Buyelwa Sonjica, minister van mineraal-en energiesake, het die transaksie verwelkom. Volgens haar sal die nuwe maatskappy help om werk in die Noord-Kaap te skep.
Die aankondiging van hierdie stap volg op die eerste daling in verkope wat De Beers die afgelope ses jaar beleef het. In 2006 was die maatskappy se omset 6.15 biljoen dollar, wat ’n daling van 6% in vergelyking met die verkope van 2005 verteenwoordig. Juwele doen steeds goed in veral Asië en die VSA, maar dis in die groothandel wat probleme ondervind word.
Oppenheimer verwag dat 2007 danksy o.a. EU-wetgewing wat diamante van die Russiese groep Alrosa beperk ook nie beter winste sal oplewer nie.
Gareth Penny van De Beers het ontken dat die Amerikaanse film Blood Diamond, wat tans in Suid-Afrikaanse teaters vertoon word, enigiets met die swakker verkope te doen het. Hierdie film handel oor die rol wat onwettige diamanthandel in oorloë op die Afrikavasteland speel.