Van konflik tot vreedsame Afrikanervolkstaat

Die ANC en sy bondgenote voer reeds dekades lank ‘n stryd teen die Afrikaner waarvan die einddoelwit ons verdrywing uit die land is. Mbeki het immers van ons gepraat as die “setlaars wat versuim het om te vertrek”. Die huidige intensifisering van die “nasionale demokratiese revolusie” deur Malema en die ANC-jeugliga maak deel uit van ‘n konsekwente ideologiese en politieke aanslag waarna mnr. PW Botha destyds met groot stelligheid as die “totale aanslag” verwys het.

In die verlede en selfs sedert 1994 het die ANC al openlik na “die oorlog” verwys wat hy teen “apartheid en kolonialisme” voer. Laasgenoemde twee begrippe vertaal etnies in die oorblywende Afrikanerbevolking in die land.

Die Amerikaanse weermag beskik oor ‘n definisie vir “lae-intensiteitskonflik” (LIK) wat oral op die internet aangehaal word:

Low-intensity conflict: a political-military confrontation between contending states or groups below conventional war and above the routine, peaceful competition among states. It frequently involves protracted struggles of competing principles and ideologies. Low-intensity conflict ranges from subversion to the use of the armed forces. It is waged by a combination of means, employing political, economic, informational, and military instruments. Low-intensity conflicts are often localized, generally in the Third World, but contain regional and global security implications.

As ons bogaande definisie aanvaar, moet ons erken dat die graad van geweld in SA, asook die voortsetting van intense propaganda, tesame met politieke en ekonomiese dwangmaatreëls, wel op ‘n vorm van LIK dui.

In die verlede het die konflik deur middel van terreurdade, aanvalle op burgerlikes, globale propaganda en belastering geskied. Soos Julius Malema ons onlangs verseker het, was die sogenaamde “onderhandeling” in 1994 bloot daarop gemik om takties die oorhand te verkry en ‘n tussentydse oordrag van politieke, militêre en gebiedsmag aan die ANC te verseker, waarop die verdere fases van die revolusie volvoer sal word.

Tans word daar van besetting van plase gepraat. Maar besetting deur die ANC geskied ook op vele ander gebiede en daar word kort-kort daarna verwys om “blanke gebiede” waar mense vir opposisiepartye stem “in te neem”. Besetting vind dus tans nie soseer militêr deur Umkhonto we Sizwe se magte plaas nie, maar nie-gewelddadig, met bepaalde etniese, politieke en ekonomiese implikasies. Dit volg meer die model van ‘n “inval van die armes” soos dit in die Franse skrywer Jean Raspail se beroemde roman Omsingel die laer van die heiliges geskets word.

Die vraag is hoe die Afrikaner op hierdie vreemde vorm van konflik, “oorlog met ander middele”, moet reageer? Kennelik moet die eerste vorm van reaksie wees om onsself teen sporadiese geweld, “misdaad” en dergelike te beskerm. Dit geskied reeds deur sogenaamde privaatveiligheidsmaatskappye, maar die besettingsprobleem word nie deur hulle aangespreek nie, weens die afwesigheid van enige territoriale bewussyn of selfs net ‘n besef van wat werklik aan die gang is, volgens die LIK-definisie.

As ons dus praat van maniere hoe die Afrikaner sekere dele van die land kan herower of herbeset, dan sal ons uiteraard een of ander vorm van Afrikanerveiligheidsdiens of “milisie” moet verkry, soos wat die ou kommando’s was. Dit gaan nie om enige militêre weerstand teen besetting nie, maar om blote beskerming teen die verdrywingsproses wat tans aan die gang is, waar ons mense deur geweld van plase af verdryf word of tot emigrasie oorreed word.

Myns insiens lê die sleutel tot die vestiging van homogene Afrikanergebiede in wetstoepassing, om met ander woorde funksies van die SAPD wat hy nie meer verrig nie, oor te neem. Die herinstelling van wet en orde, asook streng reëls, in sekere gebiede sal vanself die kriminele/gewelddadige element na ander dele van die land verplaas. Voeg daarby die toepassing van bestaande wetgewing teen straatsmouse, informele behuisingstrukture, onpadwaardige voertuie, oorlaai van voertuie, vervalste lisensies, vervoer van gesteelde goedere, ens., en ons kan sien dat “eerstewêreldenklawes” met reëls en wette herskep kan word.

Soos ‘n joernalis van Beeld onlangs vir my geskryf het: “Dit alles staan en val op die WAAR. In die begin 90′s was daar ‘n hele battery volkstaters wat in en uit die World Trade Centre beweeg het. Elkeen het ‘n ander plek gehad waar dit moet wees. Nie een was werkbaar nie. Die grap was later gemaak dat elkeen se volkstaat sy eie plaas/besigheid/huis as die middelpunt het.”

