Letterkunde en die nasionale demokratiese revolusie

Deel op

Die afgelope week of wat het daar ‘n soort onderonsie of relletjie hom tussen Afrikaanse skrywers afgespeel rondom die voortbestaan van die skrywersvereniging Pretoria-PEN. Tydens ‘n telefoongesprek tussen my en ‘n ander skrywer het hy die beswaar geopper dat ek “radikaal in die klassieke sin” sou wees.

Iewers in die sewentigerjare het ‘n sielkundige van Rhodes, ‘n Afrikaner, in die destydse lyfblad van die Progressiewe Party, Deurbraak, geskryf dat “die onvermoë om radikaal, of tot aan die wortel, te dink, een van die Afrikaner se swakhede is”. In dié opsig is die beswaarde skrywer ‘n tipiese Afrikaner, wat eerder die stroom volg en ‘n soort kleindorpse, kleinburgerlike vrees koester in die trant van: “Oee! Maar wat sal die mense sê?” Nie verniet nie het Flaubert sy grootse roman, Madame Bovary, van die ondertitel voorsien: “provinsialistiese sedes”.

‘n Tweede faktor wat my vandeesweek by hierdie onderwerp uitgebring het, is die nuwe Twitter-rekening wat ek geopen het, @afr_filosowe. Teken gerus daarop in. Sedert ek in die laat negentigerjare al hoe meer oor die stand van Afrikaans as taal en die Afrikaner se politieke posisie in die land – wat so nou daarmee verweef is – begin besin het, het ek daarvan bewus geraak dat omtrent alles oor Afrikaans en Afrikanerskap reeds iewers in die verlede gesê is. Die hele opkoms van Afrikaans as kultuurtaal is gekenmerk deur ‘n intense kollektiewe introspeksie, wat deur die groot geeste van die verlede soos JBM Hertzog, Van Wyk Louw, C.M. van den Heever, G.D. Scholtz en vele ander, gevoer is. Vanmôre val my oog op ‘n boek in my rak uit die vroeë sewentigerjare deur die geskiedkundige F.A. van Jaarsveld, Afrikaner quo vadis?, ‘n versameling kort essays wat aanvanklik as radiopraatjies bedoel was, maar waarvan slegs enkeles uitgesaai is. Terstond het ek drie aanhalings uit F.A. van Jaarsveld getwiet:

“Die Afrikaner staan voor die gevaar van selfvervreemding, verlies aan selfrespek, minderwaardigheid & vrywillige prysgawe. – FA vJaarsveld 1971”

“Kennis van die verlede kom nie meer deur oorlewering nie, maar deur te lees, wat geestelike inspanning vereis. – FA van Jaarsveld”

“Die Afrikaner het nie kultureel uitwaarts beweeg wat sy taalhandhawing, sy eiewaarde, selfvertroue & persoonlikheid betref nie. – FA vJaarsveld”

Hierdie drie sinne, wat ek vir die doeleindes van Twitter se 140 karakters effens moes verkort, is presies veertig jaar gelede geskryf, maar is vandag nog ewe geldig, ondanks al die veranderinge wat intussen plaasgevind het. Die “vrywillige prysgawe” waarvan hy praat, het hom die afgelope twee dekades herhaaldelik afgespeel, vanaf Roelf Meyer se aanvaarding van die sogenaamde “Pretoria-minuut” tot Agri-SA se instemming tot grondhervorming of die Afrikaanse universiteite se angsvallige transformasie tot multikulturele, hoofsaaklike Engelstalige instellings.

Dieselfde proses van kollektiewe introspeksie soos wat Afrikaanse skrywers en filosowe die afgelope eeu bedryf het, is waarskynlik in elke taal en kultuur ter wêreld gevoer, soos wat mense tot selfbewussyn gekom het en nie meer Latyn nie, maar hul eie tale begin skryf en lees het. In die twintigste eeu het ons die verbrokkeling van die groot ryke ervaar, waardeur ‘n hele swetterjoel politieke en kulturele nasionalismes vrygestel is. Letterkunde en nasionalisme gaan hand aan hand.

