Selfbeskikking deur Plaaslike Owerheid

Hierdie gesprek gaan nie oor ‘n volkstaat nie, maar oor die mate waartoe belastingbetalers se ekonomiese oorlewing gaan afhang van seggenskap oor hul eie sake.

Ek verwys spesifiek na Afrikaners wat buite ‘n volkstaat sal woon. My hipotese berus op die stelling dat ekonomiese oorlewing van Afrikaners buite ‘n volkstaat nie deur rasse-ideologie of godsdiens verkry gaan word nie, maar deur effektiewe derdevlak bestuur. Ek wil dan ook konkrete voorstelle aan die hand doen om die proses na plaaslike selfbeskikking aan die gang te kry.

Afrikaners het nie ‘n veertig jaar horison nie, maar minder as tien jaar, want hulle woon vandag in ‘n disfunksionele staat wat nie volhoubaar is nie. Laat my toe om kortliks ‘n opsomming te gee van die gemors waarin ons verkeer:

• Veiligheid: In Suid-Afrika is niemand meer veilig nie, veral nie as jy ‘n wit boer is nie. Die prys in menselewens is lankal te hoog. Ons verkeer in ‘n staat van anargie waar misdaad lonend geword het. Slegs 10% van kriminele sake kom voor die hof. Die duisende polisiebeamptes agter die tralies is afdoende bewys dat die polisie self deels vir die heersende anargie verantwoordelik is. Waar die ANC die land moet regeer, tree dit soos ‘n georganiseerde misdaadsindikaat op.

• Landsgrense bestaan net op die kaart. Miljoene insurgente bevind hulle reeds in die land. Aan die Lesotho-grens vind veediefstalle daagliks plaas. Die weermag is disfunksioneel en sy onvanpaste krygstuig staan ongebruik. Die swak gehalte van sy offisierskader en HIV besmette manskappe beteken dat die staat sy burgers nie kan beskerm nie. Die beelde op die TV skerms van betogende soldate by die Uniegebou vertel die hele verhaal.

• Derdevlak dienste het totaal ineengestort en belastingbetalers moet daardie dienste self verrig in byna 82% van die land se munisipaliteite. As ‘n staat nie daardie basiese dienste kan lewer nie, waartoe is hy dan in staat?

• Die land se onderwysstelsel is die swakste in Afrika. Skoolverlaters uit die meeste skole is ongeletterd. Minder as 17% van die onderwys-begroting kom by die klaskamers uit. Die res word deur die amptenary soos ‘n spons opgesuig.

• Infrastruktuur: Hoe minder daar van die paaie gesê word hoe beter. Daar bestaan nóg die kundigheid nóg die wil om die huidige paaiestelsel in stand te hou, om die eens te praat van om nuwe paaie en brûe te bou nie. Die privaatsektor moet telkens tot die redding van die land kom.

• Navorsing en ontwikkeling word onderwerp aan die beperkings van swart ekonomiese bemagtigingsmaatreëls wat ten doel het om navorsingsfondse na swartes te gekanaliseer. Die WNNR, landbounavorsing en mediese navorsing is ‘n effense skadu van die eertydse vermoëns van die betrokke instansies. Relatief tot sy mededingers gaan die land jaarliks agteruit.

• Slegs die inkomstediens, wat die belastingbetalers se geld insluk is oënskynlik op standaard.

Voeg daarby die ernstige korrupsie en geldvermorsing waar miljarde rande jaarliks vermors word.

ANC se politieke ondersteuners verryk hulself vandag deur Afrikaners te verarm.

Mens kom dan tot die onvermydelike gevolgtrekking dat die sogenaamde demokrasie, oftewel meerderheidsregering, die Afrikaner se grootste vyand geword het.

Met hierdie verdoemende getuienis voor ons vra ons: Hoe lank kan dit nog so aanhou? Waarom verdra ons hoegenaamd nog ‘n disfunksionele staat? Waarom gaan ons willens en wetens toelaat dat ons dieselfde lot tegemoetgaan as die blankes elders in Afrika?

Getallegewys is ons ‘n permanente demografiese minderheid. Die meeste belastingbetalers is nie lede van die regerende party nie, tog moet hulle sy maatskaplike programme sonder enige inspraak befonds.

Demokraties gesproke kan Afrikaners die ANC nie by die stembus verslaan nie.Watter ander opsies het hulle om onder hierdie neerdrukkende bestel uit te kom?

1. Hulle kan hul vaderland verlaat.

2. Of hulle moet beheer oor hul eie toekoms neem.

Vanuit ‘n morele en realistiese standpunt kan Afrikaners vandag aanvoer dat daar geen sinvolle politieke of ekonomiese toekoms vir hulle in die huidige bestel meer bestaan nie.

Dit gaan lankal nie meer oor ‘n rasse-ideologie nie, maar oor bewese swak regering en die risiko dat Afrikaners ekonomies en fisies nie sal oorleef nie.

