Elke kontinent het iets wat hom versinnebeeld: Europa sy katedrale en Eiffeltorings, Amerika sy Statutes of Liberties, Asië sy Mure en Moskees, Arabië sy Piramides, en Afrika, sy ruines.
Wat anders het Afrika, wat vir ewig kan uitstaan as simbool van sy waardes en wanprestasies?
Gee Afrika ‘n hand! ‘n Ontsaglike hand van staal en beton, wat die hemele ìngryp.
Strek en span die tegnologie tot sy uiterste. Verenig kapitaal en kundigheid vanoor die ganse wêreld en bou daardie hand só ontsaglik as wat die wiskunde, die ingenieurswese, die boukunde, die kunste en die bestuurvermoëns van die mens mag toelaat.
Verhef daardie hand hoog bokant stede, vlaktes en beskawings! Vul sy gebeendere en spiere met roltrappe, bou sy palm vol handelsentrums, en sy vingerpunte vol balkonne en uitkykpunte vir vergesigte oor die waarhede van Afrika!
Skep met daardie edele projek, visie en werk vir die vlesige, honger, bedelende hande van Afrika. Laat hulle singend en dansend self die materiaal na die bouperseel aandra. Laat hulle die stene en beton van hand tot hand teen die steiers vir mekaar aangee na die groeipunte van die struktuur, hoog in die ruimte. Laat hulle die staal vorm en sweis, beton meng, stene pak, mure verf en die tuine versorg. Laat hulle self bou aan die hand vir Afrika, en leer om dit te onderhou!
Die aardbol het ‘n hand nodig om Afrika uit die bloedgrond van sy ontwyde, ontlende kontinent na die hemele op te trek.
Om ‘n ontsaglike simboliese hand vir Afrika te bou, is een van die groot imperatiewe van die twintigste eeu.