Drink in Afrikaans!

’n Mens kan gerus ’n glasie Kleinboet klink op Bartho Eksteen van Hermanuspietersfontein Wyne, Diner’s Club se Wynmaker van die Jaar 2010. Dié wynmaker is nie skaam vir Afrikaans nie, anders as die meeste ander Afrikaanse wynboere, wat selfs tot die sotlike stap oorgegaan het om die Breërivier te herdoop as Wide River. Ja, vir ’n vermeende ekstra silwerling huiwer Afrikaanssprekendes nie om hul taal te verkoop nie.

Maar terug na Bartho Eksteen, die Afrikaanse druiwetros in die Engelse wingerd. Sy wyne van die Hemel-en-Aarde Vallei anderkant Hermanus is (glo) die enigste met net Afrikaanse name en etikette, lees ek in die Julie-uitgawe van Doendinge vir Afrikaans, nuusbrief van die Vriende van Afrikaans. Dié wyne word na nege lande uitgevoer, onder meer Engeland en Swede. En niemand het nog gekla nie. Die aarde is nog op sy baan om die son en die pole het nie omgeswaai nie.

Die bemarkers van mnr. Eksteen se wyne oorsee is heel ten gunste van Afrikaans; hulle sê dit verleen kleur en ’n uniekheid aan die produkte. Halleluja! Dis iets wat ’n mens dikwels onder Afrikaanssprekende sakemense wat als in Engels doen, se aandag probeer bring – vergeefs. Seker omdat die gevleuelde woorde nie uit ’n bemarker of toeris of Engelssprekende se mond kom nie.

Mnr. Eksteen vertel Afrikaanssprekendes het die meeste kapsie teen Afrikaanse wynname en -etikette gemaak. Dis iets wat ek ook gereeld ondervind wanneer ek ’n lansie vir Afrikaans breek – die vernynigste kritici teen die gebruik van Afrikaans is Afrikaanssprekers.

Afrikaanse wynboere wat eksklusief in Engels bemark, het mnr. Eksteen daarvan probeer oortuig dat die internasionele mark net Engels verkies. Dus het hy die eerste besending, wat Swede toe gestuur is, van ’n Engelse beskrywing voorsien wat om die nek van die bottel vasgemaak is. Die Sweedse bemarker het egter laat weet dis onnodig. Die bottels gaan nou almal kaalnek oorsee. En die wyne verkóóp. Dis gesogte voggies in vooraanstaande Europese restaurante.

Die wyne spog met pront Afrikaanse name soos Bloos en Swartskaap, 1855 Posmeester en Sonner Nommer … en familiename soos Kleinboet, Die Arnoldus, Die Martha en Die Bartho. Swartskaap 2006 is gekies as beste cabernet franc in die SA Terroir Wynkompetisie. Volgens Dave Hughes, Suid-Afrika se bekende internasionale wynkenner en beoordelaar, is dit die mees eksklusiewe wynkompetisie ter wêreld weens die wyn-van-oorsprong-reëls.

Waar kom die lang naam Hermanuspietersfontein vandaan? In die 1800’s toe Engeland die Kaap regeer het, het dié imperiale moondheid alle staatskole verengels. Uit protes hierteen het die plaaslike boere hul eie plaasskole begin en onderwysers uit Holland ingevoer, onder wie Hermanus Pieters. Daar is vir hom ’n skooltjie by Boontjieskraal duskant Caledon gebou, maar hy het op verskillende plekke skoolgehou. Hy’s gewoonlik met skape betaal en het gereeld met sy kuddetjie by ’n fontein naby die see uitgekamp. Die vissermanne in die omgewing het toe begin praat van Hermanus Pieters se fontein. In 1855 toe die eerste erwe daar uitgesit en verkoop is, is die dorp na hom genoem. Die posmeester het Hermanuspietersfontein in 1902 na Hermanus verkort.

Dis ’n wonderlike inisiatief, Afrikaanse wyn- en etiketname. Maar jammer genoeg is Hermanuspietersfontein Wyne se webwerf net in Engels. Waarom nie ’n opsie vir Afrikaans op die webwerf nie?

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.