Afriforum en die wet van onbedoelde uitkomste

Ons is almal bekend met die wet van onbedoelde nagevolge. Hierdie wet lui dat inmengery in ‘n komplekse stelsel dikwels tot onvoorspelbare uitkomste lei. Ons as mense het meestal nie die vermoë om modelle van genoegsame sofistikasie te bou om die toekoms akkuraat te kan voorspel nie. Daardie vreemdeling wat jy op ‘n goeie dag toevallig raakloop, mag jou lewe ingrypend verander, sonder dat jy dit hoegenaamd eens kon raai.

In die opvolgboek van Freakonomics, naamlik Superfreakonomics, maak die outeurs Dubner en Levitt byvoorbeeld ‘n fassinerende studie van prostitusie in die VSA. Die feminismebeweging van die 1960’s en veral die voorbehoedpil het die onbedoelde gevolg gehad dat dit prostitusie baie minder winsgewend gemaak het. Anders as wat baie mense mag dink, was prostitusie veel meer wydverspreid vóór die aankoms van die voorbehoedpil in die 1960’s. Ons voorvaders was dus nie heeltemal so behoudend soos ons ons wil verbeel nie. Die voorbehoedpil het die onbedoelde gevolg gehad, waar dit prostitute betref, dat vroue minder bang was vir swangerskappe en dus het seks sonder vergoeding, prostitusie se groot mededinger, baie meer beskikbaar geraak, tot nadeel van die prostitute. Dit was uiteraard nooit die bedoeling met die voorbehoedpil nie en dus ‘n goeie voorbeeld van die wet hierbo genoem.

Alhoewel ek nou geensins die Afriforum, of die TLU, met prostitute wil vergelyk nie, moes die onbedoelde uitkoms van hulle oorwinning in die hofsaak oor die “Kill the Boer”-lied hul eweneens totaal onverhoeds betrap het, veral vir Afriforum. Ek verwys egter nie na die ANC se voorspelbare reaksie om appèl aan te teken teen die hofsaak nie. Dat dit sou gebeur, kon ‘n blinde man met ‘n stok voel. Ek verwys eerder na die verstommende reaksie (wel, verstommend vir liberales) vanuit swart geledere op die uitspraak.

Alhoewel daar diegene is wat beweer dat Solidariteit, Afriforum se vader-organisasie, sy bestaan te danke het aan regstellende aksie, en dat voortgesette diskriminasie teen blankes dus regstreeks in Solidariteit en gevolglik Afriforum se belang is, sal ek Afriforum die voordeel van die twyfel gee, en aanneem dat sy bedoeling met die hofsaak was om die rassespanning wat die sing van “Kill the Boer” tot gevolg gehad het, te ontlont. Afriforum het dus waarskynlik gemeen die verklaring van die lied tot haatspraak en ‘n verbod daarop sou bydra tot nasiebou en versoening, daardie gunstelingwoordjies van diegene wat nog verkramp bly vaskleef aan die mitiese reënboognasie.

Ongelukkig vir Afriforum het dit die lynreg-teenoorgestelde gevolg gehad. Weer eens was dit nie die voorspelbare appèl wat die ANC aangeteken het nie, maar die reaksie van al wat ‘n swart leiersfiguur is. Byna elke swart leier en meningsvormer was, vanaf die ANC tot by rubriekskrywers soos Aubrey Matshiqi, eensgesind in hulle veroordeling van die uitspraak. Diegene wat die uitspraak nie openlik veroordeel het nie, se stilswye is dawerend. Dis moeilik om selfs een swart meningsvormer of leiersfiguur te kry wat die uitspraak openlik verwelkom het.

Ek moet veral vra waar is die Xhosa-afgodjie, Sint Mandela, se stem in dié ganse, onsmaaklike petalje. Is hy nie veronderstel om so ‘n heilige, versoenende figuur te wees nie? Die Bybel praat nie verniet van voete van klei nie, en dié gewelddadige afgodjie se stilswye spreek boekdele oor sy ware aard. Van die kwansuise groot staatsman wat die blanke liberales so klakkeloos vir Moeder Teresa aansien, is daar geen teken nie.

Heel voorspelbaar het selfs die DA vinnig gesien hoe waai die wind, en op die mees siniese wyse denkbaar ook op die wa gespring en die uitspraak bevraagteken, in ‘n skokkende en deursigtige poging om na swart steun te vry. Wat is ‘n paar duisend dooie boere nou vir die DA se leierskap agter hul elektriese heinings in Constantia en Houghton, as hulle ‘n paar honderd ekstra swart kiesers kan bykry? Wat die DA wel akkuraat bemerk het, is die onverwagte uitkoms van Afriforum se hofgeding, naamlik om die ongemaklike waarheid oor sogenaamde versoening op die lappe te bring. Versoening, kan almal nou sien, moet klaarblyklik net vanuit blanke geledere kom. Die groot gros swartes voel hulle geregtig daarop om liedjies te sing wat aanbeveel dat Boere – blankes dus – doodgeskiet moet word, vir “historiese” redes. Rassesolidariteit troef alles vir die swarte. Dieselfde voorreg word egter nie aan blankes gegun nie. Selfs die waai van die ou landsvlag is verboten deur die Gedagtepolisie, laat staan nog die gebruik van woorde met ‘n sterk historiese presedent soos die oorsprong van die naam van die landstreek Brits-Kaffraria. Blanke rassesolidariteit word onmiddelik met ‘n skril koor van “rassisme” doodgeskree.

Afriforum het dus onbedoeld daarin geslaag om die mees oortuigende bewys tot nog toe te verskaf dat die mitiese reënboognasie se spektrum monochroom swart is, dat swartes nie in die minste belangstel daarin om een sentimeter toe te gee nie, en dat dit slegs die mees naïewe blankes is wat die drogfilosofie van sogenaamde versoening aanhang.

лобановский александр дочь

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.