Krugersdorp na Kgalagadi

Deel op

Die tien van ons, staan arms om mekaar in digte mis, sesuur die oggend en vra die Here om Sy hand oor ons te hou. Tussenin skiet ek ‘n skietgebedjie op en vra dat ek asseblief ‘n leeu sal sien en hoor, maar nie wil ruik en voel nie. En dis alles Toast Coetzer se skuld.

Hy skryf in April 2008 se Weg die volgende: “Dis April en die stertkant van ‘n nat somer in die Kalahari. Die suur- en boesmangras staan oral lank en die wild is oorvloedig”. En toe ons (ek en my vrou Sonya) dit lees toe besluit ons, ons wil daar wees.

Ons wil ook tussen die suur-en boesmangras staan en die wild bekyk. En sonder dat ons dit bestel het, kry ons sommer toe ook die nat somer. Januarie 2011 kuier ons by skoonpa Mike van Dyk wat toe net terugkom van sy eerste reksprong af. Die adrenalien pomp en hy is reg vir avontuur. Toe ons die Kgalagadi noem, is hy in. Familielid Jakes Jacobs en sy vrou Lee skep nie eers ‘n tweede asem toe ons hulle nooi nie. Hulle is in, sê net waar en wanneer. Enige iets om van hulle oulike, maar besige tweeling kleinkinders af weg te kom.

Ou vriend Jacques Lesch en sy vrou Mobru se hulp word ingeroep, want Jacques is ‘n toergids en besoek dikwels die suidelike gebied van Botswana. Trouens, hy is een van net twee ouens wat die reg het om mense in die konsessiegebied rondom die Kgalagadipark in te neem. Laaste maar nie die minste nie is my ma Tersia Mathews en haar jonger sus Wilma Niewoudt. Hulle het op die nippertjie ingestem om saam te gaan nadat ander vriende onttrek het. Monet, my dogtertjie, voltooi die tiental.

Ons Kgalagaditrein vertrek Vrydag-oggend net na ses vanaf die Krugersdorp Caltex-garage op die N14. Dit bestaan uit vyf voertuie, Jacques-hulle in die Mahindra Scorpio Dubbelkajuit bakkie met ‘n splinternuwe veldsleepwaentjie, ek en gesin net agter hulle in ‘n Jeep Grand Cherokee 3.6L Overland, Wilma en Tersia in ‘n Mitsubishi Pajero 3.2 Di-D GLX Lwb AT met Jakes en Lee in die Land Cruiser en Mike wat die agterhoede dek in ‘n Nissan Pathfinder 3.0 dCi 4×4 AT. As motorjoernalis het ek so by myself gedink, ons kort net ‘n Landrover Discovery dan het ons die hele boksemdaais bymekaar gehad.

Van Krugersdorp af is ons deur Ventersdorp, Coligny en Lichtenburg reguit Mafikeng toe. Gelukkig was ons almal in 4×4’s want net voor Mafikeng het iemand die pad gesteel. Hy het letterlik net weggeraak. Slaggat op slaggat. Op modderpaadjies deur die informele nedersetting sukkel-sukkel ons om op die lughawepad te kom na Bray. Net so tussen hakkies, ek het ook lanklaas soveel donkies langs die pad gesien soos op die grondpad tussen Mafikeng en Bray.

Bray is ‘n baie klein dorpie wat bestaan uit een stof straat. Hierdie is ‘n gewilde oornag plek vir mense wat na Botswana en die Kgalagadi toer. Hier is darem ‘n kerk, ‘n algemene handelaar wat brood en melk verkoop, ‘n vulstasie en dan die grenspos. Ons het oornag by Tapama Lodge, ‘n aangename verassing. Groen gras en ‘n koel swembad met ‘n grasdak lapa waar ‘n mens kan ontspan voor jy die stof van Botswana aanpak. Dit is dan ook hier waar ons al die waterkanne en tenks vol Suid Afrikaanse water gemaak het. Tussen die vyf voertuie het ons 300 liter water saam met ons gery want ons was van plan om droog te kamp.

Die aand het ons by die restaurant geëet en ek sal die kos en diens beslis aanbeveel.

23 April 2011

Saterdagoggend vroeg pak ons die sowat 100m grenspos toe aan. Almal het voor die tyd gewaarsku oor vleis en suiwel produkte wat ons nie deur die grens kon neem nie a.g.v. die bek-en-klou-seer epidemie. Met yskaste vol spek, varkworsies, kaas, yoghurt en laaie vol melk is daar ‘n benoude oomblik of twee maar die manne loer gelukkig net so bolangs in die yskaste in, stempel al die voertuie se papiere en ons is deur.

