‘Tree aan’ is betrokke teater in die Brecht-styl

Toneel uit Tree aan
Deel op

Toneel uit Tree aanTerwyl die volk by die stembus al hoe meer liberaal raak deur mev. Zille se DA slaafs te ondersteun, slaan dramaturge, sangers en skrywers ‘n ander rigting in. Deon Opperman se jongste musiekspel oor diensplig en die Angolese oorlog is ‘n klap in die gesig van politieke korrektheid en is nes sy vorige opvoering Ons vir jou onbeskaamd patrioties en pro-Afrikaner.

Tree aan is ‘n opwindende stuk wat nie net die nostalgie oor die dae van troepie-wees aanwakker nie, maar is ook onbeskaamde politieke teater, ietwat in die styl van die beroemde linkse dramaturg Bertolt Brecht. Trouens, ek het ‘n klompie jare gelede geskryf dat Suid-Afrika tans sy “Weimar” beleef en dis geen oordrywing nie. Te midde van politieke spanning en dreigemente van kommunistiese revolusie deur grondhervorming en nasionalisering, verset kunstenaars hulself deur aweregse sienings van die verlede. Tydens die twintigerjare van die vorige eeu het Duitse dramaturge en kunstenaars hulself gedurende die sogenaamde Weimar-republiek insgelyks aan modernistiese ekperimente oorgegee terwyl kommuniste en nasionaliste betoog en op straat handgemeen geraak het.

Diegene wat ‘n groot intrige in Tree aan verwag, sal moontlik teleurgesteld weggaan. Hoewel een van die karakters op die grens weens die nalatigheid van ‘n makker sterf, is dit geen Agatha Christie nie. Waaroor dit eintlik gaan is om die subkultuur van die ou SA Weermag op die verhoog te laat herleef. Hierin slaag Tree aan op uitmuntende wyse. Die dialoog is vol kwinkslae en gekruide taal, wat ‘n mens terugvoer na die dae van inspeksie en uitmergelende ure op die paradegrond. Deur die invoeging van ‘n liberale Engelse student, asook ‘n ietwat oorgewig, onbeholpe Joodse troepie, sorg die stuk vir heelwat politieke oomblikke, tipies van betrokke of engagé-teater. Die uiteindelike “saamstaan” teen die vyand op die grens, geskied realisties en laat nie bloot die verlede herleef nie, maar sê ook vir ons iets oor die hede waar politieke verdeeldheid onder Afrikaners hoogty vier.

Opperman vertoon die ou oranje, wit en blou Suid-Afrikaanse vlag voortdurend op die verhoog, asook ‘n “Slegs Blankes”-bordjie by die stasie waar die troepe die trein moet haal. Die vlag word simbool van ‘n hele orde – met die klem op orde – wat deur revolusie venietig is. Dit hang byna vanselfsprekend daar en as ‘n mens dink dat daardie vlag net enkele kilometers van die Staatsteater af by Loftus Versfeld verbied is, verkry dit ‘n pikante intertekstuele betetekenis. Ook die “Slegs Blankes”-bordjie by die stasie word sonder die gewone moralisme en wroeging vertoon ; dit slaan op die bevolking wat moes diensplig doen en veg: blanke Afrikaner, Engelsman en Jood.

Tree aan is veel envoudiger van opset en minder aanskoulik as die briljante Ons vir jou. Immers bestaan die “historiese kostuums” hier uit bruin weermaguniforms van ‘n dekade of drie gelede en nie uit negentiene-eeuse kleding van Boere en Britte nie. Die weermagbarak met sy naakte dakligte, staalkatels en jongmans in uniform doen minimalisties aan en daarom is die sin van die stuk juis in sy dialoog met die hede te vinde, as versets- en politieke teater.

Die mees ontroerende oomblik geskied heel aan die einde waar die name van gesneuweldes tydens die grensoorlog oor ‘n deurskynende doek voor die verhoog rol terwyl die “troepies” agter “Die Stem” sing. Dis ‘n tipies Brechtiaanse, agitprop- of Weimar-toneel wat ‘n soort dramatiese multimedia gebruik om ‘n vervloeë patriotisme onder jong Afrikanermans uit te beeld. Met die implisiete wekroep dat daardie patriotisme behoort te herleef om ons huidige probleme aan te spreek!

