Die Springbokspan van die motorwêreld

nissan navara
Deel op

Met minder as 90 dae na die 2011 Rugbywêreldbeker in Nieu-Seeland het ons gedink dit sal goed wees om die motors wat ons hierdie jaar sover onder hande gehad het in ‘n rugbyspan in te deel. Sou ons ‘n span moes kies uit die motors dan sou dit waarskynlik so gelyk het. Let wel dat hierdie nie noodwendig die beste motors in elke segment is nie, maar slegs die motors waarvan ons in 2011 ervaring opgedoen het.

Ons kandidate is die volgende:

BMW Z4 SDRIVE35is

Opel Astra 1.4T Enjoy Plus

GWM CB150

Audi A8 4.2 FSi Quattro

Land Rover Freelander 2 SD4 HSE

Nissan Navara 3.0 dCi DC LE 4×4

Mazda 2 1.3 Active Sedan

Chevrolett Cruze 2.0D LTD

Mercedes Benz R300 SWB

Hyundai Sonata 2.4 GLS EXecutive

Ford Fiesta Sedan TDCi Ambiente

VW Amarok Bi TDI Highline 4 Motion

Mazda 5 2.0 Active

Audi A1 1.6 Tdi

Citroen C5 1.6 THB

Audi A7 3.0 TFSi Quattro

Range Rover Supercharged

{jathumbnail off}nissan navara

1. Nissan Navara-dubbelkajuit 

Nou kyk, ons sal die Nissan Navara op nommer een kies vir sy absolute krag en beweeglikheid. Met 170 Kw onder jou sitvlak en 550Nm se trekkrag is daar min ander voertuie in die klas wat by die Navara kan kers vashou. Voeg die vier deure en al die luukses soos navigasiestelsel met raakskerm en 30 GB hardeskyf, tru-ratkamerastelsel, ingeboude veiligheidskenmerke soos lugsakke en ‘n 4×4-stelsel wat met die draai van ‘n knop die krag eweredig kan versprei na al vier wiele en jy het nie veel ander keuses vir die nommer-1-trui nie. Ons dink dan ook dat hierdie juis die tipe voertuig is wat Koenie Oosthuisen sal kan verteenwoordig.

GWM CB150

2. GWM CB150

Hierdie voertuig is nie baie bekend by die plaaslike koperspubliek nie,maar perfek vir die posisie. Dit is ‘n stewige, sterk geboude voertuig met genoeg spasie en net die nodigste luuksheid. ‘n Blok van ‘n motor, maar tog baie beweeglik en glad nie swaar op brandstof nie. As jy hom langs die Navara trek, is hy amper net so groot en lyk hy net so sterk al is hy glad nie. Dié is ‘n stadsmotor met ‘n relatiewe klein 1,5-literenjin wat baie gewillig is. Hoe meer tyd ons met die motor deurgebring het, hoe meer het ons van hom gehou, net die voertuig wat ‘n ou soos Bismarck  sou kon verteenwoordig, nie te groot nie, maar tog intimiderend en baie gewillig.

Mercedes Benz R300

3. Mercedes Benz R300 SWB

Hier het ons ‘n motor met status. Hy is werklik groot en sterk met 200 Kw se krag en 350 Nm se wringkrag. Niemand sal ooit twyfel oor die deeglike ontwerp van die motor nie. Alles wat ‘n mens in ‘n Mercedes verwag, is teenwoordig: ‘n luukse leerbinneruim met sitplek vir sewe insittendes, grondvryhoogte beter as dié van enige van sy sedanstalmaats en tog sag op die oog. Omdat hy so groot is, is hy nie heeltemal so rats soos die res van die voorry nie. Maar boetie, as hy jou raakvat, dan bly jy raakgevat. Ons dink die perfekte ryding om ‘n ou soos Beast te verteenwoordig.

Mazda 5 Active

4. Mazda 5 Active

Dié motor is ‘n lang voertuig met baie spasie, maar hy is so slim ontwerp dat hy eintlik baie kleiner vertoon as wat hy werklik is. Die baie gewillige 2.0-liter-petrolenjin ontwikkel 107 Kw en die motor voel sommer lewendig. In sy Active-voorkoms soos ons toetsmotor,  is die Mazda met alles wat oop en toe maak toegerus. Die twee skuifdeure aan weerskante van die voertuig gly groot en maklik oop en toe en daar kan maklik by die sesde en sewende sitplekke uitgekom word. Ek moet sê, die Mazda 5 was nou vir lank die leier in die segment vir kompakte MPV-voertuie en die 2011-model is effens vernuwe aan die buitekant, maar die binneruim begin sy ouderdom wys. Hy is nog goed genoeg vir vanjaar se wêreldbeker maar dit is vir seker sy laaste kans in die span, net soos ‘n sekere Victor.