A.g.v. die openbare staking, nog ‘n vooraf bangmaak storie, is daar aan die Botswana kant net drie mense aan diens; die een kyk paspoorte, die ander skryf permitte en reik derdepartyversekering uit en die laaste een glimlag en deel brosjures uit, eintlik net ‘n plesier. Niemand aan die Botswana kant vra eers oor vleis nie. Net na nege staan ons op Botswana grond.

Ek het voor die tyd vir Dorothy, die eienaar van die vulstasie aan die Botswana kant geskakel om uit te vind of daar loodvrye brandstof beskikbaar is, Behalwe vir die Jeep is al die ander voertuie diesel. Die diesel by Dorothy kos maar R7-70 per liter en die petrol R7-50 per liter. En die brandstof kom alles van Suid Afrika af. ‘n Bonus as jy in ag neem ons moes 5 voertuie volmaak, waarvan twee langafstand- tenks in het, plus ‘n stuk of 7 jerriekanne.

Met vol voertuie en saad nette wat op is neem ons die grondpad na Jannie en Heather by Cornwall Lodge. Dit is so 30 km vanaf Bray op pad na Werda. Jannie-hulle het die plek in 2001 gekoop en bestuur die konsessie area namens die Botswana regering. Die plek kan 16 mense akkommodeer en word hoofsaaklik vir jag ekspedisies gebruik. So in die ry wys Jacques vir ons twee aasvoëls in die top van ‘n Kameeldoringboom. By Cornwall aangekom pak ons gou-gou die vleis wat ons by Heather bestel het in die vrieskaste. So terloops, die suidelike deel van die Kalahari in Botswana is bekend vir sy groot leeus, wat nie gejag mag word nie. Om ‘n regte Kalahari leeu te sien en te hoor brul in die wild is nog een van die goed wat ek op my skop-die-emmer lysie wil aftik. Hier beweeg hulle vrylik tussen die konsessie, Mabuasehube en die Kgalagadi Oorgrens park. Geen heinings, geen drade.

Met die wegtrek kom Jacques se stem benoud oor die radio “Hier’s fout”. Ek stop vinnig en draf om na hom toe. Sy volgende woorde het my opreg laat wonder of hierdie Mahindra regtig so taai is soos hy altyd vertel. “Iets het gebreek” sê Jacques. Al die ander mense in ons trein sit nog net so in hul voertuie, ek vra “Wat?”, so asof hy nou presies weet wat gebreek het. “Ek weet nie, maar dit het soos staal geklink wat klap.” Ek bly maar stil, maar wonder stil binne in my, as die gewone grondpad van 30km al klaar die Indiër ‘n hou op die kakebeen gegee het wat gaan die hoof geveg met die outjie aanvang? Na Jacques met Heather gepraat het ry ons volgens haar aanwysings na die werkswinkel agter die lodge. Hier is ou onderdele en veral skokbreker en stabiliseerder arms soos die vorige ouens hulle voertuie hier herstel het. Binne ‘n paar minute hang die Mahindra met sy regterkantste voorwiel in die lug. Toe ons die wiel af het sien Jakes dat die hegstuk wat die skokbreker aan die onderkant teen die as vashou, mors af gebreek het.

Gelukkig was die werkswinkel met ‘n sweismasjien en ‘n Gert toegerus. Gert is ‘n local, maar hy praat baie mooi Nama Afrikaans en Gert weet toe sommer ook hoe om te sweis. Die gedoente het ons ‘n hele 4 ure besig gehou; die vrouens het nie gekla nie, want hulle kon lekker rustig onder die lapa sit en gesels, ‘n koffie drink en toebroodjies bestel.

