Simboliese nydigheid jeens die Afrikaner

Die onlangse nuus oor die geldelike probleme van die Voortrekkermonument het beklemtoon wat ons reeds lankal weet: dat die staat, wat Afrikaners voor die voet belas, onwillig is om enige fondse aan die onderhoud van die Afrikanererfenis te bestee. Terwyl miljarde rande verlore gaan aan korrupsie, selfverryking, wanbesteding, Afrika- of “swart prestige”, en selfs skenkings aan ‘n landjie soos Swaziland.

Die staat se vyandigheid teenoor die Afrikaanse taal, kultuur en erfenis spruit egter uit iets diepers, naamlik uit die tradisionele Afrikanerhaat of Boerehaat wat sekere groepe in Suid-Afrika reeds eeue lank teenoor ons volk voel. Terwyl daar boeke vol geskryf is oor antisemitisme, rassisme, misogenie en soortgelyke onderwerpe, bestaan daar nêrens enige studies oor Afrikanerhaat waarvan ek weet nie. Op die oog af is die sielkunde of die sosiologie van Afrikanerhaat nog nooit bestudeer nie.

In my roman Moltrein het ek so geraak-raak aan die kwessie van Afrikanerhaat, asook die stereotipe van apartheid wat veral tydens die tagtigerjare die wêreld in gestuur is. In ‘n uiters onbillike en bevooroordeelde resensie oor my boek in Rapport, het die skrywer André P. Brink gepraat van die verteller in Moltrein se “afgesaagde, selfingenome oortuiging dat Boerehaat eintlik sy oorsprong in die antisemitisme het”. Eintlik het dit vir my gegaan oor die Europeërs se skuldgevoelens rondom die tweede wêreldoorlog en kolonialisme. In die Afrikaner het die skynheilige Europeërs ‘n gerieflike sondebok gevind.

Europa en die Westerse wêreld het ‘n groot fout gemaak deur die ANC-oorname in Suid-Afrika te ondersteun, te befonds en te orkestreer. Want, soos ons weet, het Suid-Afrika sedertdien een van die mees anti-Westerse lande geword. Nie net is ons deesdae lid van Brics nie, maar skaar ons ons gereeld aan die kant van China en die Afro-Arabiese blok in die VN téén Wes-Europa en Noord-Amerika.

In ons eie land het Afrikaner-oorgawe in 1994 nie tot die beloofde “versoening” en ‘n nuutgevonde ingenomenheid met die Afrikanerbevolking gelei nie. Inteendeel, gemeet aan die daaglikse voorvalle van redelose en verontmenslikende geweld teen ons mense, het Afrikanerhaat intussen toegeneem. Reeds klink die term “volksmoord” al hoe harder op oor die aanvalle op ons mense in hul huise en op plase deur ander groepe in die land.

Vanwaar die antipatie teenoor die Afrikaner wat ons so intens in Suid-Afrika ervaar? My antwoord daarop is dat dit spruit uit simboliese nydigheid. Dit klink na ‘n baie tegniese of sielkundige term, wat dit kan wees as ‘n mens dieper daarop ingaan. Op sy eenvoudigste behels dit egter ‘n jaloesie oor die Afrikaner se identiteit. Ons voorouers, juis omdat hulle soveel moes sukkel in die negentiende eeu en ‘n oorlog teen Brittanje verloor het, het al hul ywer in die Afrikaanse taal en kultuur gestort.

N.P. Van Wyk Louw het dit baie goed verstaan en het gemeen dat die Afrikanervolk ná 1902 ‘n “revolusionêre volk” was “wat… net na ‘n oorlog wat hy verloor het, gereed was om al sy regte stormenderhand te verower”. Die ongelooflike taalstryd wat ons in die twintigste eeu teen die magtige Engels gevoer het, het die Nederlandse skrywer Gerard Reve verstom. Slegs ‘n moderne en kragtige taal soos Afrikaans, gerugsteun deur ‘n grootse volksbeweging, kon so iets vermag.

Die twintigste eeu was vir Afrikaners die “goue eeu”, net soos die sewentiende eeu vir Nederland. Tydens die twintigste eeu het die geestelike monument van die Afrikaanse taal verrys, tesame met ons skole en universiteite, maar ook die vele tasbare Afrikanermonumente wat dwarsdeur die land te vinde is. Nou die dag het die sakeman Mario Pretorius op RSG dit betreur dat soveel van ons monumente vergete en verwaarloos geraak het. Daarom wil hy al die monumente op ‘n interaktiewe Google-kaart laat aandui sodat ons weet waar hulle oral is.

