‘Liberale’ Rhodes en Smuts méér rasbehep

Deel op

Me. Helen Zille, die leier van die DA, is ’n tipiese Engelse Suid-Afrikaner wat oorloop van selfvertroue. Vandaar die gemak waarmee sy in haar artikel verlede week ’n swart lid van haar party, mnr. Masizole Mnqasela, van “Verwoerdianisme” beskuldig weens sy beswaar dat me. Lindiwe Mazibuko “soos ’n wit persoon klink”.

Soos William Faulkner gesê het: “Die verlede is nooit klaar nie. Dis nie eens verby nie.”

Dit geld veral in Suid-Afrika.

Zille mag dink dat die Anglo-liberale tradisie in die land hom nog nooit aan rassedenke skuldig gemaak het nie, maar sy is verkeerd. Genl. Jan Smuts en ander liberale denkers wat vierkant binne die Engels-Suid-Afrikaanse en Britse tradisie gestaan het, het ’n veel sterker siening oor ras en rasseverskille as Verwoerd gehad.

Sy beweer dat rasse- of etniese kwotas ’n begrip sou wees wat Verwoerd uitgedink het. Hiervoor beroep sy haar op ’n obskure artikel van Verwoerd wat hy blykbaar in 1937 in Die Transvaler gepubliseer het. In die stuk kla Verwoerd oor die hoë persentasie Jode in die Suid-Afrikaanse sakewêreld en professies, en doen ’n moontlike kwotastelsel aan die hand wat geleidelik ingevoer sou word, want, sê Verwoerd, “maatskaplike en ekonomiese kwessies word nie met die waai van ’n towerstaf opgelos nie”.

Zille se retoriese tegniek om swart nasionaliste met die “Verwoerdiaanse” teerkwas by te kom, ignoreer doelbewus die feit dat etniese kwotas in vele lande met veelvolkige of multi-etniese bevolkings toegepas word. In vele samelewings is daar gesofistikeerde minderhede wat ekonomies beter as ’n arm en onopgevoede meerderheid presteer. Hulle word dan aan etniese kwotas onderwerp.

Etniese voorkeurbeleide is daarom beswaarlik “Verwoerdiaans”. In sy klassieke studie, “Ethnic groups in conflict”, noem Donald L. Horowitz voorkeurbeleide in die volgende lande: Maleisië, die Eerste Nigeriese Republiek, die Suidelike Filippyne, Fidji, Sri Lanka, Indonesië en die deelstaat Andra Pradesj in Indië. Die VSA, waar regstellende aksie vandaan kom, kan ook by dié onvolledige lys gevoeg word.

In haar Engelse morele meerderwaardigheid vergeet Zille dat Cecil John Rhodes se standbeeld steeds in haar Kaapstad staan met die inskripsie: “Thy hinterland lies there.” Rhodes se opmerkings oor ras en etnisiteit was veel meer “rassisties” in ’n eietydse sin as enigiets wat Verwoerd ooit gesê het. In 1893 het Rhodes die berugte woorde geuiter: “Nege-tiendes van hulle (swartes) gaan hul lewens met handearbeid deurbring en hoe gouer dit aan hulle tuisgebring word, hoe beter.”

Dog, lank voor Verwoerd het die liberale Smuts reeds met die 1936-wet op grondbesit ’n stelsel van apartheid ingestel. In Smuts se Rhodes-gedenklesing, wat in 1929 in Oxford gelewer is, stel Smuts ’n stelsel van “parallelle ontwikkeling” vir die hele Brits-beheerde Afrika voor.

Smuts se lesing heet “Naturellebeleid in Afrika” en daarin spreek hy hom soos volg oor swart mense uit: “Die neger en negroïede Bantoe maak ’n aparte (distinct) menslike tipe uit waarsonder die wêreld armer sou wees. Dit het hoofsaaklik ’n kindertipe gebly, met ’n kindersielkunde en -beskouing.”

Volgens Smuts is die vader van dié beleid van “parallelle ontwikkeling”, wat grootliks ooreenstem met die Nasionale Party se latere “afsonderlike ontwikkeling”, niemand minder nie as Cecil John Rhodes. Smuts sê: “Hierdie beleid het sy oorsprong in Suid-Afrika, en wel in die beroemde Glen Grey-wet soos dié deur Cecil Rhodes opgestel is.”

Rhodes se Afrika-beleid het twee hoofbegrippe behels: “Blanke nedersetting om die staalraamwerk te verskaf en die prikkel tot ’n duursame beskawing, en inheemse naturelle-instellings om uiting te gee aan die besonderse Afrika-aard van die naturelle in hul toekomstige ontwikkeling en beskawing.”

Vir Smuts was “die hoofdoel van die Glen Grey-wetgewing… egter om die naturel sy eie instellings te gee vir selfontwikkeling en bestuur”.

Klink dit nie baie soos die eertydse “groot apartheid” nie? Maar Smuts, die vader van die Suid-Afrikaanse liberalisme, was ook ten gunste van aparte woonbuurte, want hy sê voorts: “In hierdie groot sake van ras, kleur en kultuur, kan alleen afskeiding van woonbuurte en parallel-instellings reg laat geskied aan die ideale van albei bevolkingsdele. Die stelsel is aangeneem en verwelkom deur die oorgrote meerderheid van die naturelle; dog ’n klein opgevoede minderheid wat ‘gelyke regte’ met die blankes eis, is daarteen gekant.”

Selfs J.H. Hofmeyr, Smuts se regterhand wat ’n reputasie as ultra­liberaal had en ten gunste van universele stemreg was, was gekant teen die vestiging van swart mense in en om die blanke stede. Helen Zille is insgelyks gekant teen “die in-bus” van Xhosas uit die Oos-Kaap na die Wes-Kaap, soos sy op ’n keer oor RSG gesê het. Dit klink amper na die soort teenimmigrasiestandpunt van die meer “regse” Europese partye.

Zille is hovaardig oor die IVP-LP mnr. Koos van der Merwe, wat sy “’n vorige lid van Andries Treurnicht se Konserwatiewe Party” noem “wat steeds rasse-identiteite op mense afdwing om te bepaal wat hulle kan en nie kan doen nie”. En tog het sy voor die munisipale verkiesing nie Solidariteit onder die voormalige KP-lid mnr. Flip Buys as politieke bedmaat geweier toe dié vakbond aangekondig het dat sy lede oorweldigend vir die DA gaan stem nie!

Het liberale Engelse soos Zille regtig morele lessies aan Afrikaners en swartes oor “Verwoerdianisme” te leer wanneer hul eie tradisie ewe skuldig aan koloniale en paternalistiese sienings as dié van Verwoerd was?

Hierdie rubriek verskyn ook in vandag se Rapport.

лобановский александр харьков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.