Die heldedaad van Dirkie Uys

Dirkie Uys-paneel
Deel op

Dirkie Uys-paneelDie terugtrekkende Zoeloes het op 17 Februarie 25 000 beeste, en baie skape, bokke en perde saamgeneem. Waens en gereedskap was totaal verwoes, die laers tot niet gemaak, en 282 wit en 250 bruin mense vermoor.

Hele gesinne was uitgewis. Daar was feitlik geen gesin wat geen dode moes afstaan nie. Baie mense wat welvarend was, is eensklaps verarm deur die verlies van al hul besittings. Sterk manne het soos kinders gehuil, skryf D.W. Krüger. Later is naby die moordtoneel ‘n dorp aangelê: heel gepas genoem Weenen.

Die trekkers kon die onheilsdag van 17 Februarie 1838 nooit vergeet nie. Mense soos die latere president Paul Kruger het die afleiding gemaak dat hulle swart mense nie kan vertrou nie. Enkeles het wonderbaarlik aan die dood ontkom, soos die twee meisies Johanna van der Merwe, wat 22 asgaaisteke gekry het, en Catharina Prinsloo met 17. Albei het van hul wonde herstel. Gert Lukas Joubert het 22 wonde oorleef.

Op 20 Februarie het die trekkers uit ‘n brief van ‘n Brit verneem wat die lot van Retief en sy manne was. Party het nou gepraat van terug trek uit Natal, maar veral die vroue van die vermoordes wou nie daarvan hoor nie. Hulle het die mans gedreig om self die bloed van die onskuldiges te wreek. Ook Maritz het die trekkers vermaan om sterk te wees.

So het hulle besluit om in Natal te bly, voorlopig in enkele laers saamgetrek vir groter veiligheid, en boodskappers gestuur om hulp van Potgieter en Uys te vra.

Hulle het albei gehoor gegee, maar nie een van die twee was geneë om in ‘n ekspedisie onder die ander te dien nie. Eindelik is ooreengekom dat elkeen sy eie kommando sou aanvoer, terwyl Maritz as laerkommandant sou agterbly. Uys en Potgieter, albei dapper, het temperamenteel baie van mekaar verskil. Potgieter was uiters versigtig en berekend en sou hom nie onnodig in gevaar begeef nie. Die meer voortvarende Uys was bereid om dit wel te doen as hy dink hy kon so sy doel bereik.

Die kommando van 347 man het op 6 April 1838 die laer in twee afdelings verlaat en noordoos getrek om Dingane se stad aan te val. Op 11 April beland hulle egter in ‘n hinderlaag by Italeni. Sommige vertel dat Potgieter die mense gewaarsku het om nie verder te gaan nie, maar dat Piet Uys vinnig opgetrek het teen die vlugtende Zoeloes.

Terwyl hulle daarmee besig was, het duisende nuwe vegters skielik vlak voor en langs hulle uit die lang herfsgras opgestaan en nader gestorm. Die kommando moes haastig terugdraai, maar het daarin geslaag om vir hulle ‘n pad oop te skiet en deur te jaag. Tien Boere is egter gedood en Piet Uys gevaarlik in die heup gewond. Hy het eers op die perd aan die saal vasgehou, en toe hy voel dat sy kragte weens bloedverlies afneem, van sy perd afgegly en sy manne toegeroep dat hy daar gaan sterf. “Red julleself, kêrels, maar veg soos manne!”

‘n Entjie verder het sy twaalfjarige seun Dirkie teruggekyk en sy vader omring deur Zoeloes gesien. Hy was al buite gevaar, maar het teruggejaag, twee Zoeloes geskiet en by sy vader neergestort, deurboor deur asgaaie. Dirkie Uys se heldedaad sou nooit vergeet word nie.

сколько стоит лечение пародонтозаданильченко юрій Харків

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.