Afrikaners wil nie langer in ‘n staat van anargie leef nie. Hulle hunker ook nie terug na apartheid nie, maar na wet en orde en na ‘n skoon, oop en doeltreffende regering, ‘n veilige omgewing en ‘n ekonomiese toekoms.

Hulle eis derhalwe hul internasionaal erkende reg op self-beskikking om ekonomies te kan oorleef.

Hiervoor wend hulle hulself nou na die praktyk van direkte demokrasie soos in ‘n kantonstelsel.

Maar wat beteken die begrip van selfbeskikking? “Dit is die keuse om volgens eie vrye oordeel en sonder enige inmenging of dwang te handel. Selfbeskikking is dus die reg van die mense wat ‘n spesifieke gebied beset om sy politieke status en regeringsvorm self te bepaal.”

Eksterne selfbeskikking is die politieke onafhanklikheid van ‘n nasie wat in ‘n soewereine staat woon en deur ander lande aanvaar en erken word.

Interne territoriale selfbeskikking kan ook verkry word wanneer deelstate federatief teenoor mekaar staan, soos die Switserse kantonne of Duitsland se state.

Maar daar is ook ander vorms van interne selfbeskikking, soos: “Die begrip dat bevolkingsgroepe met ‘n onderskeidende kultuur en identiteit hul eie politieke sake en gemeenskaplike heil self kan bepaal.” Dit is veral van toepassing vir bevolkingsgroepe wat diaspories in ‘n land verspreid is.

Terloops, om ‘n volkstaat te probeer opeis oor ‘n gebied wat nie tans of histories deur die eisers beset was nie sou egter strydig met die volkereg wees. Orania met sy onmiddelike omgewing self is vandag Afrikanergebied, maar nie die Noordwes Kaap nie. Die huidige Khoi-San, wat verreweg die meerderheid daar is, het eerste historiese aanspraak op daardie gebied.

Ek het vantevore geskryf dat ‘n nuwe volkstaat in ‘n leë gebied ekonomies gedrewe moet wees, en dat dit waarskynlik deur middel van ‘n reusagtige eiendomsontwikkelingsprojek ontwikkel sal moet word. Met enkele uitsonderings na was die reaksie daarop verstommend negatief.

Die rede was waarskynlik dat ek tot die kern van die probleem deurgedring het.

Verreweg die meeste Afrikaners is nie bereid om agter ‘n ideologie te trek nie, maar beskou ekonomiese oorlewing as baie belangriker.

Daarom wil ek dus voorstel dat ‘n federasie van plaaslike owerheidsbestuur opgerig moet word. Ek glo dat laasgenoemde ‘n werkbare model vir ekonomiese oorlewing sal wees.

Die uitgangspunt is dat Afrikaners in elk geval nie na ‘n ander gebied sal trek nie omdat hulle nie die finansiële vermoeë het om vir die nuwe huise en nuwe infrastruktuur te betaal nie.

Dit, plus hul huidige ekonomiese belange, veroorsaak dat hulle wil bly waar hulle tans woon.

Vir plaaslike selfbeskikking moet hulle bloot die bestuursfunksies van die onbekwame plaaslike stadsrade wetlik kan oorneem. Daarna kan hulle derdevlakdienste self verskaf wat deur hul eie belastingsgeld befonds word.

Van die ongeveer 285 munisipaliteite in die land doen meer as 250 dit reeds.

Deur middel van erkende hofprosedures, wat deur die plaaslike belastingbetalersverenigings (BBV) gereël word, word ‘n dispuut met die munisipaliteit verklaar en erfbelastings word in ‘n trustfonds gestort om die werk deur ervare en behoorlik opgeleide mense mee te befonds.

Tans is die fokus van die BBV’s op derdevlak dienslewering, veral mbt paaie, water en riolering.

Deur legitimiteit en erkenning te verwerf word interne selfbeskikking dan ‘n harde werklikheid. Vir dienslewering aan die swart woonbuurte buite die vermoeë van die plaaslike belastingbetalers, sal die dorpsraad gedeeltelik deur die staat befonds moet word. Die huidige munisipailteite is so te sê almal bankrot.

Op ‘n federatiewe wyse skakel die 350 of meer Kantonne, wat ook Orania en Kleinfontein insluit, deur ‘n federale bestuursfunksie vir skakeling met die nasionale regering.

Die voordeel van hierdie stelsel is dat die bestaande bates van belastingbetalers vir hulle behoue sal bly, dat die dorpe waarop hulle ‘n historiese reg het, nie tot niet gaan nie en dat daar onder andere met die plaaslike stamowerhede geskakel word vir wet en orde en ekonomiese ontwikkeling.

Met so ‘n werkbare plan kan hul ekonomiese vryheid trapsgewys verseker word. Daarmee word Afrikaners op voetsoolvlak gemobiliseer, en hul ekonomiese omgewing meer leefbaar gemaak.

