Ernstige bedenkinge oor die VVK

Deel op

Ek loop dikwels kommentare onder Praag-artikels raak wat die Volksraadverkiesingskommissie se beplande verkiesing as ‘n lewensvatbare alternatief vir die rasse-sensus wat Suid-Afrika se gewone verkiesings verteenwoordig,  probeer voorhou. Ek het al dikwels sulke inskrywings bevraagteken, spesifiek oor die onafhanklikheid van die VVK, en die antwoord is telkens dat die VVK soortgelyk aan Suid-Afrika se OVK is, met ander woorde ‘n onafhanklike liggaam wat bloot daar is om ‘n volksverkiesing te organiseer. Met ‘n onafhanklike liggaam wat soveel as moontlik Afrikaners wil betrek, kan ek hoegenaamd geen fout vind nie en sou ek dit heelhartig steun.  Ek het egter ernstige bedenkinge oor die VVK se onafhanklikheid.

‘n Onafhanklike verkiesingsowerheid soos wat mens in Westerse lande aantref, het in breë trekke drie funksies: 1.) Hou die kieserslys by en hanteer kieserregistrasies, 2.) Bestuur die proses van kandidaatregistrasie en hou die register van kandidate by. 3.) Organiseer die verkiesing, tel die stemme en kondig die resultaat aan. Só ‘n owerheid mag onder geen omstandighede self by die politiek betrokke raak nie. Hy mag byvoorbeeld geensins probeer om kiesers wat registreer, te sif volgens hul politieke oortuigings nie. Al wat ‘n onafhanklike owerheid mag doen, is om seker te maak dat die kiesers wel burgers van die betrokke land en van ‘n stemgeregtigde ouderdom is. Dit sou byvoorbeeld ondenkbaar wees vir die Amerikaanse kiesowerhede om vir voornemende kiesers tydens die registrasieproses te vra:  “Ondersteun jy die moord op babas wat aborsie is?” Nie net het so ‘n polities gelaaide vraag geen relevansie vir die registrasieproses nie, maar die blote stel van die vraag en die manier waarop dit gevra word, het alreeds ‘n politieke strekking ten gunste van ‘n bepaalde sienswyse. Dit sal 100% gewaarborg lei tot ernstige hofsake deur die Demokratiese Party om die aktiwiteite van die owerheid onwettig en buite orde te laat verklaar.

PRAAG – hier is geen heilige koeie nie. Ondersteun ons nóú deur hier te klik.

Voorts kan ‘n owerheid wat waarlik wil aanspraak maak op neutraliteit en onafhanklikheid, nie die uitslag van die verkiesing vooruit wil loop nie. Om weer die Amerikaanse voorbeeld hierbo te gebruik, kan die sogenaamd onafhanklike owerheid onder geen omstandighede sê dat hy ‘n verkiesing gaan hou wat slegs daar is om diegene wat gaan sorg dat die Roe vs Wade-beslissing oor aborsies omgekeer gaan word, te verkies nie. Só ‘n verkiesing kan allermins as vry en regverdig bestempel word, omdat dit reeds die uitslag vooruitloop. Dit kan hoogstens ‘n verkiesing wees van Republikeinse kandidate, en dan slegs dié wat teen aborsies gekant is. Diegene wat so ‘n verkiesing organiseer, kan hulself nie onafhanklik wil noem nie.

Ek is bevrees dat die Volksraadsverkiesingskommissie (VVK) bostaande toetse liederlik dop. Eerstens verwag sy registrasievorm van kiesers om alreeds ‘n politieke mening ten gunste van ‘n volkstaat uit te spreek. Alhoewel ek persoonlik ten gunste van selfbeskikking asook uiteindelik ‘n volkstaat is, hoe weet ek of die VVK dat die meerderheid Afrikaners ten gunste van ‘n territoriale volkstaat is? Waaroor gaan die verkiesing dus? Is dit slegs om ‘n raad te verkies wat voorstanders van ‘n volkstaat verteenwoordig? Hoe weet ons die meerderheid Afrikaners staan hoegenaamd (soos ek) ‘n volkstaat voor? Ons gaan egter ná die verkiesing ook nie weet nie, want slegs diegene wat ‘n volkstaat voorstaan, mag registreer.

As die VVK homself as onafhanklik wou voorhou, mag hy nie die kar voor die perde span en die uitslag van die verkiesing vooruitloop nie. Lees mens op die VVK se registrasievorm en webwerf, is dit egter duidelik dat hy ‘n territoriale volkstaat voorstaan en dit is waarna sy verkiesing mik – ek verwys spesifiek na 16.5 en 16.6 op sy registrasievorm. Die VVK het dus alreeds bepaal wat sy “volksraad” se politieke doelwit is: ‘n volkstaat, ‘n politieke uitkoms wat nie deel mag wees van ‘n onafhanklike verkiesingsowerheid se aktiwiteite nie. Die AVP, ‘n splintergroep van die HNP, wat byvoorbeeld nie ‘n territoriale volkstaat voorstaan nie, weier gevolglik om deel te neem, want die VVK is allermins neutraal.

