Sonde met Skutter Schutte!

Deel op

Tydens die bosoorlog het my vriend, die makgemaaklte Ier, Brian MacGrath, dit nie te hotagter, of “for that matter” te “hot” van voor af ook gehad nie omdat hy teen die Zimbabwiese grens “ontplooi” is.

Ek verkneukel my nogal in die lawwerige militêre term “ontplooi” want Brian is ‘n bonkige kêrel en dit sou wragtag “some serious unfolding” kos om hom heeltemaal te kon “ontplooi!”

Nou vertel hy vir my dat hy en Faan Verster en ‘n jafeltjie daar uit die “suburbs,” ‘n klein Schutte, ‘n sekere gedeelte van die grens te voet moes patrolleer

Hulle dra hulle gewere en die res wat hulle nodig het in hulle rugsakke saam. In die rugsak is daar dan o.a. ook die berugte “rat pack,” jou mond- of pensproviand as jy dit so wil noem. Dit was kos waarvan jy sekerlik nie sou doodgaan nie, want voedsaam was dit voedsaam, maar net sodat jy dit nou nie in drie kort sessies alles gaan staan en opvreet nie, het die dieetkundiges, baie slim mense daar doer in Pretoria, dit so onsmaaklik as moontlik gemaak.

So vreksleg dat een troep beweer het hy wou dit vir ‘n rot voer, maar die het sy neus daarvoor opgetrek!

Om die voedsame maar onuitstaanbaar slegte rantsoene aan te vul, koop hulle al langs die grens by die klein boerewinkeltjies allerhande lekkernye. Heerlikhede soos kondensmelk, sondige, nuttelose witbrood met ‘n piepklein blikkie goue stroop daarby.
Soms sjokolade, lekkers, pakkies Japansuiker en op ‘n keer selfs ‘n paar pakkies versiersuiker! Hulle koop springmielies en spring dit met ‘n bietjie margarien in hulle varkpanne dat dit later self soos oorlog klink. Heerlik!

Soos ‘n “band of brothers” behoort te doen, wil hulle alles deel.
Maar nie skutter Schutte nie! Moenie glo nie.

Skutter Schutte moes eerder skutter Stoker geheet het, sê Brian, omdat hy so baie rook. En ons weet mos nou al dat ‘n roker een van die selfsugtigste goed op aarde is.
Dan is hy nou blykbaar bang dat sy twakgeld sal opraak en dan gaan hy hel hê as hy nie kort-kort in die kortstondige nirvana van nikotienverdowing kan invlug nie. En die wrede werklikheid vol en onverdoofd in die gesig moet kyk.

Wat meer was, was dat hy niks, maar niks anders ook ooit met ‘n andereen sou deel nie. Nie eers die laaste krummeltjies onderin ‘n pakkie klaargekerfde biltong nie. Nee, die skud hy in sy onversadigbare keelgat af terwyl die kwyl uit jou mondhoeke drup.
Maar daar is nog erger, vertel Brian, terwyl hy hom duidelik weer vir die selfsugtige vraat vererg, hy het verskriklik maklik van ‘n ander iets afgebedel. “Hoe lyk dit met ‘n lekkie van daai Japansuiker, hè pel?” of “Gee ‘n slukkie van daai lekker kondensmelk, my maat!”
Dan suip hy sommer die hele blik leeg!

Brian se Ierse humeur het nie vanweë sy ma se Boerebloed verdun geraak nie, verseker ek jou en hy vererg hom bloediglik vir so ‘n gebrek aan kameraderie in ‘n bos waarin die dood kan skuil.

Hy moet ‘n les geleer word, hy moet weet waarvoor hy gestraf word en daarmee ophou. Dit is die Ierse manier.

Weer ‘n boerewinkeltjie naby die grens. En wat sien Brian daar? So wragtagwaar, ‘n goeie voorraad Brooklax. Iemand hier in die eensaamheid moes sekerlik op ‘n keer erg gekonstipeer geraak het.

Daardie aand maak hy fluitend ‘n soort melkskommel wat hulle soms van poeiermelk en sjokolade aangemaak het, aan en presenteer daarvan ook gul aan skutter Schutte. Skutter Schutte is so behep met homself, hy is glad nie agterdogtig oor die skielike mededeelsaamheid nie. Buitendien is hy permanent so in die waas van ‘n Stuyvesant gehul dat hy glad nie opmerk dat sy “sjokolade” nie dieselfde as die ander twee s’n is nie.
Hulle drink aldrie ‘n hele paar bekers uit. “Hoe kry jy hierdie keer so ‘n besondere smaak daarin?” wil hy nuuskierig weet.

“Dis my geheim, mein guter Kamerad!” lag korporaal McGrath in sy ruie baard in.

Teen namiddag toe hulle slaapplek soek, sien hulle dat daar ‘n potblou weer in die suidweste opsteek. Dit is somer en reënseisoen.
Hulle span hulle biffies tussen twee kleinerige boompies oop sodat hulle daaronder kan droogbly. Maar dis toe meer ‘n elektriese storm soos die binnelanders dit so goed ken en die blitse verlig byna die omgewing permanent terwyl die donderslae kort-kort jou ore laat sing.

Toe begin skutter Schutte se probleme!

In die bos is dit ‘n onverbiddelike reël dat jy jou tol aan die natuur buite sig-, hoor-, en ruikafstand moet gaan betaal.

Skaars is skutter Schutte onder die bliksemstrale en donderslae deur terug, of die aangejaagde natuur eis weer. En weer. En weer.
Brian lag uit sy maag: “Die rits van skutter Schutte se slaapsak sing lateraan soos ‘n lugafweersirene: sjoeieee, sjoeieee, sjoeieee…!”
Boonop begin Brian en sy medepligtige agteraf, as skutter Schutte weg is, allerhande woordspelings op sy van maak, soos : “Sssskutter Sssschutte ry vanaand die nagwa! Ssskutter Ssschutte- ry nie op ‘n donkie nie!” en erger dinge wat ek nie hier kan herhaal nie.

Later bedaar die onweer en skutter Schutte se besoeke aan die bossies word geleidelik minder en hulle raak aan die slaap.

Toe die visarend die volgende môre vroegdag sy Afrika-geluid oor die rivier snerp, het hulle groot moeite om skutter Schutte wakker en op te kry. Hy lyk vaal en uitgewas en beweeg asof sy bene vol sand geloop het.

Brian vra, duiwelskind soos ek hom ken, ewe gemaak-belangstellend uit na die vrome skutter se onverdiende probleme die vorige aand en verstommend genoeg, beweer Brian, is die kêreltjie toe so sag en opreg dat dit kompleet is asof hy ‘n geestelike kentering ondergaan het!

Die skutter sê toe glo: “Man, korporaal, ek kon dit nie verstaan nie; ek was nog nooit lief vir swaar weer nie, maar dit is die eerste keer dat my máág so daarvan werk.
Weet jy, elke keer as die weer slaan, was dit so amper in my broek!”

woes

il paralumeлобановский александр фото

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.