Nuwe botsings tussen Boer en Brit

Harry Smith
Deel op

Harry SmithNá ‘n besoek aan die Transgariep is die Kaapse goewerneur, sir Harry Smith, na Natal waar hy Andries Pretorius in Februarie 1848 ontmoet het. Smith het sy bes gedoen om Pretorius te laat afsien van sy plan om uit Natal te trek, en gesê dat hy van plan was om die Transgariep te annekseer omdat die meeste inwoners dit so wil hê. Pretorius het hom gewaarsku dat die meeste Afrikaners vry wil wees en dat anneksasie sou lei tot opstand of ‘n verdere trek. Volgens Pretorius het Smith toe besluit om met die anneksasie te wag totdat Pretorius die mening van sy volksgenote ingewin het. Tot sy verbasing het Smith op 3 Februarie 1848 die gebied tussen die Oranje, die Vaal en die Drakensberge as die Oranjerivier-Soewereiniteit geannekseer. Pretorius het besef dat sy mense die Britte net met geweld kan teenstaan. Op 8 April 1848 het hy Een algemene oproeping op hulle gedoen en verklaar dat hulle hulleself nie vry kan trek of vry kan vlug nie, maar vry sal moet veg.

Die grootste teenstand teen Andries Pretorius se idee van ‘n vryheidsoorlog het van sy medetrekkers noord van die Vaalrivier gekom, veral van Hendrik Potgieter. Teleurgesteld met hul houding, het Pretorius rustig gaan woon op sy plaas in die Magaliesberge in Transvaal.

In Junie 1848 het hy egter ‘n dringende versoek van die Winburgse Afrikaners ontvang. Hulle wou hê hy moes hulle lei in hul verset teen die Britse magistraat T.J. Biddulph. Pretorius het Winburg beset, en in Bloemfontein die Britse resident, majoor H.D. Warden, verjaag.

Sir Harry Smith het ‘n beloning van £1 000 (later verhoog tot £2 000) vir Pretorius se gevangeneming weens hoogverraad aangebied. Pretorius het dit as ‘n grap beskou en duisend beeste uitgeloof vir Smith se gevangeneming! Huiwerig om bloed te vergiet, het Pretorius teruggeval toe Smith met sy troepe die Oranje nader. Dit was ‘n ernstige flater, want so kon die Britte die rivier sonder teenstand met gomlastiekponte oorsteek. Pretorius het besef dat hy nie kon aanhou terugval nie, en het besluit om op Boomplaats tussen die huidige Trompsburg en Jagersfontein weerstand te bied. Op 29 Augustus 1848 het 300 Boere en 1200 Britte met mekaar gebots. Die Boere is gedeeltelik verraai deur wild wat geskrik en burgers wat te gou begin skiet het. Pretorius kon sy ongedissiplineerde mag nie bymekaar hou nie, en het noordwaarts padgegee soos van sy manskappe. Sewe van Pretorius se mag en 22 Britte het gesneuwel.

‘n Jong man Thomas Dreyer van agter die Magaliesberg het aan die geveg deelgeneem. Sy perd het geskrik en weggehardloop, en Dreyer, wat te voet was, is deur Griekwahelpers van die Engelse gevang. Hy is aangekla van gewapende verset teen sy “wettige vorstin”, die Koningin van Engeland. Die “arme seun”, vertel Pretorius later, is “vasgebind asof hy in die dag van sy lewe nie weer sou losgemaak word nie, en enige dae daarna deur ‘n sogenaamde krygsraad ter dood van ‘n gewonde offisier veroordeel”. Op 3 September 1848 is Dreyer gefusilleer saam met ‘n Britse deserteur. Pretorius het Dreyer se teregstelling ‘n “skreiend skandelike daad” genoem.

прокурор Фильчаков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.