Erge SA risiko’s wat ons moet bestuur

Deel op

Dit word toenemend duidelik dat waarskuwings oor die toekoms van die land wat destyds deur veral Naspers se NSA-juigkommando as synde rassisties en verkramp afgemaak is, ‘n baie goeie kans staan om te realiseer. Die dag as die einste Naspers-juigkommando begin kriewelrig raak, en neerslagtige rubrieke oor die toenemend dreigende situasie alledaags word in die hoofstroommedia, kan jy seker wees ‘n Zimbabwiese scenario vir Suid-Afrika word by die dag meer waarskynlik, met gepaardgaande anargie en ekonomiese ineenstorting. Dit is nie net Malema se uitlatings in hierdie verband wat onheilspellend is nie.

Faksies binne die Cosatu-vakverbond het ook op sy pas afgelope kongres hul steun begin uitspreek vir nasionalisering. Daar is ongetwyfeld senior ANC-figure wat bankvas agter Malema staan. Nasionalisering en grondroof sal slegs een uitkoms hê, en dit is om Zimbabwe na ‘n kinderkranspiekniek te laat lyk. ‘n Gereelde kommentator op die Praagforum se gespreksblad, ene Caveat Emptor, maak dus die baie geldige punt dat hiperinflasie ‘n baie werklike en skrikwekkende moontlikheid is vir Suid-Afrika. So ook skryf RW Johnson op die blad Politicsweb.co.za oor wat die gevolge van nasionalisering vir Suid-Afrika kan inhou. Ek haal uit Johnson se rubriek aan:

The result would undoubtedly be the loss of many millions of jobs and a huge crash in asset values across every sector, leading to the mass immiseration of the country. Such phenomena would doubtless be accompanied by massively destructive social unrest, crime waves, xenophobic violence and other vicious side effects. This would destroy the social basis of democracy so that if the ANC was determined to remain in power, it would probably have to rule by terror.

Die vraag wat elke denkende blanke snags wakker hoort te hou, is hoe om hierdie soort risiko’s te bestuur. Hoe gemaak as jou vyfmiljoenrand-pensioen presies $1.39 werd word, of as die 17-jarige sogenaamde “war veterans” by jou voorstedelike voordeur opdaag en jou laat verstaan jy het een uur om jou huis te ontruim? Die gelukkiges; die rykes en gekwalifiseerdes kan uitwyk na die buiteland, maar die meerderheid Afrikaners kan nie emigreer nie. Om jou bloot te verbeel dit gaan jou help om vir die DA in die sinnelose rassesensusse wat verkiesings is te stem, is om in ‘n gevaarlike staat van ontkenning te leef. Om te dink jy kan ‘n komitee verkies wat op ‘n volkstaat gaan aandring, en dat sodanige volkstaat gou genoeg gaan realiseer, is eweneens nie tans ‘n realistiese verwagting nie.

‘n Volkstaat sal terloops ook nie die probleem van die blankes buite sy gebied oplos nie, en veral nie die plaasboere s’n nie. Die plaasboere is die dun groen lyn wat in die voorste linies staan tussen ons en ‘n Zimbabwiese nagmerrie, en dit is dus nie om dowe neute dat daar toenemend druk is vanuit alle oorde, ook vanuit die sosialistiese DA by monde van Lindiwe Mazibuko, om die boere etnies van hul grond te reinig nie. Die dag as die DA en ANC se programme van grondroof beter bestuur word, soos wat me Mazibuko in die parlement gedreig het die DA sal maak, is die dag dat Zimbabwe hier by ons ‘n realiteit word.

Na my mening het ons dus minder as 5 jaar oor om dringend planne te smee, want sou Zuma die ANC-kongres in 2012 oorleef, het ons 5 jaar oor van Zuma se onbekwame maar relatief goedgesinde bewind oor. Relatief goedgesind, want sy opvolger, ‘n kandidaat wat vir die ANCYL aanvaarbaar is, gaan ‘n perd van heeltemal ‘n ander kleur wees. Soos vele ander ook al gehoop het, sou dit goed wees as ons ons verskille opsy kon skuif en vergeet van nimmereindigende en doellose argumente oor bysake soos die benaming van Afrikaner teenoor Boer of voortydige stryery oor simbole en vlae. Ek sou reken daar is ‘n hele aantal aksies wat nou dringend nodig is. Hulle sluit in:

  1. Maak die wêreld nou reeds bewus van wat vir Suid-Afrika en Afrikaners spesifiek mag voorlê. Gebruik die media en bestaande blanke emigrante hiervoor.
  2. Vestig verhoudings met goedgesinde, buitelandse blankes soos die Amren-beweging asook die bestaande emigrante, met die oog op ‘n moontlike grootskeepse gedwonge vlugtelingstroom uit Suid-Afrika. Die VSA het byvoorbeeld heelwat Viëtnamese vlugteling ná 1973 ingeneem.
  3. As Rwanda se volksmoord môre sou losbars, met wie praat die Navo-bevelvoerders? Wie is diegene wat namens Afrikaners praat? Nomineer of verkies dus woordvoerders vir die volk, wat Afrikaners se saak by die VN kan gaan stel, of wat namens Afrikaners met wie ook al kan onderhandel om politieke asiel, of dan vir ‘n Darfoer-tipe territoriale skikking. Tans is dit amper by verstek verdeel tussen Afriforum, Pieter Mulder en die VF+, maar daar is niemand wat slegs vir dié doel verkies is nie. Ek meen terloops dat die verkiesing van verteenwoordigers van die breë Afrikanervolk eintlik presies was wat die VVK moes doen, maar nou ja – ‘n bepaalde godsdienstige ideologie het realisme opnuut getroef en gesorg dat die VVK homself beperk het tot wat Johann Wingard die Super-Boere noem.
  4. Vestig ‘n noodplan om die Rwandese scenario te vermy. Die media en linkses het gespot met die Suidlanders se ontruimingsplan, maar ‘n volksmoord is geensins uitgesluit nie. As dit in Joegoe-Slawië kon plaasvind, kan dit hier ook gebeur. Organiseer die volk op streeksvlak en dink militêre scenario’s en strategieë uit om dit teen te werk.
  5. Probeer om die ekonomiese en geldelike risiko’s te bestuur. Die dag as die Zimbabwiese hel op ons toesak, gaan jou rande minder werd word as toiletpapier, en laasgenoemde sal in ieder geval nie in die winkels beskikbaar wees nie. Daar word in linkse en liberale kringe vreeslik gespot met die blikkieskos-opgaardery voor 1994, maar gee kans: Die opgaardery was waarskynlik bloot 20 jaar te gou. Wat ek meen nodig is, is ‘n soort buitelandse verskansingsfonds vir Afrikaners, wat uitsluitlik in lande soos China belê, en wat sal onderneem om sy lede in dollars, yuan of euro’s uit te betaal vir wanneer die wiele in Suid-Afrika afkom.

Ek is egter steeds skepties of sestig komitees of honderde eindelose vergaderings juis sal help om bogenoemde en ander aksies op die been te bring. Dit is waarskynlik oor aan individue om die stang vas te byt, en vir individuele kundiges op byvoorbeeld die gebied van finansies en beveiliging, om die inisiatief te neem.

для диагностикиОлександр Васильович Фільчаков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.