Vyf of ses jaar gelede het dr. Willem van Heerden sy boek “Hartland vir die Afrikaner” vir my gestuur wat in 1990 verskyn het. Dis myns insiens die deeglikste stuk navorsing wat daar oor die onderwerp gedoen is, want hy is ‘n ingenieur en werk met statistieke, ekonomiese faktore, landbougrond, ens. Daaruit het ek ‘n rowwe kaart gemaak wat myns insiens die beste deel van die land met die minste “allochtone” – ek hou van dié Nederlandse term wat daar algemeen gebruik word – verteenwoordig. Daar is min detail op die kaart, maar ‘n mens kry die algemene idee.

{jathumbnail off}Afrikaanse republiek of volkstaat

Ek skat dat Afrikaners so veertig persent van die bevolking op my rowwe kaart uitmaak, behalwe die gebied rondom Bloemfontein wat Mangaung insluit. Op Van Heerden se kaarte word Mangaung uitgesluit. Maar ek redeneer dat daar in elk geval ‘n mate van bevolkingveskuiwing gaan plaasvind. Aan die einde van die tweede wêreldoorlog moes 15 miljoen Duitsers uit hul Oos-Europese nedersettings padgee en ‘n miljoen Franse moes Algerië ná onafhanklikwording verlaat. Om nie te praat van die vier miljoen ZImbabwiërs wat sedert Mugabe se “groot sprong vorentoe” oor ons grense gestroom het nie. Ek hou van die Spaanse gedagte om immigrante te betaal om huis toe te gaan. Sodra daar geen maatskaplike toelaes of regstellende aksie meer in die volkstaatgebied is nie, sal daar in elk geval ‘n natuurlike uitwaartse beweging plaasvind wat aan ons die demografiese meerderheid in die gebied sal besorg. Trouens, ons behoort vir sewentien jaar lank regstellende aksie ten gunste van ons eie mense toe te pas om weer die balans te herstel. McDonald’s of Standardbank sal dan Afrikaners agter hul toonbanke moet begin aanstel as hulle in die Afrikaanse Republiek wil handel dryf!

Suid-Afrika – eintlik die hele kontinent – beskik oor ‘n baie beweeglike bevolking wat gedurig agter werk of hulpbronne aan trek. Dis eenvoudig verbysterend hoe Gauteng of die ou PWV-gebied se bevolking jaar na jaar styg, ook met buitelanders wat oor ons grense stroom. Die Afrikaner sal ook ‘n deel van die PWV vir homself moet toeëien, anders sal hy nie ekonomies die mas opkom nie.

‘n Voordeel van verstedeliking vir ons is egter dat groot dele van die platteland besig is om drasties te ontvolk. ‘n Mens kan kilometers ry sonder om ‘n mens teë te kom. Dus gaan dit meer oor watter stedelike konsentrasies by die volkstaat ingesluit word en watter nie.

Oor ‘n week of twee sien ek iemand wat ook met ‘n “hartland” werk en wat blykbaar insgelyks die deel oos van Pretoria tot by Richardsbaai insluit. Ek het ook al gedink ‘n mens kan so ‘n “korridor” na Richardsbaai toe trek en sodoende darem Paul Kruger se droom van ‘n hawe aan die Ooskus verwesenlik.

Die hele volkstaatkonsep sal egter staan of val by die gebruik van vreemde arbeid. Tot dusver is Orania en Kleinfontein die enigste twee plekke in die land waar mense geheel en al sonder gekleurde arbeid klaarkom. Myns insiens sal ‘n volkstaat outomaties of vanself ontstaan sodra ons mense nie meer swart tuiniers, bediendes, kelners en ander laag besoldigde dienswerkers in diens neem nie. Afrikaans is ook ‘n faktor want ons het nou al gesien dat Afrikaanstalige skole hoofsaaklik homogeen bly omdat die res van die “Suid-Afrikaners” – ‘n wanbegrip want eintlik het Suid-Afrika in 1994 opgehou bestaan en moes dit lankal na “Azanië” herdoop gewees het – Engels as hul kultuur- en opvoedingstaal verkies.

Op pad na ‘n volkstaat kan daar egter outonome kantons uitgeroep word. Dis min of meer Jaap Kelder se idee. Soos in Sannieshof, moet Afrikaners begin om hul eie munisipale dienste te verskaf en hul rug op die ANC-munisipaliteite te keer. Eintlik is dit wat Orania en Kleinfontein reeds doen. Indien dit gepaardgaan met ‘n volkseie arbeidstrategie, sal sterk homogene gebiede binne slegs enkele jare ontstaan wat agterna by mekaar kan aansluit om groter staatkundige eenhede en ‘n uiteindelike volkstaat te vorm.

