Belangrike verwikkelings op uiterstes van die Middellandse See

In Marokko het ‘n oorweldigende meerderheid – amptelik in elk geval te midde van baie bewerings van stemmekokery – gestem vir grondwetlike hervormings. Koning Mohammed, ‘n uitvoerende koning, het die referendum uitgeroep skynbaar om die grondwet te wysig om sy eie magte ten koste van die regering in te perk.

Skeptici meen egter die koning het in die proses vir homself steeds baie magte gereserveer, onder andere as regeringshoof, en dat dit ‘n beredderingspoging is te midde van die Arabiese domino-revolusie.

Ander Arabiese outokrate en despote kan dalk ‘n bietjie kers kom opsteek oor die Marokkaanse voorbeeld in ‘n poging om hul basse met ‘n voorsorgmaatreël te red. .

Maar hoe hou dit verband met iets aan die heel ander kant van die Middellandse See – drie sleutelooreenkomtes wat tussen Serwië en Kosovo gesluit is?

Dit handel oor die referendum in Marrokaans-besette Wes-Sahara wat na jare nog nie gehou is nie. Marokko klou soos ‘n neet aan die Wes-Sahara, al verbeur hy onder meer lidmaatskap van die Afrika-Unie daaroor. In die jongste verlede plaas Marokko die moontlikheid van ‘n selfregerende Wes-Sahara as ‘n Marokkaanse streekregering as referendumopsie. Dié gedagte word deur ‘n hele paar invloedryke lande gesteun.

Vir die Polisariofront is dit egter ‘n tameletjie. Wie mag stem? – byvoorbeeld die Marokkane wat hulle sedert die besetting daar gevestig het – kan die Polisario se magsbasis verteer. Marokko se bevolking is veel groter as dié van Wes-Sahara, waarvan baie boonop in lande soos Algerië as vlugtelinge woon. Die getal Marokkaanse soldate wat die “woestynmuur” (‘n wal van sand en grond wat Marokko bymekaar geskraap het om Wes-Sahara de facto tussen die Marokkaans-bestte deel en die gebied waar Polisario regeer te verdeel, is byvoorbeeld volgens sommige bronne twee keer so veel soos die ganse Wes-Sahara-bevolking.

Net so weier Serwië om Kosovo se onafhanklikheid te erken. Kosovo word deur ‘n meerderheid hoofsaaklik Moslem-Albanese bewoon, met ‘n minderheid Serwiërs. Kosovo het in 2008 eensydig onafhanklik geword, maar dié status is intussen deur die Internasionale Geregshof grootliks gekondoneer, met die VSA en die meerderheid EU-lidlande onder die 76 lande wat Kosovo se onafhanklikheid erken.

Serwië hoop om later vanjaar by die Europese Unie aan te sluit, en met die Unie se voorvereiste van die selfsbeskikkingsregte van minderhede (Baskiese en Kataloniese selfbeskikking was voorvereistes vir Spaanse lidmaatskap van die Unie), kan ‘n hardekoejawel-houding van Serwië sy kanse vir lidmaatskap nie goed doen nie.

Serwië se inskiklikheid om ‘n akkoord aan te gaan met ‘n land wat hy nie erken nie, hou baie met pragmatisme verband. Onderliggend is ‘n strewe om die lot van die Serwiese minderheid in Albanië te verbeter. Die drie ooreenkomste hou verband met bevolkingsmobiliteit, toegang tot registers en wedersydse erkenning van kwalifikasies.

‘n Soortgelyke verwikkeling vind tussen China en Taiwan plaas, wat mekaar se onafhanklikheid ook nie erken nie. In die jongste verloop word na instemming van China en Taiwan, ook individuele Chinese toeriste in Taiwan toegelaat. Voorheen was dit net gekontroleerde groepe.

Marokko, en aanvanklik Mauritanië het die ou Spaans-Sahara in die sewentigerjare beset na die Spaanse owerheid onttrek het. Spanje se amptelike standpunt is dat hy die administrasie van sy eertydse kolonie aan Marokko en Mauritanië, en nie die soewereiniteit nie, oorgedra het. Toe die Polisariofront te veel raak vir Mauritanië, wat self politieke onstabiliteit en ‘n staatsgreep beleef het, het Marokko ook die suidelike deel van Wes-Sahara beset.

