Hoekom studente hul studies staak

Volgens ’n studie wat deur die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) en die Raad vir Hoër Onderwys uitgevoer is, is gebrek aan geld, swak skoolopleiding en onvoldoende akademiese ondersteuning die belangrikste redes waarom Suid-Afrikaanse studente nie hulle studies voltooi nie. Die ondersoek is deur die Ford-stigting befonds en is gebaseer op onderhoude met 3 328 studente wat hulle universiteite verlaat het.

Die volgende instellings is by die ondersoek betrek: die universiteite van die Witwatersrand, Stellenbosch, Fort Hare, Limpopo en die Wes-Kaap, die Tshwane Universiteit vir Tegnologie en die voormalige Skiereiland Technikon. Die ondersoek het gefokus op die redes, soos deur studente aangegee, waarom hulle hul studies gestaak het. 2 870 Van die studente was swart, 220 kleurlinge, 192 blankes en 46 Indiërs. Die gebrek aan fondse was die belangrikste rede – soos deur 80% van die  studente aangegee. Dit is veral die kleurlinge en swartes vir wie geld ’n probleem is. Sowat 70% van diegene wat nie hul studies voltooi het nie, se ouers verdien R1 600 per maand of minder.

Swartes en kleurlinge het ook die volgende as redes aangegee:

• “Ek moes bedags te ver na die universiteit reis,”
• “Ek het nie ’n plek gehad waar ek in rus en vrede kon studeer nie”; en
• “My ouers/familie het druk op my geplaas om my studies te staak en werk te soek sodat ek kon help om die familie te onderhou.”

Daar was egter meer “rassegelykheid” wat die akademiese aspekte betref. 78% Van alle deelnemers aan die ondersoek het naamlik gesê dat hulle nie opgewasse gevoel het vir die eise van hoër onderwys nie. Veral swartes, Indiërs en kleurlinge het gekla oor die gebrek aan hulp aan die begin van hulle universiteitsloopbaan om hulle voor te berei vir wat wag. Verder het 77% studente van “probleme met die instelling se onderrigtaal” gewag gemaak.

Alle rassegroepe het verder gemeen dat die aktiewe sosiale lewe op kampus hulle aandag afgetrek het. Sowat 70% van die studente het ten spyte van die feit dat hulle hul studies moes staak, tog werk gevind wat hulle later in staat gestel het om hul studies te hervat. Volgens Moeketsi Letseka, die projekleier vir die ondersoek, is dit ’n bewys dat ’n ramp nie noodwendig volg as studente hulle studies staak nie. “Die wolk het ’n silwer randjie: werkgewers neem wel sulke studente in diens en as hulle later weer begin studeer, is hulle gewoonlik beter voorberei op wat wag,” meen Letseka.


потолочные светильники ценаФильчаков прокурор харькова

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.