Ongelukkig het Afrikanerprestasie en die skepping van ‘n eie nasionale kultuur in die twintigste eeu ook afguns en nydigheid by die ander groepe in ons land gewek. Aanvanklik het die Engelse Suid-Afrikaners die opkoms van Afrikaans met ‘n soort verwaande irritasie bejeën. Toe die eerste Afrikaanse hoërskool in Johannesburg, Helpmekaar, deur ds. William Nicol rondom 1920 gestig is, het The Star sarkasties in ‘n hoofartikel Shakespeare aangehaal: “There is something rotten in the state of Denmark.” Vir The Star was alles wat Engels en Brits was, per definisie beter en alles in Afrikaans minderwaardig.

Maar soos wat die Afrikaanse kultuur en die Afrikaneridentiteit gegroei het, het ‘n groot identiteitskrisis onder die Engelse ontstaan, iets wat Afrikaners waarskynlik aanvanklik nie besef het nie. Was hulle steeds… Brits, of nou “Suid-Afrikaans” in ‘n sin wat grotendeels deur Afrikaners bepaal is? Veral die intellektuele en sake-elite het toenemend hatig op Afrikaners geraak. Uiteindelik is die mees ekstreme idees en middele teen Afrikaners omhels, soos kommunisme, terreur, selfs ‘n onuitgesproke volksmoord of kultuurmoord. Ons hou nie meer van hierdie nuwe, voortreflike, trotse Afrikaners nie. Daarom moet hulle weg!

Die Engelse intellektuele was in twee kampe verdeel: die radikale of ultraliberale soos Sheena Duncan of Helen Zille van die Black Sash en die kommuniste soos Denis Goldberg, Joe Slovo, Ruth First, Albie Sachs, Jeremy Cronin, Bram Fischer en ander. Albei kampe het egter een doel voor oë gehad: om die Afrikanerbeweging tot niet te maak deur ‘n alliansie met swart nasionaliste te smee.

Die sogenaamde “nasionale demokratiese revolusie” van 1994 was enersyds ‘n Sowjet-geïnspireerde begrip en andersyds ‘n etnies Engelse of Angel-Saksiese revolusie wat bedoel was om die invloed van Brittanje in Suid-Afrika te herstel. Vandaar ook die hertoetrede van die land tot die Statebond. Die kultuur van die NDR bestaan daarom uit die tradisionele “imperiale mistiek” rondom die Britse koningshuis wat deesdae eklekties of selfs sinkretisties met Marxisme-Leninisme gekombineer word.

Polities gesproke, verteenwoordig Helen Zille en Julius Malema twee sye van dieselfde munstuk. Die enigste verskil tussen die twee is dat hulle uitgangspunte deur twee verskillende brondokumente van die NDR bepaal word. Helen Zille se uitgangspunt is die Freedom Charter, met sy klem op sosialisme of sosiaal-demokrasie. Julius Malema en sy geesgenote beroep hulle egter, behalwe op die Freedom Charter, ook op die meer kommunistiese “Strategy and tactics”-dokument wat by die ANC se Morogoro-konferensie in Tanzanië (25 April tot 1 Mei 1969) vrygestel is.

In die verklaring deur die ANC se uitvoerende komitee, word daar verwys na “ons onmiddellike vyande, die wit fascistiese regime in Suid-Afrika”, maar ook na “die imperialiste” wat insgelyks die vyande van die ANC en SAKP op daardie stadium was. Onder “wit, fascistiese regime” moet ons benewens die destydse NP-regering, ook die Afrikanervolk as sodanig verstaan. “Die imperialiste” is ‘n kodewoord vir die Weste. Dat die Westerse lande hulself uiteindelik agter die pro-kommunistiese, pro-Sowjet-beweging van die ANC en SAKP geskaar het ten einde die NDR in ons land te verwesenlik, is een van die ironieë van die geskiedenis wat tans steeds besig is om voor ons oë af te speel.