Iewers het ek seker al die volgende woorde van die Duitse filosoof Peter Sloterdijk aangehaal, uit die Nederlandse vertaling waaroor ek beskik: “In essentie was het burgerlijke humanisme niets anders dan de volmacht de jeugd de klassieken op te dringen en de universele geldigheid van nationale geschriften te postuleren. Daarmee zouden de burgerlijke naties zelf tot op zekere hoogte literaire en postale producten zijn – ficties van een door het lot bepaalde vriendschap met verre landgenoten en met lezers, verbonden in sympathie voor auteurs die tot gemeenschappelijk bezit worden gerekend.”

Sloterdijk verwys verder na militêre diensplig vir jong mans waaruit insgelyks ‘n nasie of volk gevorm word. Terwyl albei geslagte op skool die literêre kanon moet bestudeer, word seuns of jong mans verder verplig om in die weermag in patriotisme en ‘n nasionale bewussyn geskool te word. Dit kan beskou word as “die Romeinse model”, want uit klassieke Rome het hierdie manier van doen na die hele Westerse wêreld oorgespoel. Dié opmerkings van Sloterdijk verskyn in ‘n boek, Regels voor het mensenpark, wat oorspronklik ‘n hele herrie in Duitsland en heftige repliek van die neo-Marxistiese filosoof Jürgen Habermas, veroorsaak het. Onder meer het Sloterdijk die stelling gemaak dat die mens “getem” of tot orde gebring moet word, wat sekerlik indruis teen die linkse of Rousseauïstiese tradisie wat wil hê dat die mens “goed gebore” is, maar deur die beskawing bederf word.

Ek is geneig om met Sloterdijk saam te stem, want die “verwildering” van die mens onder toestande van anargie en wetteloosheid, is ‘n reële probleem. Golding se roman Lord of the flies wat in Afrikaans as Ryk van vlieë vertaal is, beeld verwildering in ‘n natuurstaat baie goed uit. Ons lees elke dag van gruweldade wat in ons eie land gepleeg word deur menslike fauna wat lank nie meer “getem” word nie.

Maar terug by radikalisme, die bête noire van ons beswaarde skrywer. Die Marxisme in al sy vorme is ‘n radikale leer wat nasionale revolusie – ook die nasionale demokratiese revolusie (NDR) van die ANC – en selfs wêreldrevolusie ten doel het. In 1989 het die Marxisme in Oos-Europa ‘n groot terugslag beleef, maar in enkele lande ter wêreld, soos Kuba, Noord-Korea, China en les bes, Suid-Afrika, is dit nog springlewendig. Die Amerikaanse universiteite, veral die fakulteite van geesteswetenskappe, verkeer insgelyks in die greep van een of ander “kulturele Marxisme” na die sogenaamde Frankfurtskool van Marcuse, Horkheimer, Adorno en hul dissipel, Habermas. Weens die invloed van Engels en die VSA op Suid-Afrika, kan ons met vrymoedigheid konstateer dat die meeste Suid-Afrikaanse universiteite ook lank reeds deur die heersende ideologie van kulturele Marxisme en revolusie verower is.

Marquez het ‘n nie-onaardige novelle met die titel Die liefde in ‘n tyd van cholera geskryf. In Suid-Afrika kan ons egter praat van “Letterkunde in ‘n tyd van revolusie”. Die radikalisme van die proses wat ons oorgekom het, veroorsaak dat alle veronderstellings, selfs ons kollektiewe en persoonlike identiteit daardeur bevraagteken word. Ons het gesien hoe die bestaan van die Afrikaanse letterkunde en van die meesal Afrikanerskrywers wat dit geskep het, deur sowel die staat as linkse of neo-Marxistiese akademici betwyfel word. Aan die Universiteit van New York byvoorbeeld, is daar ‘n professor van vergelykende letterkunde, Mark Sanders, wat in sy boek Complicities: The Intellectual and Apartheid (2002) ‘n berekende aanval op Van Wyk Louw as “apartheidsintellektueel” doen, waarin hy steun op prof. Gerrit Olivier van Wits se proefskrif oor Louw.

