Die Ruwe Gids tot Afrikaners

Ons word telkens gekonfronteer met verwarde siele in wie se deurmekaar koppies ‘n storm van eksistensiële angs woed. Dikwels doseer sulke verwardes op Stalinbos, of skryf hulle vir een van Naspers se publikasies. Die kenmerk van hierdie angs is die kwelvraag: “Wat is ‘n Afrikaner?”, wat dan gewoonlik een of ander linkse politieke motief het en daarom meestal retories is. Onafwendbaar lei die verwarde se deurmekaargeit hom om die standaard-cliché te besig: “Ek is nie ‘n Afrikaner nie, maar ‘n Suid-Afrikaner.”

Die nuutste voorbeeld van só ‘n verwarde individu is Adriaan Basson, adjunkredakteur van die City Press, wat na die tipiese fatsoen van die kruiperige meeprater, hom genoodsaak gevoel het om sy Afrikanerskap te probeer ontken en te verruil vir ‘n soort reënboogwensdenkery. Helaas vir Basson weet selfs die leier van die ANCYL baie goed wat ‘n Afrikaner is, en gaan Basson se kruiperigheid hom nie juis veel in die sak bring nie.

‘n Buitelander wat nie vertroud is met Afrikaners nie, kan egter moontlik sukkel om ons te herken. Baie van ons ken die Rough Guide-reisgidse wat mens in jou rugsak ronddra oorsee. Vir diegene wat besoekers aan die land is, en wat deur die verwardes mislei word, bied ek dus die Ruwe Gids tot Afrikaners aan.

Kom ons kry die formele definisie uit die pad uit: Afrikaners is Afrikaanssprekende inwoners van of emigrante uit Suider-Afrika, wat nie volgens die ANC kwalifiseer as voorheen benadeeldes nie, wat meestal Gereformeerde Christene is, en wat ‘n Westerse kultuur aankleef. Ja, heeltemal reg: Afrikaners is blankes. Wie blankes sou wees en wie nié, weet slegs die ANC amptelik, want sy rassistiese praktyke soos regstellende aksie is uit en uit op ras geskoei. Bou dus ‘n brug en kom daaroor as jy links en verward is: Afrikaners is witmense. Allan Boesak en Jonathan Jansen beskou hulself immers beslis nie as Afrikaners nie, en wie is ons om met sulke hooggeleerdes en kreatiewe aanwenders van donateurfondse te stry?

Bostaande help egter nie eintlik om my te onderskei van die res van die Europeërs as ek sê maar in Frankryk rondloop nie. Die winkeleienaars begin dus gesprekke met my in Frans as ek daar is, totdat ek hulle in Frans probeer groet, waarná hulle dadelik oorslaan na Engels. Hoe eien mens dus ‘n Afrikaner wat jy iewers op straat sien, buiten natuurlik in Menlynpark se winkelsentrum? Hier is ‘n paar riglyne vir besoekers uit die buiteland of vir inwoners van ander lande met ‘n bevolking van Afrikanerimmigrante om Afrikaners te kan eien:

Daar is iets van die plaas en die wildernis in elke Afrikaner, al woon hy in Sandton of selfs Upminster. Die besit van ‘n viertrekbakkie is ‘n goeie aanduiding dat die bestuurder ‘n Afrikaner is. ‘n Veldfokus-hempie, rugbybroekie, Hi-Tec-stewels en lang kouse plaas die identifikasie bo enige twyfel. Ook fantaseer byna elke Afrikaner daaroor om eendag ‘n plaas te besit, en kry die boere op die Kyknet-program Boer Soek ‘n Vrou daarom hordes briewe van vrouens wat daaroor droom om met ‘n boer te trou. Wys dus vir ‘n persoon wat jy vermoed kan ‘n Afrikaner wees ‘n foto van ‘n trekker en ‘n windpomp, en as hy droomverlore begin lyk, kan jy maar wéét.

