Blitsbukse! van Renault en Volkswagen

Renault Megane RS
Deel op

Wanneer ‘n mens aan blitsbukse dink, dan kom daar gewoonlik net een naam sonder inspanning in jou gedagtes op: GTi. Party ouens sal dalk nog Gsi of RSi onthou, maar GTi is die een wat altyd uitstaan.

{jathumbnail off}

Ons het in die gees van ‘n regte egte blitsbuks drie baie warm motors onder hande gehad. Nou kyk, die dae van goedkoop motors is al vyf jaar gelede verby so al is die karretjies almal buksies, kos hulle glad nie meer wat die GTi en GSi van ‘n paar jaar gelede gekos het nie. Ons kandidate is die Renault Megane RS, die VW Golf R en die wilde VW Polo GTi. Met die regering wat so belastings aan al wat leef en beef uitdeel, sal Pretoria ook nie soveel geld uit hierdie motors kan maak soos byvoorbeeld slegs twee jaar gelede nie. Al drie hierdie motors is toegerus met hoogs gevorderde hoëverrigtingenjins wat spaarsamig met die brandstof en baie suinig met die uitlaatgasse te werk gaan.

Renault Megane RS

Renault Megane RS

Die RS is die breker van die hele Renault-reeks en jy kan hom in twee spesifikasievlakke aanskaf, die gewone RS of die RS Cup. Die motors se enjins verskil glad nie, maar die Cup-weergawe lyk bietjie rowwer met sy swart sierwiele en koolstofafwerking. Die rensitplekke en natuurlik die heelwat stywer vering sorg dat die Cup-weergawe beter klou in die draaie en sommer net die duiwel in lyk.

Ons het die gewone RS onder hande gehad en laat ek julle vertel, hierdie motor voel alreeds soos ‘n renstel op die teer. Daar is alles wat oop en toe maak en elektronies verstelbaar is sowel as verhitte sitplekke en ‘n TomTom-navigasiestelsel. Die hele kajuit is met swart leer uitgevoer en hy lyk en voel nie veel anders as enige ander Renault Megane waarin ek al gesit het nie. Ons toetsmotor is toegerus met ‘n 2-literenjin wat van ‘n hoëdrukturbo-aanjaer voorsien is; die eenheid ontwikkel 184KW en 340 NM. Die brutale krag word slegs na die voorwiele gestuur en in toom gehou deur ‘n 6-ganghandratkas. Die gevolg is ‘n vreeslike geblaas van die uitlaatpyp hier reg onder die bestuurder se sitvlak en dan die verbysterende vesnelling. Snaaks genoeg, is daar baie min wringstuur onder versnelling, want gewoonlik as daar soveel krag na die voorwiele gaan, sukkel die wiele om te gaan waar die stuurwiel wil hê hy moet gaan. Vesnelling van 0-100km/u is 6,1 sekondes en die RS se asem sal eers teen 250km/u opraak. Die motor voel glad nie so vinnig nie en hy klink ook nie wintie nie; hy lyk soos ‘n gewone Renault Megane-koepee met bietjie groter wiele en ‘n enkele uitlaatpyp in die middel agter, maar dit is dit.

Bougehalte is aanvaarbaar, maar volgens my wat self ‘n Renault-eienaar is, nie so goed soos die vorige generasie Megane nie. Hierdie is ‘n driedeurvoertuig, so daar is nie vreeslik baie spasie agter nie, maar vier mense kan redelik gemaklik in die motor rondrits. Wat my wel verbaas het, was die hoeveelheid bagasieruimte wat die RS bied. Vir so ‘n plat motor met ‘n lae daklyn het die RS ‘n baie diep bagasievloer en ek wil amper sê net soveel pakplek as die gewone luikrug-Megane. Die RS is ‘n goeie alternatiewe blitsbuks, maar val nie in almal se smaak nie. Hy is vinnig, maar skort iets iets waarvan die volgende motor wel baie het. Ons gee hom 3 uit 5.