Sekere Afrikaanse skrywers, noem hulle maar die “verlooptes” (soos Antjie Krog?), wat ondersteuners van die nasionale demokratiese revolusie is, het ook reeds die begrip “Afrikaanse letterkunde” gerepudieer. Al wat nou oorbly, is die Engelstalige “South African literature” wat homself sedert die tagtigerjare as “anti-apartheidsletterkunde” gekonsipieer het en sy diachronie parallel met die ANC-geskiedenis afbaken, met as belangrike datums 1912 (stigting), 1955 (“Freedom Charter”), 1969 (Morogoro-konferensie) en 1994 (oorwinning).

Volgens die denke van die nasionale demokratiese revolusie, is alles wat Afrikaans is, selfs ons standaardtaal of die Akademie se Afrikaanse woordelys en spelreëls, ‘n blote “konstruksie” van regse en rassistiese Afrikanernasionaliste. Ek meen prof. Hein Willemse van die Afrikaanse departement aan die Universiteit van Pretoria en redakteur van die Tydskrif vir letterkunde, het reeds hierdie standpunt ingeneem, in sy bydrae tot Perspektief en profiel. Daarin vewerp hy die kanon van die Afrikaanse letterkunde as ‘n apartheidskanon. Die enigste letterkunde van waarde is op die oog af dié van die “voorheen benadeeldes” wat hulle op allerlei maniere teen apartheid uitgespreek en sodoende ‘n versetsletterkunde geskep het.

So spreek die hoogleraars uit die leerstoele aan die “voorheen Afrikaanse universiteite”! Onlangs het ek ook ‘n gesprek met prof. Adam Habib gehad. Hy is tans die viserektor van “Joe-djy”, die voormalige RAU. Volgens hom sal daar nooit weer ‘n Afrikaanse universiteit wees nie, maar sal Afrikaans “as taal” wel iewers aan sekere universiteite gedoseer mag word. Daarvoor moet ons seker ons hande in dankbaarheid saamslaan.

Die vraag wat my interesseer, is egter: Hoe reageer ons op die nasionale demokratiese revolusie wat ons op alle gebiede oorspoel en wat ook reeds die Afrikaanse letterkunde as “apartheidsmaaksel” tot “die asblik van die geskiedenis” – om Trotski se gevleuelde woorde te gebruik – verdoem het? Enersyds kan ons poog om, meesal sonder instellings of befondsing deur die staat, iets van die ou stelsel en die ou Afrikaanse kanon in stand te hou. Noem dit die konserwatiewe benadering, van “te red wat daar te redde is”.

Daar is egter ook ‘n ander benadering en dit is om self revolusie te begin voer. ‘n Tyd gelede het Carel Boshoff IV en ander so ‘n voorstel gedoen deur te beweer: “Een revolusie roep ‘n ander op.”

Indien alles wat ons in hiedie land opgebou het, hetsy stoflik, hetsy geestelik, “deur apartheid en kolonialisme besmet is”, dan kan ons ons mos ewe seer beroep op die nuwe, die revolusionêre? In dié sin kan byvoorbeeld alles wat tussen 1948 en 1994 gepubliseer is as die “apartheidskanon” beskou word, ook die werk van die Sestigers soos Brink, Breytenbach en ander. Want is Brink en Breytenbach nie ook gekanoniseer in Afrikaanse koerante wat apartheid of afsonderlike ontwikkeling geondersteun het, deur resensente en kritici wat insgelyks “aandadig” (complicit om saam met Sanders te praat) aan apartheid was nie? Was André Brink nie ook jare lank die boekresensent van Rapport, ‘n publikasie wat apartheid voorgestaan het nie? En soos ons weet, was apartheid ‘n misdaad teen die mensdom volgens die lede van die Afro-kommunistiese blok wat die Konvensie teen apartheid by die Verenigde Nasies ingestem het.

