Die kar voor die potpaddas span

Deel op
In die ondersoekende joernalistiek word daar dikwels na die vyf w’s en een h verwys: “Wie, wat, waar, wanneer, waarom en hoe?” Laasgenoemde verteenwoordig die vrae wat ‘n behoorlike ondersoek na ‘n aangeleentheid sal stel. Mens kan bostaande denkraamwerk sekerlik ook na ander vraagstukke uitbrei, as ‘n hulpmiddel om jou gedagtes te orden.

Een groot vraagstuk waarmee ek en baie ander blankes worstel, is of daar ‘n toekoms vir ons en ons kinders in Suid-Afrika is. Die tekens is nie belowend nie. Die ANC se beplande Inligtingswet, politieke aanstellings soos die korrupte en onbevoegde sogenaamde regter John Hlope in die howe, Malema en sy trawante se plundery, toenemende misdaadvlakke, vervallende infrastruktuur asook die gebeure in lande soos Zimbabwe, Kenia en die Ivoorkus, waar ‘n swart regering weier om van mag afstand te doen, al verloor hy ‘n verkiesing, is onheilspellend. Dis bykans onmoontlik om nie ‘n Afro-pessimis te wees nie.

Omdat die toekoms ons bekommer, spring baie regse individue en bewegings, en ek is self skuldig hieraan, sommer pens en pootjies by die laaste stap, die “hoe”, in, en begin komitees stig en verkiesings hou om ‘n bepaalde “hoe”, soos byvoorbeeld ‘n volkstaat, te laat realiseer. Al die ander stappe in die denkproses word dus geïgnoreer. Ons vra nie vrae soos:

1. Wie is “ons?”

2. Wat soek ons – selfbeskikking, ‘n volkstaat, ‘n federale stelsel ensovoorts?

3. Waar wil ons dit vind? Binne Suid-Afrika, in die buiteland of in Orania?

4. Wanneer gaan ons dit vind?

5. Waarom het ons op ‘n bepaalde oplossing besluit?

Mens sou egter sweer ons het a priori kennis oor die beste oplossing en dis slegs ‘n geval van hoe om dit te laat realiseer. Ons spring dus direk na 6 toe:

6. Hoe gaan ons dit bereik?

Ek gaan dus probeer om aan die hand van bostaande meer logies te dink, en nie my persoonlike keuse van ‘n “hoe” – ‘n Afrikaner-owerheid sonder ‘n territoriale volkstaat vir eers – voorop te stel nie. Dit is dus voortydig om nou al verder as 2 hierbo te gaan, want 3, 4, 5 en 6 sal deur 1 en 2 bepaal word.

Ek verstout my om te sê dat die “ons” wat ontnugter is en bekommerd oor die toekoms is, die groot meerderheid blankes in Suid-Afrika is. Die swartes is klaarblyklik gelukkig, siende hoe hulle in verkiesing ná verkiesing vir die ANC stem. Hiervoor sorg die ANC se rassistiese praktyke wat swartes onregverdig bevoordeel ten koste van blankes. Jy as blanke word bykans outomaties in die anti-ANC kamp gejaag deur regstellende aksie, plaasmoorde en Malema se uitsprake. Ja, daar is kennelik die enkele blanke ANC- meelopers, soos diegene wat terroriste tydens die sogenaamde “struggle” versteek het, en tans die leier is van die DA, maar hulle is so ‘n klein minderheid dat mens hulle met veiligheid kan ignoreer. Mens kan die “ons” selfs redelik wetenskaplik fundeer. Meer as 98% van die blankes stem immers téén die ANC in elke verkiesing.

Ongelukkig skep hierdie “ons” onmiddelik ‘n dilemma vir diegene wat so wil hare kloof deur selfs ‘n onderskeid tussen sogenaamde Boere en Afrikaners te wil tref. ‘n Groot aantal Engelssprekende blankes is ook in ons kamp op grond van hulle velkleur. Hoe gemaak met hulle? Ek het nie ‘n maklike antwoord hierop nie. Afrikaners kan kwalik vir die VN gaan sê ons maak aanspraak op selfbeskikking vir die Afrikanervolk, en, o ja, ook die Engelse blankes nie. Ongelukkig is daar ook andersyds ‘n hele aantal Engelse liberale en selfs “closet communists”, soos Rooi Helen, wat die Afrikaners openlik vyandiggesind is en wie se agenda een van ‘n sosialistiese, multi-kulti samelewing is. Tog jammer, terloops, dat Rooi Helen en haar mede-rooies nie geluister het toe Angela Merkel onlangs openlik erken het dat multikulturalisme klaaglik misluk het nie. Maar nou ja, as jy kommuniste soos Chris Hani bewonder, het jou kop seker vasgeslaan iewers voor die val van die Berlynmuur in 1989.

