Anti-Maas-aksie was vryheid van spraak

“In werklikheid was hierdie ’n reuseoorwinning vir vryheid van spraak en die reg om andere te oortuig om saam met jou te stem en teen onaanvaarbare dinge op te tree. En dit alles danksy die hedendaagse wonder van die elektronika.”

Die yslike storm wat losgebars het rondom Deon Maas se omstrede Satans-artikel in Rapport, het natuurlik ’n yslike spul stof opgeskop – sommige daarvan doelbewus om te probeer om ’n paar feite te verdoesel.

Die stof het nog lank nie gaan lê nie, maar ’n hele paar dinge begin al duidelik word. Die ongekende opwelling van e-posse en SMSe (ek hou van die woord vonkpos vir laasgenoemde maar dit wil blykbaar nie posvat nie) wat ’n boikot van Rapport (en blykbaar nog sterker optrede) aangevuur het, is nie bloot skielike en onverwagte optrede van ’n klomp “verkrampte, bekrompe, onverdraagsame” Christen-Afrikaners nie.  Dit is eintlik net die uitbarsting van ‘n opwelling van woede, frustrasie en wrewel wat al geruime tyd – ek sou sê selfs jare, maar beslis die afgelope jaar of twee – in Afrikanergeledere voorkom oor die benarde en magtelose situasie waarin hulle hul sedert 1994 bevind.

Nie alleen voel hulle dat hulle mislei, bedrieg, belieg en verneuk was nie, maar hulle kan nêrens hul frustrasies en besware stel en aandag laat kry nie want feitlik al die media – met die uitsondering van Radio Pretoria en Die Afrikaner – verkondig ’n ideologie en ’n boodskap dat ou Afrikanerwaardes uitgedien is, die Afrikanervolk liefs moet verdwyn deur samesmelting met volksvreemdes en andersdenkendes, en ons nog nie genoeg gely het vir die sonde van apartheid nie. Ander sieninge kry net af en toe aandag – in so ‘n mate dat mense soos Giliomee en Jaap Steyn wat enkele jare gelede met ‘n sekere mate van agterdog betrag is, al hoe meer in Afrikanergeledere as sterk en onbevange stemme beskou word omdat hulle nie skroom om ‘n ander aksent op sekere dinge te plaas nie.

Hierdie Maas-affêre was maar net die laaste strooi, die vonk wat die smeulende kruitvat laat ontplof het.

Want laat ek nou vir Rapport en sy genante wat dink dat dit net ‘n klomp bekrompe Christen-Afrikaners was wat aan hierdie ding deelgeneem het, vertel dat dit net nie waar is nie. Die e-posse en loopfoonboodskappe is ook baie ywerig aangestuur deur mense wat nie baie sterk voel oor Christelikheid en ‘n vreemde ding soos Satanisme nie, maar hier hulle kans gesien het om die linksgerigte, anti-Afrikanerelement wat in sekere media hoogty vier, aan te vat. Dit was met groot genot dat hulle aan die veldtog teen Maas kon deelneem want hy is beskou as een van die hoofeksponente van daardie anti-Afrikanerelement. Dit kon net sowel een van die ander soos Max, Sampie, Jan-Jan, Boesak, Tutu en dies meer gewees het wat die vonkie laat ontbrand het.

Nee, ek praat nie van myself nie want ek was nie een van die boodskapverspreiders nie, hoewel ek ook verskeie boikotversoeke ontvang het. Ek kon nie by ’n boikotaksie aansluit nie want na ’n jaar of twee waarin ek weens spesifieke omstandighede op die hoogte van nuus en menings in die Afrikaanse media moes bly en dus koerante moes koop en selfs TV-nuus kyk, het ek besluit dat ek gerus sonder Rapport kan klaarkom toe aangekondig is dat die vent Maas vir hulle gaan skryf.  Ek was toe al in die tweede week van my eie “boikot” toe hierdie een begin!

En as enigeen dink ek praat twak as ek sê dit was nie net bekrompes wat deelgeneem het nie, gaan kyk wat deur wie kwytgeraak is op sekere forums, blogs en ander elektroniese besprekingsplekke.

