Intreevlakoorlog!

Toyota Yaris
Deel op

Suid-Afrikaners is baie lief vir luikrugmotortjies en daar was nog nooit vantevore so ‘n groot verskeidenheid van juis dié tipe rygoed soos tans nie. Ons het ‘n paar van die klein motortjies onder hande geneem. Alhoewel die vier motortjies waarmee ons rondgerits het weliswaar nie direkte teenstaanders is nie, dink ons tog die publiek kyk met hulle beursie na wat beskikbaar is. Vervaardigerslojaliteit is ondergeskik aan die waarde en kwaliteit wat die publiek in ‘n spesifieke motor kry.

Ons vier motors is die Toyota Yaris Zen 1 5-deur, Nissan Micra 1,5 Tekna, Suzuki Swift GLS en die Renault Sandero 1,6 Dynamique.

{jathumbnail off}Toyota Yaris

Toyota Yaris Zen 1 5-deur

Met die koms van nuwegenerasie- intreemotortjies, hoofsaaklik uit Korea en Sjina, moes die Japannese iets doen om die Yaris meer bekostigbaar te maak. Daar is natuurlik ook die VW Polo Vivo en Chevy Spark Lite, asook die Ford Figo wat almal vorigegenerasiemodelle is. Met die koms van Toyota se eie Aygo was daar ruimte om die bestaande Yaris=reeks goedkoper te maak, bietjie anders te verpak met ‘n nuwe enjin en bakklere en siedaar, Toyota speel saam! Die Yaris Zen is beskikbaar in twee bakvorms, die luikrug en die 4-deursedanweergawe. Die luikrug is dan ook verder beskikbaar in óf ‘n 3-deur- of ‘n 5-deurmodel. Die Zen 1, wat as die intreemodel bemark word, is toegerus met 3 deure en ‘n baie kranige 1000cc- 3-silinderenjin met 12 kleppe wat 51 Kw en 93 Nm se wringkrag ontwikkel. Daar is brandstofinspuiting en wat veiligheidskenmerke betref, is die Zen 1 met dubbele lugsakke en ABS-remme toegerus, tesame met elektroniese remverspreiding sodat die karretjie darem met al vier wiele gelyk ewe hard rem. Toerustingvlakke is maar aan die skaars kant: daar is wel ‘n radio met vier luidsprekers, die kantruite word met ‘n slinger opgedraai en die syspieëltjies met die hand verstel. Ons toetsmotor was met die opsionele lugversorger, asook silwer metaalverf toegerus. Die vellings is staal met moderne plastiekwieldoppe. Die Yaris is maar ‘n klein motortjie. Hoewel daar plek is vir 5 insittendes, sal dit sal nie vir baie ver moet wees nie. Wat die rygerief aanbetref, was ons nie baie beïndruk met die kraglewering nie. Die motor haal gemaklik enige wettige spoed wat binne dorpsgrense gery mag word. Selfs ‘n togspoed van 120km/u word gemaklik behaal wanneer daar slegs ‘n bestuurder in die motor is. Dit is die manier hoe die motor op spoed kom of dan die gebrek daaraan wat baie ongemaklik is. Dan kom ons by die prys van R128 800 vir die Yaris 3-deur-Zen 1. Ons toetsmotor was die 5-deur-Zen 1 met lugversorging en radio. Toyota kon my nie ‘n prys vir die spesifieke model gee nie, maar ons skat dit moet êrens tussen R128 800 en R140 000 wees waar die Zen 3 met sy 4-silinderenjin op die prysleer staan. Selfs teen R128 800 dink ons die Yaris is te duur vir wat jy in die motor kry. Die feit bly staan dat jy ‘n VW Polo Vivo 1.4, 3-deur met radio en lugversorging kan aanskaf vir R104 000 of die 5-deur-Polo Vivo teen R116 000, asook die Ford Figo 1.4 Ambiente insgelyks met ‘n radio en lugversorging en dit is reeds ‘n 5-deur teen R117 500. Dit is bykans R11 000 goedkoper as die Yaris Zen 1. Ons gee die Yaris ‘n 2-uit-5-telling.