Volkswagen Amarok

5. VW Amarok 2.0 Bi-Tdi

Dié is ‘n groot voertuig; as jy nog nie een gesien het nie, doen jou self ‘n guns en gaan kyk na een. Dit is ‘n voertuig met uitstekende bougehalte en hope spasie. Alles is groot: groot sitplekke en knippe om alles te verstel. Trouens, hy is so groot ek moes hom buite parkeer; hy het nie in my motorhuis gepas nie. Die voertuig ry soos ‘n motor en dit kom net met ondervinding. VW se ondervinding van wat ‘n koper in ‘n voertuig soek, is perfek vasgevang in hierdie voertuig. As jy nie ‘n VW-aanhanger was nie sal jy een wees as jy hierdie voertuig eers bestuur het. Hy is rateltaai, baie sterk en al het hy ‘n ou klein hartjie van net 2.0l ontwikkel hy 120 Kw en ‘n allemintige 400Nm se trekkrag. ‘n Regte bakkie met krag en ‘n onmiskenbare teenwoordigheid. Net die geskikte ryding om Bakkies Botha te verteenwoordig.

Landrover Feelander

6. Land Rover Freelander 2 SD4 HSE

Kyk ‘n mens na die voertuig dan lyk hy nes ‘n klein Range Rover. Die 2011 Freelander kon inderdaad net sowel ‘n Range Rover gewees het. Hy het al die eienskappe waaroor die Range Rover beskik, dit is net in ‘n kleiner format verpak. Die 2,2-literdieselenjin ontwikkel 140 Kw en 420 Nm se terkkrag. Die legendariese 4×4-vermoë is ook daar en nes ‘n sekere Heinrich is die Freelander se grondwerk uitstekend. Bougehalte is uitsonderlik en tog vrek die skoner geslag oor hom. Alles wat verwag word van ‘n luukse en kompakte veldwerker is daar: die binneruim is met sagte leer uitgedos en jy weet sommer dat die voertuig,  alhoewel klein, ‘n wêreldklas- prestigespeler is.

Ford Fiesta

7. Ford Fiesta TDCi Ambiente

Ons keuse op flank. Dit is juis die Fordjie se groot hart wat hom die plek besorg. Die Fiesta is ‘n mooi motor, maar in die sedanweergawe het Ford so effens die mooi skoon lyne van die luikrug misgetas. Die motor bied heelwat ruimte al is hy ‘n klein motortjie: sy begasieruim is net eenvoudig verstommend groot, daar is meer as genoeg kop- en skouerruimte agter in die motor en die dieselenjin waarmee ons toetsmodel toegerus was, ontwikkel 66 Kw en 220 Nm se wringkrag  by slegs 1750 toere. Gekoppel aan die relatiewe liggewigbakwerk is hierdie kragbron besonders lewendig. Die Fiesta is nie mooi nie, maar baie bekwaam. Die perfekte motor om ’n sekere Ashley Johnson of Schalk Burger in ons nommersewetrui te verteenwoordig.

Audi A8 4.3 Quattro

8. Audi A8 4.2 Quattro

Wat kan ons nou sê oor dié motor?  Dit is seker Audi se mees gebalanseerde motor tot dusver. Daar is hope styl, hope spasie. Sy lyf is groot en gespierd net soos Pierre Spies s’n, hope krag (273Kw en 445Nm se wringkrag) net soos Willem Alberts, hope spoed net soos Pierre Spies. Die Audi se bakwerk is soepel met sterk lyne dog mooi om na te kyk, die toppunt van voorsprong deur tegniek.

Audi A1 1.6 TDI

9. Die Audi A1 1.6 Tdi

Klein dog baie vaardig, met die 1.6 Tdi-enjin wat baie lewendig voel al is daar slegs 77 Kw en 250 Nm se wringkrag beskikbaar. Die tipiese Audi-bougehalte is ook oral te sien met klein kentekentjies wat jou subtiel daaraan herinner dat hierdie nie ’n gewone klein motortjie is nie, net soos Fourie du Preez nie bloot ‘n gewone skrumskakel is nie. Hy is besonders. Alhoewel die A1 glad nie soos ander Audi’s lyk of voel nie, dink ons Audi het ‘n wenner wat menige Mini-eienaar gaan laat omkyk.

Opel Astra 1.4 Enjoy Plus

10. Opel Astra 1.4 Enjoy Plus

Ek kan nie my vinger daarop lê nie, maar iets aan die Astra laat my net van hom hou. Die bakwerk is aantreklik; die rygerief is uitstekend; die motor se verpakking en uitleg van die instrumente en binneruim is besonders vir ‘n Opel. Begasieruimte is baie goed vir ‘n luikrugvoertuig. Daar is meer as genoeg veiligheidskenmerke en die beste van alles: die Opel is altyd reg in die kol, tussen die pale deur, soos Morné Steyn. Die Astra se 1,4-turbomeuletjie ontwikkel 103 Kw se krag en 200 Nm se wringkrag. Versnelling is skaflik vir dié klas motor en hy sal glad nie sleg lyk langs ‘n rooi Z4 in jou oprit nie. Die Opel doen dít waarvoor hy ontwerp is baie goed en VW se Golf- , asook Ford se Focus-eienaars sal moet rondkyk wanneer een van hierdie in die omgewing bespeur word.