Menings van sogenaamde kenners dat die boikotveldtog en Maas se uitskoppery ’n ernstige knou is vir persvryheid, is die grootste klomp twak in ’n lang geskiedenis van twakpratery oor persvryheid.

In werklikheid was hierdie ’n reuseoorwinning vir vryheid van spraak en die reg om andere te oortuig om saam met jou te stem en teen onaanvaarbare dinge op te tree. En dit alles danksy die hedendaagse wonder van die elektronika.

Want dit was die reg om jou mening te lug in e-posse, om kortboodskappe op jou selfoon aan elkeen op jou lys van kontakte te versprei, om pleidooie vir ’n boikot teen Rapport op besprekingsforums en kletskamers in groot vet letters te plaas, wat hier geseëvier het.  Ja, dis reg. Vir die eerste keer het mense werklik besef dat hulle danksy die era van rekenaars, die internet en gesofistikeerde loopfone die reg het om hul mening te lug, die vermoë het om saam te span en iets soos Maas se afdanking te bewerkstellig en dat die tyd dat hierdie “vryheid van spraak” net in die redaksiekantore van koerante gesetel was, iets van die verlede is.

Dis ’n nuwe era wat hier ingelui is en die einde daarvan is onvoorspelbaar, maar dit kan alles net hoogs opwindend wees! Hier kom nog vir jou ’n ding of twee!

Wanneer “persvryheid” en moontlike aantasting daarvan deur mense soos Anton Harber en Raymond Louw opgerakel word (soos hulle hede Sondag weer in Rapport doen), is dit eintlik ’n pleidooi vir die reg van ’n individu of ’n groep individue in ’n mediamaatskappy om hulle unieke, enkele mening wyd en syd te kan verkondig. Dit is waar dat hulle dit klee in mooi woorde van “vryheid van spraak”, maar die gewone ou, die koerantleser en die TV-kyker en die andersdenkende, geniet ook daardie vryheid van spraak in teorie, maar in die praktyk kan hy dit nie toepas nie – beslis nie in hierdie land nie – nie onder die huidige regering nie, maar ook nie onder vorige NP-regerings nie.

Want die doodgewone werklikheid is dat dit waarskynlik sedert die vyftigerjare gans onmoontlik vir ’n individu, selfs ’n groep vermoënde individue geword het om koerante te stig en uit te gee en so hul eie vryheid van spraak te beoefen. Dit kos miljoene om ’n koerant te begin, dit kos tien keer soveel om ’n TV-stasie te begin – selfs al kry jy ’n lisensie.

Die doodgewone werklikheid is ook dat selfs ’n koerantredakteur nie ongebreidelde “vryheid van spraak” of persvryheid het nie. Dit is deel van die mediawerklikheid dat mediagroepe gewoonlik een of ander politieke party of siening of ideologie steun en dit word van redakteurs verwag om in die breë daarby in te val.

Dit is nie ’n nuwe ding nie. Dit was die situasie sedert die heel eerste koerante in die land verskyn het en dit was veral die situasie in die Afrikaanse mediagroepe die afgelope 100 jaar.  Die stigters en direksies van Afrikaanse koerante het in beginsel besluit dat hulle die Nasionale Party (en vir ’n kort ruk die Verenigde Party van Hertzog en Smuts) sou steun.  Redakteurs is aangestel met die ongeskrewe maar vaste aanvaarding dat hulle in die breë by daardie beginsel sal hou. Hulle kon aspekte van die party se beleid en sieninge (hetsy in regering of nie) ontleed, kritiseer en selfs probeer beïnvloed, maar die party afskryf en ’n ander een begin steun? Nooit in der ewigheid nie.

Ek het nooit vir Engelstalige koerantgroepe gewerk nie, maar uit my noue kontak met die politieke skrywers en redakteurs van hierdie koerante, het dit geblyk dat presies dieselfde vir hulle gegeld het. Eendag, as die joernalistieke muse my weer ‘n klap of twee gee, vertel ek van die probleme wat hierdie aspek van “persvryheid”vir sommiges soos wyle Tertius Myburgh –­ en in ‘n geringe mate ook vir my en van my kollegas – gebring het.