Renault Sandero 1,6 Dynamique

Renault Sandero 1,6 Dynamique

Renault se Sandero-reeks is baie gewild, juis oor die waarde wat die voertuig bied. Die Sandero word ook plaaslik in Pretoria vervaardig. Die motor is ‘n kompakte model, maar daar is heelwat meer spasie in die karretjie as in enige van die ander waarmee ons rondgery het. Bougehalte is goed en ek kon amper nie glo hoeveel waarde die motor bied nie. Die verskil tussen die Renault Sandero en die ander motors hier is so duidelik soos daglig. Renault het duidelik ook geprobeer om die prys so laag moontlik te hou deur onnodige toerusting weg te laat, maar dit verteenwoordig nog steeds ooglopend meer waarde vir geld as enige van die ander motors hier. Ons toetsmotor was toegerus met elektriese vensters voor, lugversorging en radio, sentrale sluiting vir die deure, 15-duimallooivellings en ‘n veel moderner afwerkingsgevoel binne as die Yaris. Die Sandero het ook ‘n 320-literbegasieruim wat letterlik drie keer so groot soos die Yaris s’n is. Daar is ‘n aanboordritrekenaar wat jou inlig omtrent brandstofverbruik en buitetemperature, ‘n USB-sok om jou geheuestokkie in te sit vir musiek, wegvoubare gesplete agterbank om die begasieruim te vergroot, kinderslotte agter en selfs ‘n plekkie om jou Ipod  by die radio in te skakel. Ons toetsmotor was ook toegerus met ‘n 1,6-literenjin wat 64 Kw en 128 Nm se wringkrag lewer. Heelwat meer motor teen slegs R124 900. Rygerief is ook uitstekend en ek het nie eenkeer gevoel ek benodig meer krag om die motor tot op 60km/u  te kry nie. Die Renault Sandero 1,6 Dynamique is werklik goeie waarde vir geld met hope ruimte, in so mate dat dit as die gesin se enigste motor gebruik kan word. Ons gee die Sandero ‘n 3-uit-5-telling.

Nissan Micra 1,5 Tekna

Nissan Micra 1,5 Tekna

Nissan se splinternuwe Micra is baie meer konserwatief as sy voorganger. Die jongstegenerasie-Micra trek baie op die oorspronklike Micra van die laat negentigerjare. Die lelike ronde goggakarretjie het plek gemaak vir ‘n baie meer volwasse konvensionele voorkoms. Die Micra is nou so konvensioneel dat hy sommer maklik misgekyk word in ‘n parkade vol motors. Soos in die geval van al Nissan se klein motortjies het die Micra ook baie meer ruimte binne as wat dit van buite af lyk. Die binneruim is werklik ruim en gemaklik. ‘n Mens kan amper sien dat die Micra en die Sandero neefs is as dit by binneruimspasie kom. Die Micra is beskikbaar in vyf verskillende afwerkings, almal met dieselfde bakvorm, ‘n 5-deurluikrug. Ons toetsmotor was die luuksste 1,5-petrol- Tekna-weergawe. Die motor bied elektriese ruite, spieëls en outomatiese lugversorger tesame met ‘n radiokompakskyfspeler wat óor ‘n USB-sok beskik. Misligte voor en agter, asook reënsensors vir die voorruit, bakkleurverf op die spieëls en buffers kan genoem word. Die prentjie word voltooi deur outomatiese hoofligte en ’n string veiligheidskenmerke, onder andere dubbele voorste lugsakke en kantluggordyn, tesame met ABS-remme met remverspreiding en remdrukbeheer, asook slim sitplekgordels wat jou stywer in die sitplek intrek milliesekondes voor ‘n botsing plaasvind. Die Micra bestuur baie gemaklik en daar is oorgenoeg woema van die 1,5-literenjin wat 73 KW en 134 NM se wringkrag ontwikkel. Die motor is werklik gemaklik om te bestuur en die klein vyftienhonderdenjintjie loop stil en glad. Teen R143 400 is die Micra ‘n baie goeie kopie veral gemeet aan sy mededingers in die segment: die VW Polo 1,4 Trendline verkoop teen R149 400 en bied 10Kw minder, geen radio, slegs elektriese ruite voor, staalvellings en swart kantspieëls; die Chevy Aveo 1,6 LS verkoop teen R149 800 en bied 4 Kw meer as die Micra en standaardtoerusting is dieselfde as die Micra. Peugeot se 207 Popart is die ander mededinger wat baie naby aan die Micra kom met ‘n pryskaartjie van R142 900. Die klein leeutjie bied ook ‘n volhuis van toerusting en ‘n 1,4-literenjin wat 54 Kw en 118 Nm se wringkrag lewer. Ons gee die Nissan Micra 1,5 Tekna 4 uit 5.

