Lei ons dommes na die beloofde, liberale land!

Deel op

Die titel van hierdie stuk was amper-amper “Moenie Afrikaners se intelligensie onderskat nie.” Ek het my egter bedink. Afrikaners en intelligensie in dieselfde sin is immers soos militêre intelligensie; ‘n teenstrydigheid, sou jy kon sweer.

Kom ek gee dus toe: Helfte van Afrikaners se intelligensie, gemeet teen ander Afrikaners s’n, is onder die groep se mediaanintelligensie. Laasgenoemde feit het George W Bush terloops glo verskriklik verbaas toe hy dit van Amerikaners moes verneem.

Ons is ook ongetwyfeld veel minder intelligent as die selfaangestelde meesterras, die blanke liberaal, ‘n superieure skepsel wat dikwels ‘n identiteits- en volklose, blanke Engelssprekende Suid-Afrikaner is, maar eweneens soms ‘n Afrikaner wie se enorme breinkrag (wel, vergeleke met die res van ons s’n) hom na sy beskeie mening in amper dieselfde klas as die Engelssprekende liberaal plaas.

Só weet ons, want daardie rugby-genie, Luke Puke Watson, het ons mos hoeka “thick Dutchmen” genoem. Athol Trollip, ‘n vername Ingelsman en parlementêre leier van die DA, het ook ‘n histeriese tirade per epos geloods waarin hy Afrikaners op ‘n Milner-agtige wyse as “idiots” bestempel het.

As Trollip kon, sou Afrikaners stellig nie gedwing wees om geel sterre te gedra het nie, maar eerder ‘n donkiestert of dan wat die immer-klasbewuste Ingelse so sjarmant ‘n “dunce cap” noem. Wat was nou weer daardie oulike woordjies van my jeug wat die geniale Engelse ons toegesnou het? O, ja. “Rock spider.” “Hairyback” en soortgelyke troetelnaampies.

Ek het aan bostaande gedink na aanleiding van die voorval van die ses manne wat dit op hulself geneem het om Nelson Mandelarylaan in Pretoria na Clive Derby-Lewislaan te herdoop dmv plakkers. Dit was asof daar stukkies sagteware in sommiges se skedels loop, wat outomaties aangeskakel is en wat sommige kommentators op nuuswerwe en Facebook, asof dit ‘n refleks was, maak tik het: “Verkramptes!” en “Klippies en Coke!”

Selfs ons, die ou dom Afrikaners, verstaan die beledigings opgesluit in bostaande woordjies. Verkramp dui op ‘n soort agtergelatene, een wat nie die realiteite van ‘n veranderde omgewing wil aanvaar nie. Ek weet ek as een van die dom Afrikaners is nou nie eintlik veronderstel om sulke vrae te vra nie, maar is die meerderwaardige liberale wat desperaat bly vaskleef aan die hersenskim van die sogenaamde reënboognasie, en wat nie die realiteit van swart regerings wil aanvaar nie, nie die eintlike verkramptes hier in 2011 nie? Dit is immers hulle wat eenvoudig nie wil aanvaar dat hulle verkeerd was in 1994 nie, en wat elke dag verneder word soos nog wanbestuur, verval en korrupsie aan die lig kom en in die proses nog ‘n spyker in die doodskis van hulle mislukte NSA kap.

Laasgenoemde skelwoordjie, een wat verwys na Klipdrift-brandewyn, is eweneens ‘n verwysing na wat ek en my ou kômmin gabbas op die Oosrand (ek sê) ‘n 1-2-3 persoonlikheid sou noem: 1 liter brandewyn, ‘n 2-liter Coke en ‘n 3-liter Ford Cortina.

Uiteraard dien die toesnou hiervan dus om die volslae meerderwaardigheid van diegene wat dit uiter opnuut in hulle eie koppe te bevestig, hulle wat hulself tog so verhewe voel bo die Klippies-drinkers. Ek sal myself weerhou daarvan om te vra waarom hulle hulself so genoodsaak voel om mekaar deurlopend hiervan te verseker.

Daar is wel een, klein, tegniese puntjie waarop ek daardie verhewe indiwidue wel wil wys: Beeld, een van Naspers se publikasies wat self lekker onder die ou dom verkramptes inklim, het self berig dat dié ses manne ook ingenieurs en rekenmeesters ingesluit het. Goed, ek weet, enige Julius Malema en sy maat gee hulself deesdae as ingenieurs uit, maar ek verstout my om te sê die ou dommes hierbo genoem se brûe gaan nie soos sekere houtwerk-savante s’n in duie stort nie.

Kom ek gee daardie superieure, verhewe, hiper-intelligente liberale egter weer eens gelyk, en sê dat die liberaal se stereotipe akkuraat is. Selfs ‘n Afrikaner-rekenmeester, as sy politieke oortuigings regs van aard is, is per definisie dommer as Julius. Ek weet dis nie my plek om te vra hoe hierdie soort veralgemenings klop met die einste liberales so links en regs opgee oor hoe mense juis nié op grond van hul etnisiteit gestereotipeer mag word nie. Ek is kennelik te dom om te verstaan wat vooroordeel eintlik vir die liberaal beteken.

Wat was die komiese ou woordjie wat die een anderdag gebesig het tydens ‘n bekgeveg? O, ja: “nuanse.” Ek verstaan nie die fynere nuanse daarvan wat die superieure liberaal wel kan toelaat om Afrikaners as rassiste, Klippies-suipers en verkramp te mag stereotipeer nie.

Dit word egter wel toenemend duidelik dat alle klasse van ons Boetmanne, ons as “idiots” en “thick Dutchmen”, die bliksem in is. Dis nie net die armes of ongeskooldes nie. Abel Malan is ‘n gegradueerde, nes diegene wat die straatnaam na bewering wou verander. Ons is weliswaar dom, te dom om te verstaan waarom ‘n terroris wat geweier het om geweld af te sweer en wat lank voor Malema gesing het Kill the Boer, kwansuis vir ons ‘n held moet wees.

Ook is ons te dom om te verstaan hoekom werkreservering vir blankes verkeerd was, maar rassistiese regstellende aksie glo nie. Ons kan ook nie verstaan waarom ons onder dwang Skandinawiese vlakke van belasting moet betaal, maar geen seggenskap oor die besteding daarvan het nie. Ek is veral persoonlik te dom om te verstaan waarom die Suid-Soedannese hul eie land mag verkry, maar alle Afrikaners wat dieselfde verlang, doodgeskree word met die term “rassis!”

Ek nooi dus hierdie immer-hovaardige, superieure intellektuele uit om vir ons te sê wat hulle oorlewingsplan vir blankes in die Nuwe Suid-Afrika is, ‘n land waaran almal se menslike ontwikkelingsindeks, maar veral swartes s’n, tussen 1995 en 2010 totaal in duie gestort het, volgens die VN.

Skyn die lig van julle geweldige intellek op ons, en lei ons na die beloofde land van liberale naasteliefde en voorspoed. Vae konsepte soos om “hande te vat” of wensdenkery soos opposisie-koalisies in ‘n land met ‘n 80% persent swart oormag, gaan egter nie eens vir my, die ou dom Afrikaner-verkrampte, of jou deursnit Klipdrift-liefhebber, oortuig nie.

настольные игры для детейалександр лобановский класс

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.