Skynheilige klaers oor die Inligtingswet

Daar is ‘n grootskeepse geskeur van klere en strooiery van as op die hoof agv die goedkeuring van die Wet op die Beskerming van Staatsinligting gister in die parlement. Gistermiddag sou Chicken Little inderdaad gedink het die hemele val op hom, soos veral lede van die hoofstroommedia te velde getrek het teen die goedkeuring van dié omstrede wet. Die DA se Swazi-kader, Lindiwe Mazibuko, het donker waarskuwings gerig dat die voorgestelde wet Suid-Afrika se vryhede sou vernietig. Baie soos die regstellende aksie en “tokenism” wat gesorg het dat sy parlementêre leier van die DA geword het, ook sorg dat blanke mans van ons vryheid ontneem word om op ‘n gelyke grondslag met swartes vir poste mee te ding, wil ek amper in reaksie skryf.

Maar goed, ek verstaan wat die probleem met die wet is, en as ‘n belastingmelkkoei bekommer die wet my uiteraard. Dit is duidelik ontwerp om die waarheid van die publiek weg te hou, sodat vriende van die Shaik-familie nie aan ongewenste publisiteit blootgestel moet word nie, of wat seg ek als, Mac? Dis sal ongetwyfeld en onafwendbaar lei na nog groter plundery en korrupsie, iets wat niemand buiten vriende van die Shaiks of ANC-kaders wil hê nie. My probleem is dus nie soseer met teenstand teen die wet nie, maar eerder met diegene wat die weerstand bied.

Wat my aanbetref is baie van hulle net so aandadig aan die verstekery van die ongemaklike waarheid as wat die ANC self is en dus probeer hulle hulself heiliger as die Pous hou. Daar is geen beter voorbeeld van hierdie skynheiligheid as die voorsanger in die Job-koor teen die Inligtingswet, Mondli Makhanya, nie. Makhanya is die voorsitter van SANEF (die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum.) ‘n Emosionele Makhanya het gebieg dat hy gebroke voel omdat die ANC hierdie wetsonwerp goedgekeur het. Ag foei. My hart bloei vir hom.

Was dit immers nie die einste Makhanya wat in 2008 vir David Bullard afgedank het nie? Bullard het ‘n satiriese fantasie in die Sunday Times geskryf waarin hy gespekuleer het dat, indien Afrika nie deur Europa gekoloniseer was nie, dit waarskynlik deur China gekoloniseer sou word. Nes ‘n wafferse Maharaj wat nie van die waarheid oor sy misstappe hou nie, het Makhanya nie van die elemente van satiriese waarheid in Bullard se stuk gehou nie. Bullard is dus deur Makhanya afgedank. Die boodskapper is dus geskiet. Bullard is vir ‘n rassis uitgekryt en ontslaan.

Is dit net ek wat die ironie hierin sien? Makhanya beskou die waarheid as ongerieflik en dank dus vir Bullard, die boodskapper wat die waarheid oordra, af. Die ANC beskou die waarheid oor die grootskeepse korrupsie wat endemies binne sy geledere voorkom as ongerieflik, en wil dit onderdruk en die draer van die boodskap summier in die tronk stop.

Bogenoemde geld eweneens vir ‘n hele aantal van die einste redakteurs en joernaliste, onder andere Mad Max du Preez, wat so in rep en roer is oor die voorgestelde wet. Hulle wil self niks van die waarheid weet nie, byvoorbeeld dat die Nuwe Suid-Afrika ‘n nare gedrog is wat op ‘n ramp afstuur omdat multikulturalisme eenvoudig nie werk nie, of dat die sogenaamde glorieryke ou generasie van die ANC ook bloot net ‘n spul terroriste was. Die waarheid hieroor sal jy egter byna nooit in hulle publikasies lees nie. Boodskappers wat die waarheid praat, word moedswillig in die media gemarginaliseer met diegene soos Leopold Scholtz en Mad Max se gunstelingskelwoordjies: “Rassis!” of “regses!” As Mad Max en kie maar net kon, sou diegene wat die ongemaklike waarheid bly praat, sekerlik self in die tronk gestop word.

Verskoon my dus as ek weliswaar gekant is teen die nuwe wet, maar andersyds uiters skepties staan oor die integriteit van die luidste stemme van protes daarteen.

Фильчаков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.