Suzuki Swift GLS

Suzuki Swift GLS

Al ooit gehoor van ‘n groot motor in ‘n klein bakwerk? Wel hierdie is seker die beste klein motortjie in Suid-Afrika. Die hele gevoel binne en buite die motor is prima. Kyk, Suzuki was nog nooit ‘n primavervaardiger nie; hulle spesialiseer juis in klein bekostigbare, betroubare voertuie. Die Swift voel net strate beter en groter as enige iets anders onder R200 000. Ons wil selfs sê motors tot by R250 000 gaan sukkel om by dié klein juweeltjie kers vas te hou. Die binneruim is klein, of sal ons sê kompak, ruim genoeg vir 5 insittendes, maar glad nie gebou vir lang ritte en baie begasie nie; hierdie is ‘n stadsmotortjie. Ons moet bieg, die Suzuki Swift het homself oor baie lang afstande bewys; dit was nou in die hande van ‘n kollega by ‘n sekere motorprogram op die televisie toe hulle ‘n hele 6000km in ‘n Swift afgelê het om van Perth aan die weskus van Australië tot by Cairns aan die ooskus te ry sonder enige probleme. Die verpakking van die motor is net eenvoudig ongelooflik. Die enjingeraas of sal ons sê, die gebrek aan enjingeraas, is baie opvallend; die manier hoe die deure oop en toe maak, die geluid waarmee die deure oop en toe maak, alles is uit die boonste rakke. Die Swift GLS is die middelste model in die Swift-reeks, daar is ‘n GL-spesifikasie wat bietjie minder bied en dan die GLS outomaties wat met ‘n outomatiese ratkas toegerus is. Teen R169 900 is die GLS nie goedkoop nie, maar gemeet teen mededingers soos die VW Polo 1,4 Comfortline teen R171 700 of die Peugeut 207 1,4 VTi teen R169 000, die Hyundai i20 GLS teen R169 900 en die Mazda 2 1,5 Dynamic teen R192 690 vaar die Swft besonders goed, veral as die bougehalte en toerustingvlakke in ag geneem word. Ons toetsmotor se 1, 4-literenjin ontwikkel 70 Kw en 136 Nm se wringkrag. Dit is egter die pakket in sy geheel wat so indrukwekkend is en ons glo iemand wat in die mark is vir ‘n klein dog luukse ryding sal ‘n groot fout begaan om by die Suzuki-handelaar verby te ry. Ons gee die Swift GLS 5 uit 5.

Ons plaas dus die motors soos volg:

  1. Suzuki Swift GLS
  2. Nissan Micra 1,5 Tekna
  3. Renault Sandero 1,6 Dynamique
  4. Toyota Yaris Zen 1 luikrug 5-deur

скейт детский купить в харьковеДанильченко Юрий Брониславович компромат

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.