PRAAG ontketen leierskapsgeveg in DA

Athol Trollip
Deel op

Athol TrollipNa aanleiding van ‘n PRAAG-aksie teen die anti-Afrikaanse uitlatings van mnr. Athol Trollip in ‘n e-pos aan mnr. Jaap Kelder, het ‘n leierskapsgeveg blykbaar in die DA ontstaan. Mnr. Athol Trollip, wat onder kritiek van dr. Dan Roodt van PRAAG deurgeloop het, word om die parlementêre leierskap van die party deur me. Lindiwe Mazibuko uitgedaag.

Trollip het vir ‘n vervroegde stemming in die koukus gevra om sy eie posisie beter te kan handhaaf. Volgens die party se koukusreëls behoort die stemming vir parlementêre leier eers in November plaas te vind.

Mev. Helen Zille, die partyleier, het intussen laat blyk dat sy haar nie by die proses gaan inmeng nie. Volgens haar is die DA ‘n “diep demokratiese party” waar sulke leierskapstryde deur middel van partyprosedures besleg word. Saterdag het sy ook gemeen dat dit “verkeerd is om te sê dat Trollip om sy politieke lewe veg. Ek het al interne verkiesings gewen en verloor. Dit het allermins die einde van enigiets beteken, wat nog te sê van my politieke lewe. Eerlikwaar, ek twyfel of daar in November mededinging gaan wees”.

Nadat PRAAG ‘n week gelede die kwessie van Trollip se anti-Afrikaanse e-pos aan mnr. Kelder aan die groot klok gehang het, het media landwyd daaroor berig, met die uitsondering van die SAUK se Afrikaanse radio en TV, asook die Nasperskoerante. Dr. Dan Roodt van PRAAG het mnr. Trollip se chauvinisme op etv, e-news, die Independent-koerante en verskeie Engelstalige radiostasies gekritiseer. Vrydagoggend tussen 10 en 11 vm. was Trollip en Roodt in ‘n vuurwarm debat op SAFM betrokke.

Trollip het Roodt met die intrapslag vir ‘n “rassis” uitgekryt vanweë Leopold Scholtz van Die Burger se uitlatings wat in 2009 in dié koerant gepubliseer is, dog laasgenoemde het hom teruggeantwoord met: “Om George Bernard Shaw te parafraseer, om iemand ‘n ‘rassis’ te noem, is die laaste toevlug van ‘n skurk.” Op die lug het dr. Dan Roodt onthul dat mev. Zille gepoog het om die blanke leier van die party in Pretoria, mnr. Brandon Topham, deur ‘n jong bruin man vanuit die Wes-Kaap te vervang. “Die DA pas interne regstellende aksie toe. Dit maak daarvan ‘n anti-wit rassistiese party,” het Roodt gesê. Trollip het teruggekap dat Topham wel tydens ‘n interne verkiesing in Pretoria oor ‘n swart kandidaat geseëvier het.

Volgens Trollip is die DA ‘n “party vir al die mense wat alle tale en kulture verwelkom’. Die leier van PRAAG het egter gemeen: “Alle tale behalwe Afrikaans, want die DA se webwerf is uitsluitlik in Engels.”

Die onderonsie met PRAAG en mnr. Jaap Kelder het die DA se parlementêre leier kennelik ongewild binne sy eie party gemaak, want hy het dit elders as ‘n “aaklige week” beskryf.

‘Lae intellektuele peil’

Dr. Dan Roodt het mnr. Trollip en die DA tot ‘n voortsetting van die debat rondom die posisie van Afrikaners in Suid-Afrika uitgedaag. “Die DA is kwansuis ‘diep demokraties’ as dit by sy interne prosedures kom, maar is veel minder demokraties as die ANC as dit by openbare debatvoering kom,” het hy gesê. “Ek gesels gereeld met ANC-lede tot op die hoogste vlak en stel my standpunt onomwonde. Moontlik vanweë die lae intellektuele peil van die party – selfs mev. Zille was bloot ‘n junior joernalis by die Rand Daily Mail voordat sy die politiek betree het – vrees die DA gesprekvoering met Afrikaanse organisasies. Die etos van kwasi-Britse chauvinisme en Afrikanerhaat wat uit mnr. Trollip se e-poskommunikasie oor mnr. Jaap Kelder spreek, is uiters kommerwekkend. Veral in die lig daarvan dat mnr. Trollip tydens die debat op SAFM erken het dat meer as die helfte van die DA se kiesers uit Afrikaners bestaan.”

play live casino onlineЛобановский

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.