Die musiekspel opper egter ook die vraag: Waarom? Waarom het soveel jongmans in die fleur van hul lewe op die grens gesterf as minster van buitelandse sake Pik Botha “oor ‘n dop brandewyn”, soos hy iewers skryf, sy Kubaanse ampsgenoot kon vind en Suidwes summier aan Swapo kon afteken? En waarom het ons op die slagveld weerstand gebied as die NP se onderhandelaars soos ou vadoeke by die onderhandelingstafel gevou het? Hierdie vrae is tot vandag toe nog nie beantwoord nie en as Tree aan by ‘n mens spook, is dit ook om daardie rede.

Plek-plek was die stuk vir my ietwat sentimenteel, veral die liefdeselemente en -briewe tussen troepies en hul agtergelate meisies. Aan die ander kant is dit ook ‘n realistiese aspek van die eertydse diensplig. En dan moet ons onthou dat Afrikaners nogal sentimenteel is. Dis so half deel van ons kultuur en ons boersheid. Die eksistensiële kilheid van Europese teater of die anomie van heelwat Britse en Amerikaanse stukke, is nie eie aan ons nie. In dié opsig was die Afrikaanse teater van die sestiger- en vroeë sewentigerjare met sy oordrewe minimalistiese eksistensialisme eintlik kunsmatig, uitheems en resepmatig.

Mev. Helen Zille, wat onlangs ‘n ruiker by die name van Kubaanse gesneuweldes by die ANC se Vryheidspark gaan lê het, sal uiters geskok uit Tree aan strompel. Reeds het Beeld, die Prawda van die Noorde, ‘n afwysende resensie oor Tree aan gepubliseer, waarop Deon Opperman in ‘n brief geantwoord het. As u glo dat die 50 000 troepe met Russiese en Oos-Duitse adviseurs in Angola om dowe neute daar was en dat ons beter daaraan toe sou gewees het as ons reeds in 1974 aan Umkhonto we Sizwe of Swapo oorgegee het, moet u liewer nie Tree aan gaan kyk nie. As u ook dink dat ‘n toneelstuk of musiekblyspel oor “ronde karakters” moet beskik, het u nog nie Van Wyk Louw se essays en pleidooie vir mondernisme uit die vyftigerjare gelees nie. Weliswaar is daar stereotipiese elemente aan die karakters en situasie van Tree aan, maar dis deel van die gegewe.

Vir diegene wat hul dienspligdae op ‘n nostalgiese en patriotiese wyse wil herleef, of wat bedag is op die vernuftige Brechtiaanse truuks wat Opperman en sy span akteurs en sangers uithaal, is dit egter tot dusver vanjaar ‘n hoogtepunt op die teaterkalender. Die meer eklektiese musiek was vir my minder treffend as Sean Else se komposisies in Ons vir jou, maar nie sonder genietlike en ontroerende oomblikke nie.

Binne die breër konteks van die herontwaking van Afrikaneridentiteit wat reeds met Bok van Blerk se De la Rey-lied begin het, speel Deon Opperman met sy musiekblyspele ‘n interessante rol om ons te prikkel en aan die dink te sit – en te hou. Hoewel die Afrikaanse kennisgewings intussen skandelik van die mure van die Staatsteater verwyder is, het ek die gevoel gekry dat Afrikaanse teater miskien vir die eerste keer in jare weer relevant, gewild en tegnies innoverend raak. Die staande toejuigings van die gehoor het ook daarvan getuig. Ons het veel meer hiervan nodig.

TREE AAN! SPEELVAK WORD VERLENG OP OPENBARE AANVRAAG!

Genre: Musiekspel

Waar: Staatsteater, Dramaverhoog, Pretoria.

Wanneer: Tot 17 Julie 2011

Kaartjiepryse: Woensdag (20h00) R 225.00, Donderdag (20h00) R 225.00

Vrydag (20h00) R 225.00, Saterdag (15h00) R 275.00

Saterdag (20h00) R 275.00, Sondag (14h00) R 275.00

Dramaturg: Deon Opperman

Regisseur: Deon Opperman

Komponis: Janine Neethling

Orkestrasies: Peter McLea

Vervaardiger: Packed House Productions

Rolverdeling: Vaughan Gardiner, Willem Botha, Altus Theart, Cobus Venter, Brendan van Rhyn, Adam Pelkowitz, Johan Scholtz, Matt Stern en Nadia Beukes.

мультик игрушкиЛобановский

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.