Onlangs op die Praagwebwerf was daar ‘n satiriese stuk deur Skoppensboer wat die punt maak dat sekere kantons of volkstaatgebiede selfs by die Nederlandse koninkryk kan konfedereer!

Feit is dat Suid-Afrika soos ons hom ken ‘n maaksel van Brittanje se koloniale beleid is. Swaziland en Lesotho is onafhanklik en ons nie omdat die Britte dit so besluit het. Selfs die ANC is ‘n skepping van Trevor Huddleston en die Anglikaanse Kerk. Swede se finansiële bydrae het ook deur Huddleston se toetrede geskied. Indien Afrikanerkundigheid en -belastings van ANC-strukture onttrek word, sal hulle grotendeels in duie begin stort, veral op plaaslike vlak.

Dit sal dan nuwe staatkundige moontlikhede begin skep en met Brittanje wat geopolities verswak het, kan ons dié keer ‘n ordentlike stuk grondgebied bekom en ons soewereiniteit terugkry. Die huidige multi-etniese staat is eenvoudig nie volhoubaar nie, tensy jy ‘n arsenaal wetgewing en reëls het soos in die EU met amptenare wat ernstig is oor die nakoming daarvan, wat ons nooit gaan hê nie. Ons sien tans met die Griekse krisis watter ekonomiese spanning die verskille tussen die suide van Europa en die res veroorsaak.

Intussen moet Afrikaners egter ‘n paar pionne op die skaakbord kry deur hul eie gemeenskappe op plaaslike vlak te begin administreer en te beveilig.

Ons grootste enkele probleem is media en die feit dat die groot Afrikaanse media so erg onder Britse en Amerikaanse invloed verkeer, met die slaafse navolging van die sogenaamde multikulturele samelewing wat nóg in die VSA nóg in Brittanje werk en reeds in vele Europese lande as onhaalbaar bestempel is. Indien Afrikaners oor eie media beskik het, sou die probleem lankal opgelos gewees het, want daar sou rigting in ons politiek gewees het. Terwyl ons nou al vir twee, drie dekades rondval en fatalisties ons gestadigde ondergang aanvaar.

Prakties kan ons ‘n volkstaat tot stand bring deur op die volgende elemente te fokus:

Afrikaans

Ek dink ons kan met veiligheid sê dat Afrikaans reeds dekades lank ‘n speelbal is van die sielkundige oorlog wat in hierdie land woed. As lokus van Afrikaneridentiteit moet dit onderdruk word en uit die openbare sfeer geweer word. Afrikaans beskik egter ook tans oor ‘n sterk afstotende krag. Dikwels kla swart rubriekskrywers in Engelse koerante byvoorbeeld oor Afrikaans wat steeds op medisynepakkies vertoon, naas Engels. In Israel het ek gesien hoe Hebreeus as openbare taal, naas Engels en Arabies, as instrument van die Israelse nasionalisme gebruik word. In voortaan veilige eerstewêreldkantons of -enklawes wat van plakkerskampe gesuiwer word, sal Afrikaans op openbare borde net soos in Israel of Vlaandere onmiddellik ‘n “taalgrens” trek. Selfs blanke nie-Afrikaners sal onwelkom in ‘n nie-Engelse omgewing begin voel en waarskynlik wegtrek na die meer Britse/Amerikaanse “res van Suid-Afrika”.

Nie-gewelddadige besetting deur ons eie mense

Bestaande armblankes, oumense en ekonomies onaktiewe Afrikaners kan stelselmatig na die voorgenome volkstaatgebied verskuif word. ‘n Mate van dwang kan selfs gebruik word! Ná die Camp David-ooreenkoms tussen Israel en Egipte, het die Israelse regering Joodse setlaars in die Gasastrook met geweld verwyder. In elk geval is ANC-stadsrade vyandig teenoor blanke plakkers en sal nie omgee indien die Afrikanermilisie, tesame met Afrikanerorganisasies, plakkers uit hul gebiede verwyder nie. Natuurlik moet daar egter ook aantreklike nuwe vooruitsigte aan dié mense gebied word.

Kibboetse

Sowel armblankes as jong buitelanders kan op kibboetse werk en sodoende voedsel produseer, maar ook die plaaslike bevolking versterk.

