Die dekonstruksie van Malema en Vice

Deel op

Sogenaamde blanke skuld maak deesdae weer opslae. Julius Malema beweer byvoorbeeld dat blankes misdadigers is wat swartes se rykdom gesteel het. Laasgenoemde sluit vermoedelik die edelmetale van die Bosveldkompleks in, waarvan Malema so graag die myne wil nasionaliseer. Daardie einste skatkis van edelmetale waaroor Malema se voorsate vir eeue lank in gatrieme rondgehardloop het, sonder om te besef wat onder hul voete versteek was. Dis eweneens nie heeltemal duidelik of Malema se voorsate juis ‘n nut vir platina sou hê nie, selfs al kon hulle dit ontgin en verfyn. Dis nie asof daar Pedi-motors met platina-katalisatore in 1652 in die Bosveld was nie. Ook is ek nie bewus van ‘n Pedi-halfgeleierindustrie wat die ander skaars metale in die Bosveldkompleks sou kon gebruik nie.

‘n Sogenaamde filosoof aan die Rhodes–Universiteit, ene dr Samantha Vice, stem egter met Malema saam. Wat Malema in een sinnetjie gesê het, het sy weliswaar ‘n ganse referaat oor geskryf, nogal in hogere akademiese Engels, maar dit kom eintlik op presies dieselfde as Malema se uitlating neer. Dié lui dat blankes onder ‘n enorme, gemeenskaplike skuldlas gebuk gaan en derhalwe  nederig ons plek moet ken en nie mag deelneem aan die politiek nie. Dié skuldlas is van ‘n bykans bybelse omvang, een wat tot die sewende geslag van elke blanke wat tans leef, sal bly voortduur. Die blanke baba wat dus in Danville van arm blanke ouers gebore word, is dus volgens dr Vice ewe skuldig aan die verdrukking van swartes, en moet dus ook van kleins af nederig en op sy plek wees. Die Danville-baba wat in sy ouers se enkelkamer in iemand se agterplaas woon, mag dus nooit droom daarvan om president te wees nie, volgens die ekstreem-linkse vernietiger van blanke aspirasies, Samantha Vice. Nou goed, dr Vice, ek sal nederig om verskoning vra dat die wrede blanke onderdrukker, Hans Merensky, die rykdom onder die Pedi’s se voete ontdek het, en vir hulle en ander swart volke derduisende werksgeleenthede geskep het wat nie bestaan het voor die aankoms van blankes nie, en oa die Bafokeng-stam in die proses stinkryk gemaak het.

Alhoewel ek g’n filosoof is nie, is dit tog nodig om snert soos dr Vice se kwasi-filosofiese argumente en ongegronde aannames te dekonstrueer en in die proses aan flarde te ruk. Die eerste opmerking wat ek dus gaan maak, is hoe vreemd dit is dat ras tog bestaan wanneer dit die ekstreem-linkses soos dr Vice pas. Soms word ons vertel ras is ‘n blote sosiale konstruk, maar wanneer dit die linkse pas, bestaan daar wel goed gedefinieerde rassegroepe en word veral blankes uitgesonder as die sondebokke op grond van ons velkleur. Die opportunistiese ontkenning en dan somtydse erkenning van die bestaan van ras is egter ‘n eenrigtingstraat. Dit word nooit erken as daar verklarings gesoek word vir die verskil in akademiese prestasie nie, maar altyd erken wanneer die vingers na sogenaamde blanke onderdrukking gewys word.

Tweedens vind ons in dr Vice se sogenaamde akademiese stuk opnuut die ou-ou kwaal van die linkse: “Moenie maak soos ek maak nie, maak soos ek sê.” Dr Vice, synde iemand met ‘n pos by ‘n akademiese instansie, skryf ‘n stuk met ‘n politieke inslag, en weerspreek haarself ernstig in die proses. Blankes mag nie aan die politiek deelneem nie, maar dr Vice maak egter self presies net so met haar anti-blanke stuk linkse Marxisme. As iemand met ‘n formele werk, asook jare se bevoorregte akademiese opleiding, is sy eweneens volgens haar eie definisie iemand wat swartes onderdruk.  Sou sy haar eie snert geglo het, het sy onmiddellik bedank ten gunste van ‘n swart dosent, haar besittings verkoop en aan die swartes uitgedeel en geëmigreer, ten einde te verhoed dat haar blanke bas nie verder bydra tot swart verdrukking nie.