Nou is dit helaas so dat met die oorname van die ANC en daarmee die Engelstalige media se angstige gekruip by die nuwe heersers deur swartes as rubriek- en politieke skrywers en as redakteurs aan te stel, daar vinnig onder hierdie mense die idee ontstaan het dat as jy by ’n koerant (of ’n TV- of radiostasie) as verslaggewer of omroeper of so iets aangestel word, jy onmiddellik ’n ruim, onbeteulde en onbegrensde “vryheid” geniet om te skryf en te sê wat jy wil.

Dit het, na wat ek verneem, soms komiese insidente by hierdie instansies afgegee, maar daar het nogtans ’n nuwe en skewe idee van “persvryheid” ontstaan, en dit wil soms lyk of selfs mense soos Harber en Louw daardeur aangetas is. Dit is hierdie skewe sienings wat meebring dat Rapport se afdanking van Maas deur sommiges as ’n “inbreuk” op daardie vryheid gesien word.

Rapport verduidelik dat Maas ’n deeltydse medewerker was, maar deeltyds of heeltyds, die werklikheid is dat geen rubriekskrywer of redaksielid van ’n koerant sy ou meninkie kan lug as dit nie die redakteur van die koerant  (of dan sy luitenante in sy hoofredaksie as hy nie beskikbaar is nie) behaag nie.

Dus, Maas kan net so min op “vryheid van spraak” aanspraak maak as wat ek kan éísdat Rapport my menings plaas.

Dit bring my by ’n belangrike punt in die hele kwessie: Dat Maas se kop gerol het, verskaf groot genoegdoening, maar hy is nie al een wat hier verantwoording verskuldig is nie. Tim du Plessis behoort eintlik te verduidelik hoekom hy Maas se satanisme-rubriek vir plasing goedgekeur het. Hy het dit klaarblyklik vóór publikasie onder oë gehad. Hy het dus geweet wat hy doen en die finale verantwoordelikheid berus by hom.  Maar moenie nou beweer dat ek ’n nuwe anti-Tim veldtog wil laat begin nie!

Die laaste punt in ’n inset wat al weer te lank is, gaan oor Rapport se “erkenning” dat die besluit om Maas te pos, op grond van “kommersiële” oorwegings geneem is. Daar was glo sprake van verspreiders en verkopers wat wou weier om Rapport te hanteer. Daar is diegene wat Rapport wil verkwalik omdat hy om “kommersiële” redes so opgetree het. Maar hulle vergeet klaarblyklik dat Rapport om presies hierdie redes vir Maas as rubriekskrywer aangestel het.

Baie duidelik is daar aanduidings in sirkulasiesyfers en lesersgetalle dat dinge nie meer so voor die wind gaan met Rapport nie. Die redakteur van Sondag, ’n mededinger in dieselfde stal as Rapport, het met blad se verskyning erken dat Rapport se syfers ’n afname toon.

Maas het met sy rubriek in BY (bylaag by Naspers se dagblaaie) en ook sy optrede elders, heelwat reaksie uitgelok – sowel vir as teen, maar veral teen. Dit was mos so duidelik soos daglig dat deur Maas aan te stel, Rapport gehoop het om diegene wat Maas haat of geniet, as lesers te lok en so sy verkope op te stoot – puur en suiwer “kommersiële” redes!

Nugter weet wat hy nou gaan doen, maar iets sal hy moet doen om lesers iets anders te gee as die gereelde spul vervelige en so dikwels anti-Afrikanerskrywers en bydraers.

Soos iemand op een van die internetforums dit gestel het: Rapport kan nou gerus ook die byl inlê onder mense soos Heinrich Wyngaard, Jacob Rooi en ander regstellende-aksie-aanstellings.

Goeie idee!

воронеж моечно-уборочноелобановский депутат

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.