Die nadeel is dat hulle steeds burgers van die NSA sal bly, hoewel daar deur onderhandeling beheer oor veiligheid, onderwys, hospitaaldiense, ens, verkry sal kan word.

Die Kantonfederasie is dus bedoel om Afrikaners wat buite ‘n volkstaat woon staatkundig en ekonomies te akkommodeer.

Dit vervang nie ‘n volkstaat nie en is ook nie in kompetisie daarmee nie. ‘n Volkstaat word op ‘n heel ander vlak en ‘n heel ander span leiers nagejaag om die langtermyn toekoms van die Afrikaners te verseker.

‘n Volkstaat mag selfs etlike kantonne insluit. Waar die volkstaat sal wees, is dus nie vir ons nou van belang nie.
Die tyd het nou aangebreek dat ‘n federale bestuursfunksie amptelik sal meewerk met die departement van Ko-operatiewe en Plaaslike Regering om dienslewering op plattelandse gebiede te verseker.

Met hierdie struktuur in gedagte wil ek nou die volgende konkrete voorstelle aan die hand doen en sal ek dit waardeer as die voorsitter sal toelaat dat dit vandag gedebatteer kan word sodat die vergadering dit gedeeltelik of in geheel kan ondersteun.

1. Dat ‘n Federasie van Ko-operatiewe Plaaslike Bestuursliggame tot stand gebring word wat hoofsaaklik uit die bestaande Belasting Betalersverenigings sal bestaan. Dit sal die beginpunt van die evolusie van plaaslike selfbeskikking wees.
2. Dat die NBU as federale bestuur verkies word met magte van ko-optering.
3. Dat die federale bestuur wysigings aan die nuwe wet op plaaslike owerhede sal opstel met die doel om omgekeerde regstellende aksie aan die belastingbetalers, wat die dorp finansiëel moet dra, te verseker.
4. Die voorgestelde wetswysigings sal dan aan die Dept. van Ko-operatiewe en Plaaslike Regering asook aan die Speaker van die Parlement voorgelê word.
5. Dat die stelsel van plaaslike bestuur sodanig gewysig sal word dat 50% van die setels vir plaaslike belastingbetalers gereserveer word. Politieke partye sal op die normale wyse meeding om die ander 50%.
6. Dat die hele amptenary, insluitende die pos van Munisipale Bestuurder, apolitiese en tegniese poste sal wees.
7. Om die regskoste m.b.t. die opstel van die nuwe wet te dek word versoek dat elke BBV ‘n eenmalige R500 tot die regsfonds van die NBU sal bydra.
Die gevolg sal wees dat elke BBV outonoom sal bly met sy eie plaaslike owerheid en leierskap. BBV’s skakel egter federatief met ‘n federale bestuur vir ekonomiese en tegnologiese samewerking en sinergie tussen stadsrade.
Mens sal egter daarteen moet waak dat instansies, soos politieke partye, wat op nasionale vlak opereer, die BBV’s nie sal kaap nie.

Ek wil nie nou politiek praat nie, maar ons weet dat veral die DA daarop uit is om plaaslike regerings oor te neem om die party te versterk. Hulle mag dus inherent vyandiggesind staan teenoor die kantongedagte of enige ander vorm van selfbeskikking, en mag dus die nuwe wetgewing heftig teenstaan omdat politieke patye nooit weer oor dorpe sal regeer nie, maar deur plaaslike inwoners.

As ‘n orgaan van die burgerlike samelewing staan die Federasie vir Plaaslike Bestuursliggame dus buite die land se magspolitiek en is geen bedreiging vir die regerende party van die dag nie.

Die voorstelle voldoen ook aan alle tersaaklike grondwetlike voorskrifte. Die Federasie vir Plaaslike Bestuursliggame sal samewerking met die owerhede najaag om derdevlak dienslewering, ekonomiese ontwikkeling, skoon bestuur en omgewingsbewaring vir plaaslike inwoners te verseker.

Die Federasie sal nie ideologies of polities gedrewe wees nie en is waarskynlik die enigste manier om stadsrade uit die huidige finansiële moeras sal verlos.

Banke vra altyd: “Wie is die jokkie wat gaan sorg dat ons geld veilig is?”
Met die Kantonfederasie konsep, wat deur die Parlement gewettig sal word, kan die banke rustig slaap omdat die dorpsbestuur in veilige hande sal wees.

Tot dan moet die huidige belastingweerhouding voortgaan en deur middel van hofgedinge te sorg vir beter dienslewering.

Ek voorspel dat die terminologie kort voor lank na ‘n Kantonfederasie aanvaar sal word. Deur bemiddeling van ‘n Federale Kantonraad kan dan met die staat geskakel word vir groter magte en groter selfbeskikking oor eie sake.

Ek dank u.

(Toespraak gelewer voor afgevaardigdes van Afrikanerorganisasies in die Centurion Munisipale Raadsaal op 3 September 2011)

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.