Kan Afrikaners sonder selfbeskikking ekonomies oorleef?

Nou die aand bespreek dr Christo Landman en ek die kwessie van ons Afrikaners se ekonomiese oorlewing. Aan die einde van ons gesprek kom ons tot ‘n gevolgtrekking wat ek sedertdien as aksiomaties beskou:

Die behoud van die Afrikaner binne die huidige sosiaal-politieke konteks is afhanklik van sy vermoë om ‘n eie ekonomie vir homself in te rig en te bedryf. Daardie ekonomie kan deel vorm van die landsekonomie, maar moet ‘n sektor wees wat deur Afrikaners self beheer word. Daarsonder het hulle geen toekoms in Suid-Afrika nie.

Werkreservering sonder ‘n tydsraamwerk en wat as “affirmative action” bekendstaan, diskrimineer teen blankes en bevoordeel swartes. Afrikaners ervaar dit as ‘n strafmaatreël wat hulle permanent gaan benadeel. Hul fisieke en ekonomiese oorlewing verg dus ‘n vars benadering.

Die regerende ANC kan net aan die bewind bly in die mate waartoe daardie party in staat is om die demografies dominante en armlastige/werklose swart bevolking met sosiale welsynsdienste “tevrede” te stel. Sou hy daarin faal, sal hy deur ‘n interne rewolusie verdwyn.

Volgens die Afrikadenkmodel van die heersers beteken derdevlakregering nie dienslewering nie, maar sosiale welsynsprogramme vir sy kiesers, gekoppel aan verryking vir sy magsugtige kaders.

Hiervoor word die werkende middelklas finansieel gemelk, deurdat die middelklas progressief met oormatige persoonlike en besitsregbelasting uitgesuig en verarm word.

Die resultaat hiervan is dat ‘n groeiende getal witmense in ‘n bodemlose put van armoede in Afrikanerkrotbuurtes gedompel word. Sodoende verloor Afrikaners hulle identiteit, individualiteit en samehorigheid.

‘n Armoedeprobleem van ongekende omvang, die ergste sedert die Anglo-Boereoorlog en wêrelddepressie, het nou ontstaaan. Eienaardig genoeg word daardie feit egter deur die oorgrote meederheid Afrikaners op ‘n roekelose, selfsugtige en onverskillige wyse geïgnoreer.

Die resultaat van die ANC se ekonomiese politiek sedert 1993 is die totstandkoming van ‘n klein ryk elite/bourgeoisie van wittes en swartes. Daardie twee groepe voer ‘n parallelle bestaan. Daarbenewens bestaan daar ook ‘n groeiende proletariaat van swart en wit massas. ‘n Proletariaat besit niks anders as net hul kinders nie – die klassieke teelaarde vir ‘n maatskaplike en ekonomiese rewolusie.

Gaan werklose en armsalige Afrikaners naderhand ook deel uitmaak van die klipgooiende en plunderende swart massas wat elke dag gevaarliker word?

Waarskynlik nie.

Die huidige politiek-ekonomiese stelsel is dus besig om in ‘n klassestryd te ontwikkel wat die etniese differensiasie van 1910-1993 met ‘n klassesisteem vervang en word die kiem van sosiale rewolusie teen vrye ondernemerskap reeds gesaai. Dit moet en sal noodwendig op ‘n bloedige rewolusie uitloop.

In hierdie klassestryd word honderde duisende Afrikaners vanweë hul velkleur kunsmatig op groot skaal op die sosiale hiërargie van middelklas tot proletariaatstatus verlaag. Hul inherente mededingendheid op ekonomiese terrein word deur wetgewing en ANC-beleid van hulle ontneem.

Om hulself van ondergang te red bestaan daar vir Afrikaners die volgende toekomsbeelde:

  • Ekonomiese, maatskaplike en fisieke ondergang met die gepaardgaande vernietiging van hul menswaardigheid sou die status quo veel langer gehandhaaf word.

  • Grootskaalse emigrasie na oorsese lande asook elders in Afrika.

  • ‘n Stelselmatige volksverskuiwing na die platteland, waar nuwe ekonomiese modelle geskep sal moet word en wat op hul eie oorlewing ingestel is.

  • ‘n Droom van ‘n eie vrye land wat oor dekades lewend gehou sal word.

Vir oorlewing moet Afrikaners hulself uit hierdie klassieke klassesisteem onttrek.

