Die wit meeprater se eksistensiële krisis

Deel op

Ek is seker dat ek nie die enigste een is wat die dikwels skril weerstand teen die gedagte van selfbeskikking vir Afrikaners ervaar nie, en dit raaiselagtig, indien nie skisofrenies nie, vind.

Snaaks genoeg kom die skrilste en mees verbete weerstand nie juis van swartes nie, maar van mede-blankes, en veral mede-Afrikaners. Die kenmerk van sulke weerstand is dikwels dat sulke weerstandiges gebruik sal maak van hul gunstelingwoordjies, wat hulle vas glo enige argument onmiddelik beëindig, naamlik “rassis” en “verkramp”, om diegene wat ten gunste van selfbeskikking is, mee te beskryf.

Ons almal besef egter al teen hierdie tyd dat die skelwoordjie rassis van nul en gener waarde meer is nie, en bloot tekenend is van iemand wat hetsy betrap word word vir misdadige optrede (dink hoe dikwels skree Malema rassisme), hetsy iemand wat aan die verloorkant van ‘n argument staan en wat geen idee het hoe om sy opponent se feite die hoof te bied nie.

Dit is nietemin die gebruik van die woordjie verkramp wat my interesseer. Dié woord dui op iemand wat weerstand teen verandering bied, ‘n uiters-konserwatiewe persoon wat die status quo teen alle koste wil bewaar. Dit is dus totaal en al onakkuraat om diegene wat selfbeskikking voorstaan, as verkramp te wil bestempel.

Ons wil juis nié die status quo behou nie, en wil sien dat ‘n totaal-nuwe politieke orde tot stand kom. Dit is, ironies genoeg, juis die gebruikers van die term verkramp wat verbete weerstand téén verandering bied, wat ten alle koste die status quo van ‘n ANC-regering oor Afrikaners wil behou. Indien hulle nie openlike ANC-ondersteuners is nie, is hulle dan minstens per implikasie ANC-ondersteuners en meepraters met die ANC-regime, omdat hulle hand en tand veg om die ANC-oorheersing wat ons tans beleef, in plek te probeer hou.

Voorts verstom die felheid van die weerstand teen selfbeskikking my, en vind ek dit dikwels skisofrenies. Dit is skisofrenies en onlogies om aan die een kant telkens daarop te wys dat die VF+ slegs 0.4% van die stemme tydens die afgelope verkiesing op hom kon verenig en dan die gevolgtrekking op grond daarvan te wil maak dat slegs ‘n minderheid blankes selfbeskikking steun, maar dan aan die ander kant soveel tyd en energie daarop te verspil om met skuim om die bek te velde te trek teen die kwansuise minderheid wat wel ten gunste is van selfbeskikking.

Watter een van die twee is dit nou? Is dit slegs ‘n minderheid wat mens met veiligheid kan ignoreer wat ten gunste van selfbeskikking is, of is dit nie? Te oordeel aan die felheid van die reaksie, lyk dit vir my al hoe meer na laasgenoemde, want sulke fel reaksies word slegs uit intense vrees gebore; ‘n vrees dat diegene wat selfbeskikking voorstaan, tog reg is.

Ek vind dit voorts skisofrenies dat baie van die einste blankes wat so heftig teen selfbeskikking gekant is, bykans eendragtig is in hul veroordeling van die ANC-regime se endemiese korrupsie en misdadigheid. Daar is niks wat sulke hordes kommentare sal ontlok as nog ‘n berig oor sekere Pedi’s se rykdom nie.

Baie blanke het egter eenvoudig nie die moed het om die grondoorsaak van die probleem – swart regering – op sy naam te noem, of om die enigste gewaarborgde en blywende kuur vir Malema en die res se korrupsie, verval en misdadigheid – selfbeskikking – te kan of wil aanvaar nie. Hulle sal op skisofreniese wyse te velde trek teen Malema, maar dan ook omdraai en skel op diegene wat die enigste hoop op genesing aanbied. Dis asof iemand wat aan emfiseem ly sigarette ten alle koste wil verdedig, en weier om in te sien dat hy noodwendig sal moet ophou rook as hy wil oorleef. Om bloot oor te slaan van Camels na Marlboro’s, of van een linkse, sosialistiese, swart meerderheidsparty, die ANC, te wil oorslaan na ‘n ander swart meerderheidsparty vir wie Chris Hani ‘n held is, gaan nie die fundamentele probleem oplos nie.

As ek moet spekuleer wat aan die wortel van hierdie skisofreniese weerstand lê, sou ek sê dat diegene onder veral Afrikaners wat hulself so bedreig voel deur die gedagte aan selfbeskikking, een of ander eksistensiële krisis beleef, en dit moeilik vind om ‘n kopskuif te maak weg van hulle vorige idealisme.

Die kenmerk van ‘n eksistensiële krisis is dat iemand nie meer so seker is oor sy eie leefwêreld nie, en voel dat hy beheer verloor het. Miskien het die meerderheid blankes tog in 1994 geglo Suid-Afrika is regtig ánders, dat die ANC nie maar net nog ‘n Zanu-PF was nie.

Miskien het baie van ons wel destyds ‘n wilsbesluit te neem om van ons identiteit as Afrikaners afstand te doen, omdat die nimmereindigende stroom linkse propaganda ons oortuig het dat alles in die ou bedeling, insluitende Afrikanernasionalisme, sleg was, en boedel oor te gee aan ‘n identiteitslose massa, die sogenaamde reënboognasie, wat toe geblyk het eenvormig swart te wees.

Dis heel moontlik dat daardie naiewe blankes vandag voel hulle het beheer verloor, en dat hulle stemmery vir ‘n opposisieparty in ‘n rassesensus, eintlik op ontkenning en wensdenkery neerkom.

Miskien moet ons eerder begrip toon vir bostaande identiteitslose, verdwaalde siele wie se ganse wêreldjie net nog verder verkrummel elke keer as Malema sy mond oopmaak. Kan ons probeer verstaan waarom hulle dan in reaksie op ons wat selfbeskikking voorstaan skel, want selfs die mees idealistiese blanke van 1994 besef al teen dié tyd dat die sg reënboognasie eintlik nooit bestaan het nie?

Dit is immers menslik en moeilik om veral aan jouself te erken dat jy verkeerd was, en om aan jouself te erken dat om telkens deel te neem aan die rassesensusse wat verkiesings is, voldoen aan een definisie van kranksinnigheid, naamlik om dieselfde handeling oor en oor te herhaal maar telkens ‘n ander uitkoms te verwag. Hierdie aartsverkrampte verdwaaldes en verlooptes beleef ‘n eksistensiële krisis; hulle besef dat hulle denkraamwerk waaraan hulle so verbete probeer vasklou uitgedien en foutief is.

Daarom fokus hulle nou hul woede op die boodskappers; diegene wat uitwys dat selfbeskikking, al is dit selfbeskikking saam met blankes in ‘n land waarheen jy emigreer, ons enigste hoop is.

домашние тапочки для мальчика купитьtopcargo

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.