Afrikaners is verloorders in Athollgate-skandaal

Deel op

In die jare sewentig was daar Watergate, ‘n skandaal wat Richard Nixon as president uit die Withuis verwyder het.  Onlangs was daar Climategate, waarin die leuens van die klimaatsamesweerders ontbloot is, daardie kwasi-wetenskaplikes in diens van hul regerings, wat jou en my wil bangmaak met stories oor die weer ten einde ons meer belasting te laat betaal. Inkriminerende eposse het hulle klimaatgekonkel oopgevlek.

Vandag sit die Demokratiese Alliansie met die moontlikheid van Athollgate, ‘n gewraakte epos wat mnr Atholl Trollip, ‘n senior Ooskaapse leier van dié party na bewering vir ‘n mede DA-lid gestuur het, waarin Trollip vir mnr Jaap Kelder, die voorsitter van die Nasionale Belastingbetalersunie, soos volg bestempel:

“Please answer this Arsehole once and for all, deal with the Afrikaner issue that he raises and tell him to stop masquerading as a rate payer organization especially if he is the reincarnation of the AWB, KP, FF+ , NAZI. Stuur die IDIOOT in sy moer in asseblief. Athol”

Dié epos is na bewering gestuur nádat mnr Kelder die Zanu-PF-agtige toespraak van die DA se mak “African African”, me Lindiwe Mazibuko, waarin sy gedreig het om die proses van grondroof op blanke plase meer effektief as die ANC te bestuur, bevraagteken het. Mnr Kelder se vraag het kennelik hetsy ‘n tere  senuwee aangeraak by wie ook al die epos hierbo geskryf het, hetsy ‘n gulde geleentheid gebied.

Wat ook al die rede is, Mnr Kelder is luidens die beweerde epos ‘n Nazi. Hoe durf hy, die sesdeklas- Afrikaner-burger, me Mazibuko se dreigement bevraagteken? Meer as dit, die DA het ‘n Afrikaner-“issue.” Is dit iets soos die regte Nazi’s se Jüdenfragstuck? Let ook op hoe Afrikaners eendragtig in die Nazi-kraal gejaag word. Van die genuanseerde verskille tussen die VF+ en die KP, om nie te praat van die hemelsbreë verskil tussen die Nazi’s en die VF+ nie, sien mens min. Julius Malema noem sy opponente kakkerlakke en sommer vir Mazibuko ‘n “teedame” in dieselfde asem. Min mense het simpatie vir hetsy kakkerlakke, hetsy Nazi’s. Sien mnr Trollip en die ander Engelse uit na die DA se eie Endlösung der Afrikanerfragstuck, nes Julius Malema fantaseer oor ‘n Rwanda-oplossing vir die ANC se blanke vraagstuk?

Daar kan sekerlik vrae geopper word oor presies hóé die epos by mnr Kelder uitgekom het. Dit behoort redelik maklik te wees om dmv elektroniese rekords te verifieer dat dit wel van mnr Trollip se rekenaar afkomstig is. Die versteekte  “header“-inhoud van die epos-boodskap sal alreeds goeie leidrade kan verskaf. Trollip kan egter volhou iemand het wederregtelik toegang tot sy rekenaar verkry, nes die Amerikaanse politikus Weiner onlangs gemaak het nadat Weiner foto’s van sy miniskule penissie aan verskeie vrouens gestuur het.  Vuilspel kan nie nou al uitgesluit word nie.

Die boodskap kan byvoorbeeld die regte ding wees, maar moontlik met opset aan die verkeerde ontvanger gestuur gewees het. Het iemand wat sy mes in het vir mnr Trollip ‘n gulde geleentheid gesien om hom in ‘n erge verleentheid te dompel? Daar is lank reeds sprake van spanning tussen die Engelse, sosialistiese Struggle-faksie in die DA en die party se Afrikanerlede. Dit kan selfs wees dat daar nog ‘n groter gekonkel agter die skerms aan die gang is. Dis moontlik dat die ANC of die intelligensiegemeenskap een of ander rol in die hele aangeleentheid gespeel het, soos wat met die Browse Mole-aangeleentheid gebeur het. Of, soos ek aan die einde van hierdie skrywe sal spekuleer, is daar ‘n moontlikheid van ‘n nog veel vuiler politieke set as al die bostaande moontlikhede.

Sou die epos egter die ware Jakob wees, en ek weet nie of dit is nie, sou dit my egter nie verbaas nie. Ek sou dit inteendeel verwelkom as mnr Trollip sou erken dat dit inderdaad sy werk was.  Dit is immers ‘n ope geheim dat die DA onder me Zille ‘n geweldige sprong na links gemaak het. G’n party kan konsekwent wees en vir Chris Hani bewonder, maar dan lieg dat hy ook na Afrikaners se belange wil omsien nie. Sonder twyfel soek die DA Afrikaners se stemme, maar dit ly ook by my min twyfel dat daar elemente binne die DA is, en beslis tot op topvlak, wat Afrikaners afstootlik vind en inderdaad sien as kakkerlakke of dan Nazi’s wat vermoedelik in terme van een of ander Nüremberg-proses, onder leiding van die ANC en DA, etnies gereinig moet word. Jy kan nie soos Malema se sg teedame, Lindiwe Mazibuko, in die parlement dreig om die Zanu-PF-agtige grondroof teen blanke boere en grondeienaars beter te bestuur nie, maar dan omdraai en probeer maak of jy Afrikaners se belange op die hart dra nie.

My eie minagting vir Trollip en die res van die Engelse, sosialistiese kliek binne die DA sal wel in ‘n mate van respek verander as Trollip sou erken dat hy die skuldige is en as die DA openlik sou boete doen oor sy ware gevoelens jeens Afrikaners. Ek weet egter dat dit nie gaan gebeur nie. Daar gaan links en regs geskerm word oor Athollgate, eenvoudig omdat die DA nie nou reeds kan bekostig om Afrikanersteun by die stembus af te staan nie. Die DA se skoothondjiepers sal waarskynlik hul bes probeer om die hele saak te ignoreer. Ontkennings en aantygings oor verdraaide woorde gaan dus heen en weer vlieg, ten einde die dom Afrikaner-Nazi’s, mnr Trollip se beweerde nuttige idiote, nie té gou te vervreem nie. Tot tyd en wyl die DA nie sy doel bereik het en homself in ‘n Zanu-PF verander het met genoegsame swart steun, en links van die ANC geposisioneer het, is die Afrikaner-Nazi’s, die nuttige idiote van Trollip se epos, se stemme nodig.

Is ek egter die enigste wat wonder of hierdie epos nie heel moontlik ‘n siniese set van die DA self is om swart steun te wen nie? ‘n Doelbewus uitgelekte epos wat die boodskap oordra dat die DA met die ANCYL saamstem oor “Kill the Boer”, sou immers uiters gewild onder swartes wees, al ontken die ware outeurs van die epos hewiglik dat dit hul eie werk was. Die DA kan dus by Athollgate baat vind. Die ANC kan hiermee punte aanteken. Dit is die dom Afrikaners, die Nazi’s, die stemvee, mnr Trollip se beweerde idiote, wat op haas ongelooflike wyse vir diegene wat hulle totaal minag, bly stem, wat gaan aanhou om die verloorders te wees.

купить ходунки детские в интернетЛобановский Харьков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.