Hul oorlewing as Westerlinge lê dus nie in die stede nie, maar in die buiteland of in die land se plattelandse dorpe waar hulle die plaaslike ekonomie kan stimuleer en oorheers.

Afgesien van die klein Afrikaner-elite wat superryk of supergekwalifiseerd is, het Afrikaners dus geen bestaansmoontlikheid in Suid-Afrika sonder fisieke beheer oor sy onmiddelike ekonomie nie. Hul genetiese en kulturele oorlewing is direk afhanklik van ekonomiese selfbeskikking om hulself uit ‘n sosiale moeras uit te lig. Die genoemde supermense is ook die mees mobiele en kan binne enkele dae die land verlaat as die nood sou druk.

Die proletariaat is aan sy lot oorgelaat.

Die bywonerkultuur van ouds moet byvoorbeeld weer om die dorpe hervestig word en derduisende leë plaaswonings kan weer beset word. Hiermee kan die georganiseerde landbou meehelp om wittes op plase te hervestig en waar plaasskole weer tot stand gebring kan word. Natuurlik verg dit ook ‘n doeltreffende buurtwagstelsel. As plaasmoordenaars en plaasbesetters nie in diens geneem word nie sal die beveiliging noodwendig doeltreffender kan funksioneer.

Op die platteland sal die Afrikaner weer leer om benewens sy eie voedsel, ook mikronywerhede soos kos- en koeldrankverwerking, hout-, leer– klei- en staalprodukte, kleinboerdery en elektroniese produkte deur selfwerksaamheid te produseer. Daarbenewens bestaan daar ook baie plattelandse geleenthede vir eiendoms- en nywerheidsontwikkeling, toerisme, ens. Die oorkonsentrasie van kapitaal in die stede moet algaande na die platteland verskuif soos wat Afrikaners die ekonomie van plattelandse dorpe deur hul kundigheid stimuleer.

Ek wil beweer dat ekonomiese oorlewing hand aan hand gaan met politieke selfbeskikking, hetsy op dorpsraadvlak, provinsiale vlak of op staatsvlak. Sonder politieke selfbeskikking staan die Afrikaner geen kans op oorlewing teen ‘n politiek-ekonomiese stelsel wat inherent daarop ingesteld is om hom “in die nasionale belang” van sy bates te vervreem nie. Politieke selfbeskikking wat de facto deur plaaslike belastingbetalers opgeëis word, is onteenseglik die sleutel tot ekonomiese selfbeskikking en vooruitgang.

Met ‘n groeiende ekonomie sal die uitvoerende magte vir die inwoners ook groei. Dit is absoluut onaanvaarbaar dat byna 50% van die belastinggeld wat vir ‘n dorp se dienste bedoel is, aan salarisse van swak gekwalifiseerde amptenare sonder ervaring afgestaan word. Of dat R700 000 belastinggeld vir ‘n inhuldigingspartytjie van ‘n burgemeester bestee word, iemand wat bonop ook nie ‘n woord van die belastingbetalers se taal kan of wil verstaan nie.

Selfbeskikking op dorpsraadvlak is dus in Afrikaners se eie hande en kan dadelik opgeëis word deur middel van Afrikaners se belastingsmag soos reeds suksesvol deur verskeie plaaslike belastingbetalersverenigings gedoen word.

Selfbeskikking op plaaslike vlak ding glad nie mee met enige ander vorm van selfbeskikking wat Afrikaners mag opeis nie. Inteendeel, dit is wedersyds ondersteunend en versterkend. Alle Afrikaners, van watter politieke of godsdienstige oortuigings ook al, sal dit entoesiasties kan ondersteun. Met hierdie strategie kan veelvoudige planne vir elke dorp en stad opgestel word en die ekonomiese herbemagtiging van ons mense sal kan begin.

Elke dorp het sy eie leierskorps wat die graaf kan vat en begin spit. Daar lê werk voor vir julle.

Deur langer bakhand te staan vir gunsies en gawes van ‘n vreemde owerheid wat Afrikaners as derderangse burgers beskou en slegs sy eie kiesersteunbasis te paai, sal op die voortydige ondergang van ‘n eens trotse volk uitloop.

Vir verdere leestof hieroor lees gerus my vorige Praagartikels: Hoe lank nog? Asook Die Kantonfederasie.

раскрутка сайта

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.