Met twee snytjies geroosterde kaas en tamatie broodjies in die kieste is ons toe weer vort. By Khokotso tel ons ‘n glimlaggend Black op. Dit lyk darem positief as ‘n man so lank moes wag en dan nog steeds lag as jy hom oplaai. Na Khokotso swaai ons links die woestyn in. Gelukkig is die gras nie te lank nie en ek dink by myself dat ons nooit hierdie saad nette wat ons op al die voertuie het regtig gaan gebruik as die paaie so lyk nie. Jack’s Pan is so 150km van Khokotso af en dit is net sandpad. Voor ons in die vêrte dreig die wolke om oop te bars en ek sê vir Sonya ons gaan nog lekker in die reën kamp maak. My woorde was nog nie koud nie toe die hemel oopbars en ons soos dit vir my gevoel het met genoeg water gegooi word om Vaaldam mee vol te maak. Ek gryp die radio en skerts kortaf , “Nou sous dit”. Jakes en Lee is net buite sigafstand van ons en sy stem kom oor die radio, ” Hier hael dit waar ons is ” sê hy. Ek ken vir Jakes en dink so by myself, ja en hier by ons sneeu dit. Dit was nie 500m nie toe ry ons wraggies binne ‘n allemintige haelstorm in. Monet laat benoud van die agtersitplek hoor dat as sy nie nou ‘n sjokolade eet nie, sy ernstig bang gaan word. Sonya gee net sjokolade stafies aan. Dit sous behoorlik en ek wonder hoe nat ons eintlik gaan wees as die hael die Jeep se panoramiese glasdak, wat tot bo-oor die agterste sitplekke strek, stukkend slaan. Ek sukkel om die pad te sien en die Jeep gly-gly so tussen die bome deur. Reënveërs is op hulle vinnigste aan en jy sien net haelkorrels trek. Ek klou die stuurwiel vas, sê niks en Monet trek al by drie stafies. Geleidelik word die hael en reën minder en trek die storm darem oor.

Die pad is voel poele water so 20cm diep en die haelkorrels lê soos sneeu. Mensig, toe speel die manne lekker. Die fotograwe het almal uitgeklim en langs die pad stelling gaan inneem om mooi aksie foto’s van die motors te neem. Die lig is besonder skerp en skoon en ons neem die mooiste foto’s. Lee besluit toe sy wil so entjie dieper die bos in, maar die volgende oomblik toe lyk dit asof iemand haar handsak gegryp het iewers in Kerkstraat. Sy kom met mening terug na daai Cruiser toe gehol; Black het die hele petalje van ‘n afstand af gestaan en bekyk, die ene tande. Hy beduie “Wildebees, Wildebees” en toe besef almal eers wat aan die gebeur is. Dit was nogal baie snaaks ten koste van die arme Lee wat net die gesnork agter haar in die bos gehoor het. As dit nou regtig ‘n leeu of so iets was het hy glad nie ‘n kans gehad om haar te vang nie. Sy het nie verniet aan die SA skole atletiek deelgeneem nie en sy sou los bo-oor daai Cruiser se neus gegaan met die spoed waarmee sy aangekom het. Die son begin sak en ons moet dieper die konsessie in.

Na ‘n rukkie se ry kom Jacques se stem oor die radio; Black sê ons moet slaapplek soek, ons gaan nie vandag Jack’s Pan haal nie. Ek kyk op my horlosie en sien dis amper half-ses. Na nog ‘n paar minute se geryery tussen al die poele deur sê Jacques oor die radio dat hy ‘n lekker oop stuk bos gesien het waar nie te veel bome is nie. Ons trek die voertuie mooi netjies in ‘n laer met die vuurmaak plek mooi in die middel, al die tente se oop kante moet na binne wys en die voertuie is agter die tente, net vir ingeval nuuskierige wilde diere wil kom inloer. Die lig is sterk skemer en ons sal moet wikkel met die kamp, dit is hoeka donkermaan. Elkeen is besig met sy eie tent en binne ‘n driekwart uur toe staan die kamp. Wilma se opblaas matras het ‘n prop gekort so toe maak ek sommer van ‘n wynbottel se kurk ‘n prop vir die bed. Sy het ook gelukkig ‘n opblaas pompie vir haar bed saamgebring anders het ons almal op die grond geslaap, want niemand anders het daaraan gedink om een in te pak nie. Stoele uit en die vuurtjie brand hoog met die effense nat hout wat Black vir ons nader gesleep het. Dit was ‘n lekker eerste dag in Botswana; geen probleme by die grens nie, die Mahindra het gelukkig op die regte plek gebreek, ons het ‘n erge haelstorm oorleef en sommer lekker in die water gespeel. Kort-kort hoor jy ‘n jakkalsie huil in die bos. ‘n Verdwaalde sonbesie is nog nie in die bed nie en ‘n paar fisante roep na mekaar. Na ‘n lekker bos braai, met slaai en knoffelbrood, klim ons uitgeput in ons tente.