In al die beleidsdokumente van die ANC word die NDR egter gesien as ‘n sosialistiese revolusie of as die aanvanklike fase van ‘n sosialistiese revolusie. In die denke van Marx en Lenin word die wêreldgeskiedenis immers gekenmerk deur die “onafwendbare” voortgang na sosialisme en kommunisme. Die Franse revolusie was ‘n blote politieke, “bourgeois” of “nasionale” revolusie terwyl die Oktoberrevolusie van 1917 in Rusland as ‘n allesomvattende “maatskaplike” revolusie beskou is. Leonid Bresjnef van die ou Sowjetunie het ook die ANC-term, “nasionale demokratiese revolusie”, gebruik en in sy woordeskat was dit van toepassing op derdewêreldlande wat onafhanklikheid van die koloniale moondhede verkry het.

Terwyl die ANC en SAKP hulself voortdurend in Marxistiese terme uitdruk, is die hele etniese, anti-Afrikaanse komponent van die NDR tot dusver deur feitlik niemand belig nie. Trouens, die ANC/SAKP het weinig sukses gehad om hul Marxistiese slagspreuke onder die gewone swartmense van Suid-Afrika te propageer en slegs die elite druk hulself in dié taal uit. Dit is hier waar die liberale bondgenoot inkom, wat op grond van sy eeue oue Afrikanerhaat uit die Britse koloniale tradisie die etniese inhoud van die NDR bepaal het.

Eintlik is dit ‘n lagwekkende geval van “jakkals trou met wolf se vrou”: die agterlike Engelse “liberale” met hul Boerehaatidees skaar hulle aan die kant van die Marxisties-Leninistiese revolusionêre van die ANC/SAKP. Duidelik is daar geen ideologiese eenheid in so ‘n begewing nie, slegs ‘n etniese eenheid as ‘n Afro-Saksiese alliansie téén die Afrikaner, ‘n soort pragmatiese haatpolitiek. Maar dan moet ons onthou dat die Britse imperialisme en die ou tsaristiese imperialisme van voor 1917 heelwat in gemeen had. Nie verniet het heelwat Russiese dissidente tydens die kommunistiese periode na Lenin, Stalin en ander as die “rooi tsaars” verwys nie.

Haat en nyd of jaloesie is nuttige politieke gevoelens. Vandaar die ongelooflike sukses wat die anti-Afrikaner-alliansie in Suid-Afrika gehad het. Die grondslag van daardie antipatie is egter die gebrek aan ‘n nasionale identiteit wat by beide alliansievennote spook, sowel die Engelse liberale met hul heimelike versugting na die Britse heerskappy van weleer as die linkse, Marxistiese vleuel wat in die ANC/SAKP saamgetrek is. Beide groepe is sonder enige noemenswaardige nasionale identiteit. Die nasionale demokratiese revolusie kan daarom geen aanspraak op enige onderliggende “nasie” maak nie, die angsvallige aanblaas van patriotisme rondom rugby en krieket ten spyt.

Terwyl dit in ander lande waar die Westerse kultuur bedreig word, sin sou maak om op grond van blanke afkoms te groepeer, kan so ‘n strategie in Suid-Afrika eenvoudig nie slaag nie. In die eerste plek stook die Britsgesindes in Suid-Afrika reeds bykans twee eeue lank gereeld die swartmense van Suider-Afrika teen die inheemse blankes of Afrikaners op. Gegewe die ongekende welslae van hul etniese Afrikanerhaatstrategie, wat in die nasionale demokratiese revolusie ‘n hoogtepunt bereik het, sou dit futiel wees om ‘n beroep op blanke rassesolidariteit tussen Afrikaners en Engelse te doen. By tye in die verlede het so ‘n beroep in mindere of meerdere mate geslaag, maar die Engelse elite het óf trou teenoor die Britse kroon gebly, óf hul gewig by die swart radikale en kommuniste ingegooi.

Pleks dat die Afrikaner sy identiteitstryd moet prysgee, soos wat deelname aan die liberale DA tans vereis, moet die stryd om ons taal, kultuur en identiteit verhewig word. Die risiko is dat Afrikanerhaat sal toeneem, maar die spanning wat dit in die Afro-Saksiese alliansie sou veroorsaak, mag insgelyks tot die ineenstorting van die huidige stelsel lei.

Фильчаков Александр Васильевич

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.