‘n Verdere sekere teken dat die blanke persoon wat jy teëkom ‘n Afrikaner is, is sy eetgewoontes, veral sy voorliefde vir rooivleis. As Afrikaners groente wil eet, slag ons ‘n hoender.  Die Afrikaner-emigrante wat op die moddereilandjie woon, sug oor die koste van die rooivleis op daardie eilandjie, en smag na die smaak van skaapboud afkomstig van diere wat Karoobossies gevreet het. Sou jy as buitelander na ‘n huis genooi word vir ‘n Sondagmiddagete, en die tannie gee vir jou industriële hoeveelhede rooivleis; vark, bees en lam, vier verskillende tipes stysel, en dis net die voorgereg, kuier jy in ‘n Afrikanerhuis.

Die stereotipe van Afrikaners wat van brandewyn hou, is soos baie stereotipes nie sonder sy feitelike grondslag nie. My pa was ‘n Boeremusiekmusikant in sy jonger dae. Een slag op toer vra een van die insittendes van die VW Kombi waarin hulle getoer het: “Hoeveel brandewyn is nog oor?” ‘n Ander musikant bekyk die bottel en sê: “Omtrent drie myl!” Dus: Brandewyn gemeng met Coca-Cola of water is ‘n goeie aanduiding. Ja, ja, ek weet; daar is ook die pretensieuse chardonnay-snobs wat neersien op diegene wat brandewyn drink. Elke volk het maar sulkes.

So van musikante gepraat: Ek sal die eerste wees om toe te gee dat Afrikaners se musieksmaak raaiselagtig is. Hoe swakker, hoe beter. Hoe meer van ‘n gebrabbel soos “A-a-a!”, “Da-idi” of swak paarrym: “My bokkie dra ‘n rokkie en ons gaan sokkie”, hoe meer hou ons van die musiek. Op enkele uitsonderings na verkoop diegene wat intelligente lirieke skryf in Afrikaans en die wysies nie steel by Europese kunstenaars nie, bykans geen eksemplare van hulle musiek nie. As jy dus op ‘n konsert kom waar iemand jodel of ‘n gatstamp-treffer speel, bevind jy jou tussen Afrikaners.

Dan die sport. Sou jy na ‘n laerskoolwedstryd gaan waar twee skole se onder 11-kannetjies teen mekaar speel, die een span wen 87-0, en die sport is sokker, kan jy maar seker wees dat die skool wat so ver met sokker wen, ‘n Engelse skool is, en die verloorders die Afrikanerskool. Afrikaners hou nie juis van sokker nie, buiten vir ‘n bietjie opgewondenheid wat sommiges in 2010 beleef het toe die “Ariër”, Diego Forlán, met geweldige ironie die doel teen die pikswart Banana-span aangeteken het. Afrikaners se sportpassie (of is dit obsessie?) is rugby.

Dit sal ook nuttig wees om ‘n aanduiding te gee wie nié Afrikaners is nie. Die verwarde siele heel bo meen dat Afrikanerskap eintlik oop is vir enige iemand, wat uiteraard ‘n teenstrydigheid is, want dan kan ek seker ook aanspraak maak daarop dat ek ‘n Japannees is, nie waar nie? (Goed, dis nie onmoontlik om my met ‘n Sumo-stoeier te verwar nie.) Afrikaners smeer nie hulle gesigte swart en marsjeer dan in raserige optogte met Nuwejaar nie. Daar is amper geen Afrikanermoslems nie. Jong Afrikanermans sal nie sommer die Amerikaanse ghettokultuur hul eie maak en in motors met geweldige klankstelsels stadig op en af ry om ander bendelede te intimideer nie.

Om op te som: Tref jy as buitelander ‘n blanke bestuurder van ‘n viertrekbakkie, geklee in ‘n Veldfokushempie, aan met ‘n glas brandewyn in die een hand, ‘n skaaptjoppie in die ander hand, wat na Guillaume se Grootste Treffers op sy bakkie se klankstelsel luister, het jy die ware Jakob teëgekom.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.