Die Polisariofront is egter deur die destydse Organisasie vir Afrika-eenheid en later die AU, as wettige verteenwoordigende owerheid van die Saharawi-republiek erken. Marokko het sy lidmaatskap verloor.

Een van die mees tragiese oorloë het tussen Marokko en die Polisariofront uitgebreek. Afgesien van baie lewensverlies, het die oorlog ook so lank aangesleep dat Marokkaanse soldate wat gevange geneem is voor ‘n kind gebore is, later in gevangenskap moes verneem hulle het intussen oupas van dié kinders se kinders geword.

Teen 1991 was onderhandelings danksy internasionale bemiddeling vol op dreef, met ‘n referendum oor die toekoms van die besette gebied die groot kwessie. Marokko het strykdeur kop uitgetrek, sodat die sewende rondte samesprekings onlangs gehou is. Marokko se houding plaas groot druk op die moratorium van gewapende vyandelikhede.

Marokko maak daarop aanspraak dat hy gewoon gebied waaroor dit aanvanklik regeer het, teruggeneem het. Die kaart wat hiervoor gebruik word, sluit egter ook groot gebiede van ander buurlande in, en daarom is daar ‘n pragmatiese skeptisisme teenoor hierdie skynbare Marokkaanse imperialisme.

Die AU se statuut dat koloniale grense in Afrika onskendbaar is, word as regverdiging vir toe ore vir Marokkaanse aansprake gebruik. Tog raak die voorbeelde waar afgewyk word algaande meer. Die jongste is die komende afskeiding van Suid-Soedan. Enkele jare gelede het Eritrea ook van Ethiopië afgeskei, en is Walvisbaai aan Namibië gegee. Die omgekeerde het ook al gebeur – Frans- en Brits-Kamoerien het verenig en so ook  Brits- en Italiaans-Somalië – maar waar min of meer die voormalige Italiaans-Somalië nou al ‘n geruime tyd as de facto-land, Punt, min of meer sy eie potjie krap.

Boonop is die geskiedenis ook nie heeltemal so aan die kant van Marokko nie. Sedert die onttrekking van die Romeinse besetters het die gebied wat vandag as Marokko bekend staan, selde ‘n Sultan opgelewer wat beheer oor die hele huidige Marokko kon uitoefen, laat staan nog buurgebiede. Veral van die sterker Berberstamme het ‘n regering oor die hele gebied onmoontlik gemaak, en by geleentheid het ‘n Berberstam selfs Marokko verower en die stamhoof die sultan geword.

Dit was juis ook die sultan se onvermoë om oor sy hele land gesag uit te oefen wat daartoe gelei het dat Frankryk effektief versoek is om die gebied as protektoraat aan te neem. Marokko was egter nie toe ‘n enkele staat nie, met Spanje wat die Noorde beheer het, en wat later daartoe leie het dat Tangier lank ‘n spesiale status beleef het voor dit in 1956 weer formeel deel van Marokko geword het. Vandag nog, met die steun van die plaaslike bevolking, behou Spanje soewereiniteit oor twee enklawes aan die Marokkaanse kus, Ceuta en Melilla.

Teen dié agtergrond is Marokko se aanspraak op die Wes-Sahara maar vaal. Tog is die Marokkaanse bevolking oor die algemeen so deur regeringspropaganda beïnvloed dat die meerderheid Marokkane die anneksasie steun, selfs al sou Wes-Sahara nie besonder fosfaatryk gewees het nie.

Tydens die onlangse groot omstrede internasionale jeugberaad wat in Suid-Afrika plaasgevind het, het die afgevaardigdes van Marokko en Wes-Sahara selfs handgemeen geraak.

Behalwe vir lidmaatskap van die AU, beïnvloed Marokko se voortgesette besetting van Wes-Sahara sy internasionale posisie maar min. Marokko is dikwels gasheer van vergaderings van die Arabiese Bond waarvan dit ‘n stigterslid was. Toe tou getrek is oor die gasheerskap van die 2010-Fifa-sokkertoernooi wat Suid-Afrika aangebied het, is Marokko se bod aanvanklik deur baie Afrikalande gesteun.

En natuurlik koop die internasionale mark – veral die VSA, die fosfaat wat in Wes-Sahara gemyn word.

Selsbeskikkingsreg word te ene male dikwels deur pragmatiese faktore eer as beginsels en die Internasionale Reg bepaal.

безмасляный компрессорФільчаков Олександр Васильович

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.