Die tyd vir net praat is verby

Onlangs het Solidariteit aangekondig dat hulle toekomsnavorsing gedoen het na verskilllende scenarios van die politieke en maatskaplike omstandighede wat vir Afrikaners voorlê.

Die doel van hul ondersoek is baie lofwaardig en is daarop gemik om ‘n strategie te ontwikkel waar Afrikaners ‘n positiewe bydrae tot die nuwe Suid-Afrika kan maak.

Op hul webwerf kondig Solidariteit aan dat meer as halfmiljoen Afrikaners die sogenaamde Delarey-scenario ondersteun. Ongelukkig is die lys organisasies wat die vergadering bygewoon het, die sogenaamde pre-1994 ‘jurassic park’ organisasies wat binne die nuwe bestel hul relevansie verloor het en nou sukkel om ‘n nuwe ‘raison d’être’ oftewel voortbestaandsdoel, te herontdek.

Die getalle lyk egter baie na die name van siele waarvan Nikolai Gogol, die Russiese skrywer in sy werk ‘Dooie Siele’ vertel; lang lyste name van mense wat reeds verdwyn het…

Die Afrikaner Burgerlike Netwerk, oftewel die ABN is gestig met Flip Buys van Solidariteit as voorsitter. Die ABN is dus de facto Solidariteit in ‘n nuwe baadjie getooi. Net soos in die geval met die FAK, sal dit waarskynlik ook deur die vakunie-inkomstestroom befonds word.

Dit skemer egter duidelik deur dat die waarskynlike doel van die ABN is om die reste van die ‘jurassicpark’-groepies in ‘n meer moderne gewaad van ‘fatsoenlike toekomsgerigte organisasies’ saam te snoer en om hulle weer ‘n bestaansdoel te gee.

Jacques van der Elst het reeds amptelik laat weet dat die Akademie vir Wetenskap en Kuns die ABN-stigtingsvergadering slegs as waarnemer bygewoon het. Ek vermoed hy was nie die enigste nie.

Met die die stigting van die ABN kan Solidariteit met reg die sprong van ‘n vakunie na ‘n Afrikanervolksbeweging maak en dit befonds sonder om sy inkomstestroom van sy veelrassige vakunielede op die oog af in gevaar te stel.

Hierdeur wil ek nie enigsins fout vind met dit waarmee Solidariteit besig is nie, maar wel met die vermoede dat die strategie ‘n aksieplan van Solidariteit en sy trawante is wat die sogenaamde regse groeperings spesifiek daarvan uitsluit. Dit is jammer en tragies dat PRAAG, die die Afrikanerfront, die Afrikaneralliansie, en vele ander, spesifiek van toekomsbeplanning van die Afrikanervolk uitgesluit word en soos die destyde Broederbondbesluite namens die Afrikaner geneem is. Dit is ook jammer dat Solidariteit alle uitnodigings van samewerking met ander Afrikanerorganisasies op hooghartige wyse ignoreer.

My ontleding is dat die oorlewing van die Afrikanervolk nie sonder die daadwerklike ondersteuning en bydrae van behoudende Afrikaners moontlik sal wees nie. Hulle is nie manteldraaiers nie, maar die die stille standvastige meerderheid wat hulle nie deur gereelde mediareklames en TV-saamtrekke laat mislei nie.

Die ABN se hoofdoel, volgens die Solidariteit webblad is:
“Die ABN fokus op Afrikaanse onderrig en opleiding van ʼn hoë gehalte; ʼn burgerlike nie-partypolitieke strategie teen die gevolge van die ANC se Nasionaal Demokratiese Revolusie; die vestiging van landswye belasting- en gemeenskapstrukture; projekte om die Afrikaner se geskiedenis in perspektief te stel en sy erfenis te bewaar; die skep van ʼn regsplan om burger- en kultuurregte te beskerm; die oprigting van selfdoeninstellings op sleutelgebiede; en die formulering van ʼn plan om buitelandse steun te werf vir groter kulturele vryheid vir Afrikaners in lyn met moderne VN-standaarde.”