Ook die vrae wat die VVK aan sy kandidate op sy vraelyste stel, spreek van ‘n baie spesifieke godsdienstige ideologie. Verwys weer eens na my gelaaide vraag oor aborsies hierbo. Die manier waarop veral vrae 4, 5 en 6 in die kandidaatvraelyste gestel word, asook die vrae self, spreek duidelik van die invloed van die Geloftevolkbeweging, wat slegs ‘n baie beperkte ledetal het. Weer eens: ‘n VVK wat soveel as moontlik Afrikanerstemme wil kry, kan nie ‘n spreekbuis vir ‘n bepaalde beweging se ideologie wil wees nie. Dit is goed dat die kandidate die geleentheid gekry het om hulle standpunte te stel, maar die keuse van vrae het hulle ongelukkig in ‘n bepaalde ideologiese rigting gelei, wat na my mening uit voeling is met die meeste gewone Afrikaners se alledaagse bekommernisse en aspirasies, en totaal en al buite die bestek is van ‘n kommissie wat wil beweer hy is onafhanklik en daar vir alle Afrikaners.

Wat eweneens kommerwekkend is van die VVK, is die volgende wat op sy hoofblad verskyn: “Daarbenewens sal Volksraadslede wat die selfbeskikkingstrewe op enige stadium mag ondergrawe, demokraties uit hulle posisies verwyder kan word sodra ‘n mosie van wantroue op ‘n volksvergadering aangeneem mag word en sonder dat hulle eers ‘n ‘termyn’ moet uitdien waarin hulle skade op skade kan aanrig.” Dus: Selfs al word iemand verkies tot die raad, sê maar van die AVP wat nie gediend is met die gedagte van ‘n volkstaat nie, kan sy mede-raadslede die kiesers wat dié raadslid verkies het, se demokratiese wil ignoreer en hom bloot verwyder. Dis voorts onduidelik wat “ondergrawe” beteken. Netnou besluit ‘n meerderheid van die lede “ondergrawe” beteken om nie die Geloftevolk se ideologie te gehoorsaam nie. Dis nie hoe ‘n demokrasie werk nie, mense! Jy kan nie net iemand wat wettiglik verkies is, ontslaan omdat hy nie saamstem met jou siening nie!

Ten spyte van bostaande het ek geen probleem met die bestaan van ‘n verkiesingskommissie wat ‘n raad wil verkies om ‘n volkstaat te bevorder nie, of ‘n raad wat daar is om die Geloftevolk se ideologie uit te bou nie. Dit is hulle goeie reg om so te maak en ek wens hulle alle sterkte daarmee toe.  Die probleem ontstaan wanneer aanhangers van die VVK veral op Naspers of Praag se kommentaarblaaie probeer voorgee dat die VVK daar is vir álle Afrikaners, en ook met die gebruik van die naam “Volksraad”. Dit kan per definisie nie ‘n volksraad vir alle Afrikaners wil verkies as die kiesowerheid voor die verkiesing reeds besluit het wie is die volk en welke politieke of godsdienstige doelwitte die sogenaamde volk moet nastreef nie. Die volk is dan meer akkuraat dié faksie van Afrikaners wat ‘n territoriale volkstaat voorstaan, en met die Geloftevolk se godsdienstige ideologie saamstem.  Laasgenoemde is weliswaar miskien in die meerderheid, maar dis nie ‘n onafhanklike kommissie se rol om dit reeds vóór die verkiesing te bepaal nie.

Die gevaar van die VVK behoort vir ons almal duidelik te wees: Deur vooraf reeds ‘n bepaalde ideologie, godsdienstige benadering en politieke doelwit voor te hou, gaan dit baie mense, asook regses soos die AVP, vervreem en uitsluit, en gaan dit uitloop op ‘n besonder duur mislukking (ek verneem dat dit minstens R5 miljoen gaan kos.) Dit gaan ook oneindige ammunisie aan Afrikaners se opponente verskaf wat vir seker vingers na die VVK se lae stemtal gaan wys, en as bewys gaan voorhou dat Afrikaners kwansuis nie die gedagte van selfbeskikking steun nie.

PRAAG – hier is geen heilige koeie nie. Ondersteun ons nóú deur hier te klik.

casino slotsДанильченко Юрий Брониславович компромат

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.