Die Volkswagen Golf R

VW Golf R

Die Golf R is soos die Megane RS die rowwe Golf in die reeks. Die verskil hier is net dat hierdie Golf R toegerus is met vierwielaandrywing sowel as ‘n hoëdrukturbo-aanjaer. Die gewone Golf GTi se enjin ontwikkel 155KW en 280 NM, die R lewer 188KW en 350 NM. Dit maak ‘n verskil van 1,4 sekondes van 0-100 km/u, dus 5,5 sekondes vergeleke met 6,9 sekondes vir die GTi en 250km/u vergeleke met die 238km/u van die GTi.

Dit is egter die geluid en die gevoel van die R wat hierdie motor so spesiaal maak. Dit voel kompleet of jy binne in ‘n vuurpyl sit! Die brute krag waarmee die motor versnel, is eenvoudig verstommend; die vastrap wat die vierwielaandrywing verskaf, is eintlik onwettig in ‘n standaardpassasiersvoertuig. Daarmee saam bied die Golf R nog vyf deure ook en dieselfde bagasieruim en been-en-skouerspasie as die bekroonde Golf VI.

Bougehalte is uitstekend en van luukses soos sitplekverhitting, elektriese sitplekverstelling, aanboordrekenaar met raakskerm en navigasie sowel as leer van voor tot agter en – dit het ons al gesê – vierwielaandrywing is alles standaard. Ons toetsmotor is die DSG Direct Sequential Gearing-weergawe met die outomatiese handratstelsel. Nou kyk, alles aan hierdie Volksie is indrukwekkend, maar niks het my meer laat glimlag as die geluid wat uit die motor se maag kom wanneer daar blitsig ratte verwissel word nie. Daar is amper so ‘n dowwe klapgeluid soos die nuwe rat geskakel word en dan die ongelooflike stukrag waarmee die onderstel die motor in die nuwe rat vorentoe beur is net iets wat elke entoesias self moet ervaar.

Wie wil nou ‘n S3 of ‘n 135i hê wanneer jy vir minder geld dieselfde bougehalte en verrigting en gevoel en glimlag en aandag kan ervaar? Hierdie is ‘n 5 uit 5.

Volkswagen Polo GTi

VW Polo GTi

Die oorspronklike Golf GTi van die jare tagtig het die hele blitsbuksding begin. Die motor was klein dog prakties en maklik om te bestuur en terselfdertyd baie vinnig. Hy was regtig ‘n sportmotor in ‘n kortbroek en daarby was hy nogal bekostigbaar ook. Die nuwe Polo GTi kom vir ons die naaste aan wat die oorspronklike GTi was. Daar is hope karakter, krag en puik bougehalte in ‘n kompakte dog praktiese motor.

Die Polo GTi is toegerus met ‘n 1,4 liter TSI-enjin met turbo sowel as ‘n drukaanjaer. Die gevolg is 132 KW en 250 NM se krag. Ons toetsmotor was met dieselfde DSG-ratkas as die Golf R toegerus en dit het die Polo sommer brutaal laat voel. Om dit in perspektief te stel: die Golf VI GTi DSG versnel van 0-100km/u in 6,9 sekondes en dit is ‘n 2,0 TSi-motor. Die Polo GTi se 1,4 TSi laat die 100km/u merk ook in 6,9 sekondes verby blits. Grootboet se asem raak by 238km/h op waar die Polo Gti by 230 km/u sal halt roep.

Hier was vir my baie wringstuur want die hele 132 KW word na die voorwiele gestuur en as jy nie wakker is nie sal die Polo jou baie vinnig langs die pad laat beland. Bougehalte in die Polo GTi is ook van uitstekende peil en die kort leerratkierie sowel as die rooi steke wat om die nate van die sitplekke gewerk is, die driespeekstuurwiel met aluminium- GTi-kentekens laat jou weet jy is in iets spesiaals. Die Polo’tjie het ook vyf deure en ‘n bruikbare bagasieruim, egte groot speek GTi-wiele met rooi remknypers en ‘n rooi strepie à la 1985-Golf Gti om die sierrooster.

As jy nie een van die bogenoemdes se pryskaartjie van bykans R400 000 kan bekostig nie, is die Polo GTi teen R265 000 by verre die beste blitsbuks in die land. Ons gee hom 4 uit 5.    

лобановский александр

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.