Dit is die onderstreepte woorde wat hier van belang is, want vandag word daardie taak aangespreek deur ‘n groep mense wat buite die Solidariteitdampkring staan.

Regdenkende Afrikaners sal die ABN se breë oogmerke fisies, moreel en finansiëel kan ondersteun. Die knoop lê egter met die uitvoering van die onderstreepte sin.

Reeds voor 2000 werk die Nasionale Belastingbetalersunie, onder leiding van mnr. Jaap Kelder van die NBU, aan die vestiging van belastingbetalersverenigings regdeur die land en tans is daar bykans 200 aktiewe BBV’s stewig gevestig. Hulle wil nie deel van die ABN se planne wees nie, nog minder will hulle by Afriforum aansluit. Hulle wil hul eie ding op hul eie manier doen en wil nie aangesê word deur ander nie. Om nuwe Afriforumbeheerde gemeenskapsrade op dorpe te stig sal nie net waansinnig wees nie, maar ook totaal verwarrend omdat dit verdeling op plaaslike vlak tot gevolg sal hê.

Die kern van die BBV’s is die begrip van direkte demokrasie waar geen politieke party of kwasie-politieke bewegings enige rol speel nie, maar slegs die belangepolitiek van die plaaslike inwoners.

Wanneer politieke partye of sogenaamde nasionale volksbewegings betrokke raak word die breë ideaal om inwoners te bemagtig en betrokke te kry, ondergeskik gestel aan die eng fokus van party lojaliteit en organisasiebelang.
‘n Langdurige spanning ontstaan onvermydelik tussen belastingbetalers en politieke partye, wat in belastingweerhouding, hofsake, dispute en antagonisme manifesteer.

Derdevlak regering wat volgens politieke partylyne funksioneer, skep ‘n onhoudbare situasie deurdat die lojaliteit van partykandidate vir eie oorlewing noodwendig by hul party lê. Die belange van die belastingbetalers is dus ondergeskik aan die belange van die regerende party.

Dit is met hierdie doel voor oë dat die Nasionale Raad vir vir die Bevordering en die Beskerming van Grondwetlike Burgerregte op die Plaaslike Owerheidsvlak Saterdag, 12 November in die Lynnwoodse NG Kerksaal gestig gaan word.
Die doel van die NBR is die beskerming van grondwetlike regte op die plaaslike owerheidsvlak. Dit sal as die Nasionale Burgerregte Raad of NBR bekend staan. Daar is geen oorvleueling tussen wat die NBR beoog en wat die ABN in gedagte het nie, behalwe dat die rolspelers nie lede van die ABN is nie, maar gewone bewese plaaslike leiers wat die rol reeds vervul wat die ABN vir homself wil toeeïn.

‘n Handves van burgerlike regte, wat streng volgens die land se grondwet opgestel is, sal help dat gemeenskapsregte op die Plaaslike Owerheidsvlak beskerm sal word. Die Raad sal a-polities wees, sal onafhanklik van Solidariteit of enige ander groepering wees, en sal sy befondsing suiwer van sy plaaslike gemeenskapsrade, sakeondernemings en internasionale agentskappe verky. Geen politieke ampsdraer mag op die Raad dien nie.

Die Raad sal ‘n statutêre Raad, geregistreer by die 185-Kommissie wees, wat volgens die bepalings van die land se grondwet opgerig is om die regerende partye te oortuig dat die plaaslike inwoners die mees bevoegde persone is om na hul eie sake om te sien.

Daardeur sal alle grondwetlike middele tot sy beskikking gebruik word en sal die Raad hom slegs in uiterste gevalle tot die land se howe wend.
Die uitdaging wat nou aan die ABN gerig word is om hierdie lofwaardige saak moreel en fisies te steun en om dit as ‘n hoeksteen van die breër prentjie te beskou.

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.