Die grootste leuen waaraan beide Malema en Vice skuldig is, wat dringend dekonstruksie benodig, is die ongegronde aanname dat blankes nie ons welvaart of kwalifikasies verdien nie. Mens sou sweer elke blanke het ‘n wynplaas geërf en dat ons die dag toe ons gebore is, ‘n PhD in die spesialisveld van ons ouers se keuse vasgekram aan ons geboortesertifikate ontvang het. Dit is veral eersgenoemde, grondbesit, wat een van die voortdurende mites onder die linkses is. Daar is egter slegs sowat 30 000 kommersiële blanke boere in Suid-Afrika, dws minder as 1,5% van die blanke bevolking. Ek is nie bewus van een van daardie boere wat hulle grond by ‘n swartmens gesteel het nie. Dit is inteendeel waar dat baie blankes na afloop van die ABO na die stede gestroom het, omdat die Britte die aarde verskroei het en ons voorouers se plase vernietig het, wat destyds tot die armblankevraagstuk gelei het.

As daar blankes is wat hul grade of kwalifikasies ontvang het bloot omdat hulle wit velle het, wil ek hulle graag ontmoet. Almal wat op universiteit was tydens die vorige bedeling, kan getuig daarvan dat die mislukkingstempo ook onder hul medeblankes baie hoog was. As jy links en regs van jou in jou eerstejaarklas gekyk het, was die kanse goed dat daardie twee mense nie saam met jou sou graad vang nie.  So ook het selfs die meeste blanke graduandi groot studieskuld gehad toe hulle afgestudeer het, en moes die oorweldigende meerderheid blankes wat begin werk het, van nuuts af begin om aardse besittings op te gaar. Dit was slegs die enkele bevoorregtes in Waterkloof wie se ouers hulle ‘n hupstoot kon gee, maar weer eens was die groot meerderheid blankes in myndorpe of op die platteland op hulself aangewese. Sedert 1994 het 800 000 blankes ook in armoede verval, wat ‘n skrikwekkende een-derde van die Afrikanerbevolking verteenwoordig.

In die ekonomiese teorie word Malema, Vice en andere se mistasting ‘n nul-somspel genoem, of in gewone Afrikaans: “Die een se dood is ‘n ander een se brood.” Hiervolgens is daar altyd wenners en verloorders. As daar dus bekwame blankes is wat op verdienste hul grade met lof geslaag het, moet daar noodwendig swart verloorders wees, wat deur die wrede blanke in die proses onderdruk is en op een of ander duistere wyse verhoed is om matriekwiskunde te slaag. Soos Mandela en sy  prokureursvennoot Tambo wat tydens die apartheidsjare hulself as regsgeleerdes kon bekwaam, bedoel dr Vice seker. Waarop beide Malema en Vice se aantygings dus neerkom, is die tipiese eksternalisering van blaam vir die toestand van die Afrikaan, asook volslae onkunde oor die geskiedenis van Suid-Afrika. Daar is wel ander nasies wat hulself nie juis steur aan die linkses se nul-sommistasting nie. Singapoer was ook ‘n Britse kolonie, wat ook wreed deur die Japannese beset is tydens die veertigerjare, maar vandag doen sy leerlinge internasionaal die heel beste in wiskunde, en is hy onder die rykste lande op aarde. Beide Malema en Vice is egter te bang om eerlik met hulself te wees en te soek vir die ware verklaring vir die vergelykende gebrek aan prestasie van Afrikane. Dis veel geriefliker om die mitiese bose witman te blameer, en om die leuen te verkwansel dat elke suksesvolle blanke op pad boontoe op ‘n reeks swartes se koppe getrap het.

Die feit van die saak is dat die Europese setlaars vanaf 1652 ‘n streek aangetref het waarvan die inwoners in ‘n pre-geletterde, pre-beskaafde toestand verkeer het. Die feit dat die swart stamme en Koisan-inwoners op 5 April 1652 nie kon lees of skryf nie, was net so min die Europeërs se skuld as wat die voortgesette agterlikheid van Afrika en Afrikane in 2011 die Afrikaner se skuld is.

LuceSolaraДанильченко Харьков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.