BMW Z4 SDrive 35is

11.  Die BMW Z4 sDRIVE35iS word op nommer elf ingespan

Hy is blitsig, baie veilig, kan maklik van rol verander met sy harde staaldak wat binne 19 sekondes hom van ‘n bedeesde koepee na ‘n wilde warrelwind sonder ‘n dak omskep. Die Z4 se 250 Kw en 450 Nm se wringkrag is brutaal vanaf rus tot 100km/u. Hy laat mens nogal dink aan Habana se brekies hier langs die kantlyn af. Tog lyk die Z4, met die dak op, na ‘n baie doelgerigte koepee. Slaan jy die dak af, dan is daar sekerlik niks meer doelgerig in die parkeergaraga as juis die Z4 nie. Ratskakelings is presies en klouvermoë is net vestommend. Die tipiese BMW-bougehalte is ook oral te sien met klein iS-kentekentjies wat jou subtiel daaraan herinner dat hierdie nie’n gewone Z4 is nie, net soos Habana nie net ‘n gewone vleuel is nie, maar een van die wêreld se bestes.

Audi A7 3.0 tfsi Quattro

12. Op binnesenter kies ons die Audi A7 3.0 TFSi Quattro

Die motor is groot en prakties, maar blitsig met ‘n 0-100km/u-tyd van net oor die 5 sekondes. Sy dubbelturbo- 3-liter-enjin ontwikkel 220KW en 440 Nm se wringkrag. Die Audi is net so bedrieglik sterk en vinnig soos Jean de Villiers. Menige teenstanders het al in die verlede hom onderskat en nog hope gaan weer ten spyte van sy groot lyf. Die Audi loop seepglad met uitstekende bougehalte en sterk leierskapseienskappe net soos onse Jean. Sekerlik een van die bestes tussen nutsvoertuie op die pad vandag.

Citroen C5 1.6

13. Citroën se C5 1,6 THP 155 word ingespan op dertien

Die motor is een van daardie tipe motors wat altyd daar is, alles baie goed doen en min aandag trek terwyl hulle dit doen. Die C5 ding mee in die D-segment waar motors soos die VW Passat en Honda Accord diens doen. Min mense praat van die C5, maar almal is dit eens dat hierdie een van die bestes uit Frankryk is. Daar is plek vir vyf volwassenes met begasie, die 1,6-liter-dubbelturbo-enjin ontwikkel 115 Kw en 240 NM se wringkrag. Ons dink omdat die motor ook groot is, asook vinnig en sterk en mooi – en baie onderskat! – sal hy ‘n goeie verteenwoordiger vir Jacque Fourie wees.

Range Rover Supercharged

14. Die Range Rover Supercharged was ons natuurlike keuse op nommer veertien

Die voertuig is groot en sterk en baie vinniger as wat hy vertoon. Sy veldvermoë is absoluut verstommend en wanneer jy die deure oopmaak kan jy nie glo dat een voertuig terselfdertyd so luuks, verfynd dog vermoënd kan wees nie. Daar is min ander voertuie in die land wat kan kers vashou by die Range Rover wat veldvermoë betref, maar wat tegelykertyd padvermoë en luuksheid kombineer. Die motor is as gevolg van sy grootte en al die veiligheidstelstels, wat sowel passief as aktief ingebou is, een van die veiligste motors ter wêreld. ‘n Makrovleuel soos JP Petersen sal glad nie skaam voel om deur die Range Rover verteenwoordig te word nie.

Hyundai Sonata

15. Vir die agterste posisie: die Hyundai Sonata 2.4 GLS Excutive

Hyundai is lankal nie meer die stiefkind van die motorwêreld nie. Die Sonata is seker een van die motors wat Hyundai se beeld die beste uitgebou het. Dit is ook dan waarom Hyundai nie aan sy naam gaan torring het nie. Die rtes van die Hyundai-reeks het almal nuwe “i”-name, maar die Sonata is so ‘n sterk handelsnaam dat dit baie wys was om nie aan hom te karring nie. Die Sonata is nog ‘n segment-D-speler. Hy is nou ná sy Europese draai selfs meer verfynd, nog beter aanmekaar gesit en ‘n beter kopie as ooit tevore. Sy 2,4-literenjin ontwikkel 131 KW en 228 Nm se wringkrag. Sy sagte dog sterk lyne is baie meer doel gerig en binnelangs is daar min voertuie in die klas wat hom met spasie en gemak teen die prys troef. Ons voel hy is die volmaakte kandidaat om Frans Steyn op vyftien te verteenwoordig.

магазин новогоднего освещениялобановский харьков класс

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.