % gegroei het en die VF wat met  77% gekrimp het, glo ek dis duidelik dat konfrontasie ‘n beter strategie as “samewerkende opposisie” is.

Die VF se leierskap het geen insig in Afrikaner- politieke sentiment getoon nie. Die party wil aan die Afrikaner voorskryf eerder as om na die Afrikaner te luister. Keer op keer het die Afrikaner se steun aan die DA getoon dat die volk konfrontasie verkies en tog het die VF lynreg teen hierdie logika ingegaan.

Pieter Mulder probeer aan die volk vertel dat hy agter die skerms hardekwas is, maar die party se krimpende ondersteuning toon dat die volk dit nie koop nie. Verbysterend genoeg kan die VF dit nie begryp nie.

Afrikaners ondersteun in elk geval nie meer Afrikanerpolitiek nie. Naspers en die SABC het dit suksesvol gediskrediteer. Afrikaners se politieke strategie is gereduseer tot my “vyand se vyand is my vriend”.  Die volk streef nie meer na ‘n volksparty nie en Afrikanerselfbeskikking is nie iets wat ernstig opgeneem word nie. Afrikanerpolitiek het doodgewoon geloofwaardigheid verloor.

Omdat Afrikaners nóg ‘n Afrikanerparty soek nóg ‘n deeglike begrip van die proporsionele kiesstelsel het, stel hulle nie in ‘n klein etniese belange party belang nie. Hulle soek ‘n enkele sterk party wat die ANC kan teengaan. Hulle verstaan nie die potensiaal van ‘n eie party in ‘n opposiekoalisie nie. Dis net te ingewikkeld en boonop het die VF se deelname aan die ANC-regering daardie logika ondermyn.

Die VF kan nét homself vir sy ondergang blameer. Ek is daarvan oortuig dat daar ‘n kritieke uitbloeipunt is waar enige politieke party alle geloofwaardigheid verloor. Vanaf daardie punt is daar geen kans op herstel nie. Ek is van mening dat die VF reeds daardie punt oorgesteek het.

Daar is wel ‘n nuwe geleentheid aan die ontwikkel. Hierdie geleentheid word deels deur die ondergang van die VF en deels deur die linkswaartse verskuiwing van die DA geskep. Ongelukkig sal die DA nog verder links moet beweeg voordat dit noemenswaardige Afrikanerondersteuning gaan verloor. Tóg, die party moet bloot sy huidige linkswaartse momentum volhou en kort voor lank sal daardie punt bereik word.

Dit is my mening dat dit nou die tyd is om ‘n nuwe Afrikanerparty te begin. So ‘n party sal die idéé van Afrikanerselfbeskiking op ‘n konfronterende wyse nastreef. Dit sal spreek tot die VF se eertydse ondersteuners sowel as Afrikaners wat toenemend oor die DA en dus deelname aan die NSA ontnugter gaan word.

Ongelukkig glo ek nie dat so ‘n party tot stand gaan kom nie. Die hoogs gefragmenteerde aard van regse poltiek skep ‘n verlamming wat enige innovering om ‘n nuwe beweging op die been te bring in die kiem smoor. Maar, dan onstaan die vraag: “Watter belang het die deelname van blankes aan die NSA-sisteem nog enigsins?” Sommiges reken dat dit deel van ‘n strategie met vele fasette is. Ek het toenemend my bedenkinge. Dís immers wat die spotprentkunstenaar, Zapiro, jare gelede as die “Little white side show”  geskets het.

Фільчаков Олександр Васильович прокурор

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.