Aandrang op “volkseie arbeid”

Die een groot sukses van Orania en Kleinfontein is dat daar, ondanks geweldige probleme, ‘n kultuur van sogenaamde “volkseie arbeid” gevestig is. In die hele gebied, terwyl dit nog onder ANC-heerskappy staan, sal daar stelselmatig van eie arbeid gebruik gemaak moet word. Sodoende sal allochtone werkloosheid natuurlik styg en ‘n uitvloei na die “res van Suid-Afrika” bewerkstellig. Myns insiens is die huidige maatskaplike toelaes nie genoeg om die allochtone bevolking ekonomies te laat oorleef nie, veral ook waar die informele ekonomie deur streng wetstoepassing aan bande gelê word.

Openbare druk op groot maatskappye

Sodra die volkseie-arbeidsbeginsel onder ons eie mense, boere en klein sakemanne gevestig is – geen geringe taak nie! – kan verbruikers en die publiek teen groot maatskappye gemobiliseer word wat steeds aanhou om allochtone agter kasregisters en toonbanke in diens te neem. Deur onderhandeling met maatskappye kan kwotas beding word wat algaande opgeskuif sal word soos wat ons die demografiese oorwig in die gebied begin behaal. Natuurlik sal die taalkwessie en intense taalstryd wat oral in die gebied, soos in Vlaandere, sal woed, verdere druk op maatskappye verseker om Afrikaners in diens te neem.

Eie plaaslike rade

Die oprigting van eie plaaslike rade in mededinging met die ANC-rade na mnr. Jaap Kelder en die Nasionale Beastinbetalersunie se model sal ten minste die behoud van plaaslike belastings vir besteding in Afrikanergebiede verseker. ANC-stadsrade, ook weens die kultuur van wanbetaling onder ANC-kiesers, tesame met die verslegtende ekonomiese posisie van sulke kiesers weens volkseie arbeid, sal veroorsaak dat oorblywende ANC-rade deur die sentrale regering “gedra” sal moet word. Vir die eerste keer sal die ANC se besetting van die Afrikanergebied hom dus begin geld kos, wat nie sonder meer van die Afrikaner-onderdane verhaal sal kan word nie. Soos die VSA, Rusland of China, sal hy sy imperialistiese aptyt teen sy finansiële vermoëns moet begin opweeg. Sal hy kan bekostig om sy kaders, polisie, weermag, onderwysers en ander amptenare in ‘n gebied te ontplooi waaruit hy nie meer veel belastings of inkomste – ‘n tipiese “duur kolonie” – verkry nie?

Sodra die Afrikaner begin besef dat hy inderdaad met ‘n oorlewingstryd besig is en dat die “oorlog” waarvan die ANC al dekades lank praat glad nie geëindig het nie maar nou bloot à la Von Clausewitz “met ander middele” voortgesit word, sal ‘n legio van strategieë na vore kom. As ek enigiets uit bogaande sou kon opsom, sou dit die volgende wees: nougesette wetstoepassing, Afrikaans as openbare taal en volkseie arbeid sal ‘n “onvriendelike” omgewing vir allochtone inwoners skep wat deur ‘n proses van osmose die demografie in die gebied in ons guns sal laat kantel. Sodra dit gebeur het, kan ons by wyse van ‘n referendum onsself formeel ten gunste van onafhanklikheid uitspreek. Die slag sal egter reeds gelewer wees en soos in Soedan, sal die sentrale regering genoodsaak wees om afstigting toe te laat. Nes die Boererepublieke sal die nuwe Afrikaanse republiek waarskynlik universeel erkenning deur sowel die VN as ander lande geniet.

Voel vry om kritiek op my idees uit te spreek. In die praktyk het Orania en Kleinfontein egter bewys dat dit gedoen kan word indien mense genoegsaam gemotiveer is en hulself ideologies tot ‘n Afrikanergebied verbind. Dit moet bloot op ‘n baie groter skaal gedoen word en daar moet finaal van die koloniale of apartheidsverhoudinge afgesien word waar Afrikaners groot getalle ander mense in diens neem, vir hulle verantwoordelikheid aanvaar en allerlei welsynsdienste verskaf, net om deur hulle met rasnasionalistiese vyandigheid en stemme vir die ANC terugbetaal te word.

Inderdaad moet ons “apartheid” as naasbestaan tussen wit en swart finaal beëindig en voortbeweeg na ‘n staatkundige afskeiding wat vir die internasionale gemeenskap veel meer begryplik en aanvaarbaar is. Daar is die heel onlangse voorbeeld van Suid-Soedan, maar ook vele ander soos Kosowo, Slowenië, Kroasië en ander lande wat eers deel van die ou Joego-Slawië was, die Baltiese state, asook Georgië, Oekraïne en ander lande wat uit die ou Sowjetunie afkomstig is.