Die “wat” is heelwat moeiliker om te bepaal. Daar is ‘n hele reeks oplossings wat na my mening beter sou wees as die huidige toedrag van sake vir bogenoemde “ons.” Dis egter weer eens net my eie mening. Dit sou eweneens ‘n fout wees om slegs ‘n volkstaat as oplossing voor te hou. Emigrasie is byvoorbeeld helaas een “wat.” Meer as ‘n miljoen blankes het immers reeds so gemaak. Moet ons een-een emigreer, of soos die “Right of Return”-beweging (gaan soek hulle op Facebook) aandring daarop dat ons mag terugkeer na ons stamlande, Duitsland, Nederland en Frankryk?

Al wil ons nie emigreer nie, hoef selfbeskikking ook nie noodwendig ‘n volkstaat te beteken nie. Dit kan byvoorbeeld die vorm van ‘n afwenteling van gesag na ‘n federale of kantonstelsel aanneem, ‘n outonome Afrikaner-owerheid of dan wel ‘n onafhanklike republiek, ‘n volkstaat.

Laastens is niksdoen ook altyd ‘n alternatief. Ons kan, soos baie DA-stemmers, weliswaar steen en been kla oor die NSA se slaggate en rassistiese aanmerkings op Facebook maak, maar onsself nietemin wysmaak dat die hopelose rasse-sensus wat verkiesings tot op hede was en gaan bly, ons enigsins hoop kan bied. Ons kan ons moedswillig blind en doof hou vir die demografiese realiteit van ‘n 10:1 oormag buite die Weskaap. Ons kan selfs soos Afriforum hofsake loods en ons op die grondwet beroep soos wat FW de Klerk wil hê ons moet, terwyl ons onsself wysmaak dat die ANC nie ook soos Mugabe die ganse regstelsel uiteindelik sal transformeer sodat slegs korrupte kaders soos Hlope die enigste regters sal wees nie. Kom ons noem hierdie een die potpadda-alternatief.

Die dilemma wat diegene wat die ganse denkproses wil kortsluit en direk na 6 toe gaan mee sit, is uiteraard dat dit heeltemal moontlik is dat die bepaalde oplossing wat jy voorhou, bitter min steun onder Afrikaners of dan blankes oor die algemeen gaan geniet. Jy kan dus heel moontlik miljoene spandeer aan bemarking, verkiesings, organiseer en komitees, maar uiteindelik wil die volk niks van jou oplossing weet nie en verkies hulle om potpaddas te wees, want jy het hulle nie gevra nie.

My voorstel vir 2, die “wat”, sou dus wees om ‘n onafhanklike maatskappy aan te stel om minstens ‘n verteenwoordigende monster van alle Afrikaners se gevoel te toets deur vir hulle ‘n reeks keuses te gee. Dit moet ‘n neutrale, onafhanklike maatskappy wees, sodat daar nie vingers gewys kan word oor ‘n gebrek aan neutraliteit nie. Stel dus ‘n vraelys op wat so neutraal as moontlik is, wat ‘n vraag soos die volgende stel:

Hoe sien jy jou politieke toekoms?

a) Ek is gelukkig met die Nuwe Suid-Afrika en sy kiesstelsel

b) ‘n Onafhanklike owerheid

c) ‘n Volkstaat

d) Emigrasie

Ensovoorts.

Ek is persoonlik optimisties dat (a) nie veel aftrek sal kry nie, maar sonder om minstens ‘n wetenskaplike peiling uit te voer, maak ons al gevaarlike aannames wanneer ons al begin soek na ‘n geografiese ligging vir ‘n volkstaat.

водопад декоративныйАлександр Фильчаков Васильевич

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.