Ook om intellektuele en estetiese redes, behoort ons ‘n agterdog teen die bestaande Afrikaanse kanon te koester. Want lank voor 1994 is Afrikaanse boeke reeds in terme van ‘n soort ANC-logika of in die naam van die nasionale demokratiese revolusie opgehemel deur diegene wat hulself as die selfaangestelde “voorhoede van die revolusie” gesien het. Tot onlangs het daar ‘n universitêre snobisme geheers waardeur die dosente aan universiteite wat skrywers was, hulself bokant die gewone siele in ander beroepe gesien het. Kollegas het mekaar se boeke gekeur of aangeprys in ‘n bloedskandelike bedryf waaronder gehalte en goeie smaak gely het.

Die rol wat die Broederbond gespeel het om aanstellings by die Akademie en aan die Afrikaanse universiteite te beïnvloed, het ook gesorg dat “baantjies vir boeties” dikwels gegeld het. Die verraad wat soveel Afrikaners in die onlangse verlede gepleeg het, ook om die Afrikaanse universiteite holderstebolder onder die ANC-regering se beheer te plaas, veroorsaak dat daar heelwat oorvleueling tussen “revolusionêre” en “behoudendes” was wat ter wille van eie belang eintlik bereid was om alle beginsels en maatstawwe oorboord te gooi. Transformasie en regstellende aksie het vir die res gesorg sodat ons vandag kwalik meer kan peil trek op enige literêre uitsprake of oordele wat vanuit akademiese geledere gevel word.

Die feit dat ‘n skrywer in Brittanje of die VSA of Frankryk geag word omdat hy een of ander veldtog teen sy eie mense gevoer het en sodoende gesorg het dat die onverkwiklike stereotipes oor Afrikaners en Afrikaans nog verder versterk word, is in my boek ook nie veel werd nie.

Dis egter nie te sê dat ons saam met die NDR-sikofante die baba met die badwater moet uitsmyt nie. In vele van die debatte en polemieke wat daar oor die afgelope eeu of wat in Afrikaans rondom taal en letterkunde gevoer is, bestaan daar riglyne vir hoe ons met letterkunde behoort om te gaan. Daar is ook al die Europese teorieë rondom kuns en letterkunde wat ons gerus in groter diepte kan bestudeer en waaruit ons kan put om Afrikaanse skrywers na waarde te skat. Vele van die probleme wat ons tans ervaar, is reeds deur skrywers in ander lande meegemaak waar daar revolusies plaasgevind het of waar taaldiskriminasie deur die owerheid toegepas is.

Groot skrywers, soos die Rus Wladimir Nabokof byvoorbeeld, is dikwels oor ‘n lang tyd deur hul eie regerings, kritici en amptelike skrywersverenigings verwerp, maar het agterna kultusfigure onder ‘n jonger geslag geword.

Iewers het Van Wyk Louw ook gesê dat “polemiek… die lewensbloed van die literatuur is”. Oor sekere dinge, soos die Akademie se spelreëls byvoorbeeld, behoort daar konsensus te wees. Maar die soort gefabriseerde konsensus wat daar tans oor die Suid-Afrikaanse geskiedenis bestaan of oor die meer onlangse kanon van “anti-apartheidskrywers” behoort grondig gekritiseer te word.

Daarby behoort ‘n register van Afrikaanse publikasies iewers op die internet bygehou te word, wat nie net boeke van groot of erkende uitgewers insluit nie, maar ook van kleiner uitgewers, selfgepubliseerde werke, e-boeke en internetpublikasies. Die nasionale demokratiese revolusie wat ons getref het, val ook saam met ‘n tegnologiese revolusie wat insgelyks die boek soos ons hom ken radikaal gaan verander.

Ons kan in sak en as gaan sit oor Afrikanerdekadensie en die enorme kulturele verliese wat ons die afgelope tien, twintig jaar gely het. Of ons kan weer opstaan met die karige middele waaroor ons beskik en ‘n skeppende en literêre revolusie in Afrikaans laat plaasvind. Soos ons voorgangers al soveel kere onder ewe moeilike omstandighede reggekry het.

лобановский александр биография

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.