24 April 2011

Sondag oggend slaan ons die kamp sommer vinnig op. Black vul die vuurmaakplek mooi netjies met sand op. As jy ons nie gesien kamp het daar nie, sou jy beslis nie geweet het dat daar vyf voertuie met ses tente en ‘n groot kampvuur was nie. Dit is mos hoe ‘n mens die veld moet los na so padkamp het ek vir myself gesê. Nou is ons reguit op pad Jack’s Pan toe. Die kaplyn, die grens sonder drade tussen die konsessie en die reservate, lê nog so 50km vorentoe waarvandaan ons regs moet draai al teen die grens van die Mabuasehube reservaat langs tot by Jack’s Pan. Jacques ry weer voor met Wilma-hulle volgende, dan Jakes, ons en Mike heel agter.

Skielik stop Jakes hier voor ons doodstil en hulle bekyk iets in die pad. Kan dit wees? Ek hou ook stil en loer deur die verkyker. Sjoe dit is iets wat ‘n mens nie sommer elke dag sien nie. ‘n Berghaan sit vlak voor ons in die pad en bad in een van die poele water wat deur die storm agtergelaat is. Ongelooflik, die voël steur hom nie aan ons klomp wat van al die kante af probeer foto’s neem nie. Mike hou agter ons stil en kom leun met sy 300mm lens op my deur om ‘n stabiele foto van die roofvoël te kry. Sonder waarskuwing besluit die berghaan dit is ver genoeg en swiep die lug in. Dit was seker een van die mees ongelooflike gesigte van ons toer en sommer so vroeg-vroeg op die tweede dag in die bos. Almal is nou eers opgewonde oor hierdie wonderlike land. Wat gaan ons nog teëkom en gaan ons vanaand dalk leeus of hiënas raakloop?
Ons begin net weer ry toe Jakes skielik aankondig dat daar ‘n baie mooi silwerrugjakkals aan die regterkant van die pad hardloop. So ry ons; ry-stop, ry-stop en elke keer stop ons om na duikers, steenbokkies, gemsbokke, rooi hartebeeste, verskillende valkies en arende, ‘n slang of so asook verskillende soorte plante en bossies te kyk. So erg dat toe Mike op een stadium vir Black vra hoe laat hy dink ons op Jack’s Pan gaan aankom die ou net sy kop geskud het en gesê het soos ons ry weet hy darem nie.

Die regte dik sand begin toe ons ‘n rukkie later by die kaplyn uitkom. Jacques, Jakes en Wilma se voertuie is toegerus met BF Goodridge All Terrain bande en so ek en Mike moet maar sukkel met ons gewone padbande. Met die Jeep se tegnologies gevorderde lugvering, wat standaard op die Grand Cherokee is, was die grondvryhoogte glad nie ‘n probleem soos in die Pathfinder nie. Ons het eers gedink dit is die Pathfinder se noodwiel wat onder die agterkant gemonteer is wat op die hoë sand middelmannetjie sleep, maar toe kom ons agter dit is in werklikheid die agterste ewenaar. Ten spyte van die lae onderkant van die Pathfinder het die Nissan die tweede meeste krag in hierdie geselskap gehad en was die meeste van die pad nooit ‘n probleem nie.

Na so 20 kilos se gestry met die stuurwiel deur die dik sand kry ons die bospaadjie na Jack’s Pan. Toe weet ek hoekom ons die saad nette opgesit het. Die paadjie is dik sand en met die baie hoë gras vleg ons trein maar stadig heen en weer deur die sowat 6 kilometer bos om by die spierwit pan uit te kom. Ons het reguit op die pan afgery en by die kant van die slik modder het ons slap links geswaai om al langs die pan te ry tot by ‘n kaal kol teen die noordelik helling van die duin wat half om die pan is. Opgewonde pak ons gou die voertuie af en begin kamp opslaan. So nou en dan wys Lee benoud in die rigting van ‘n duin, maar ons almal is te besig met kamp opslaan om te luister. Met die kamp uiteindelik op, help ons gou vir Wilma en Tersia, waar hulle nog sukkel met hulle swaar vyfman tent. Een-een begin ons besef waarna Lee die heeltyd wys. Die lug lyk boos en ewe ‘Steven Spielberg’. Dit herinner sterk aan daardie storm-jaers wat soos mal mense in die oog van die tornado in jaag. Soos groot trane begin die druppels in die wit stof neer plonk en kort voor lank is daar ‘n fris stormpie op ons voorstoep. Met rukwinde kort-kort moes elk van ons groot manne by ‘n hoek van tent gaan staan het net om die goed op die grond te hou. Die tentpenne het nie heeltemal die regte vasklou vermoë in die los sand as wat ons nodig gehad het nie. Monet het soos ‘n plat gewaaide apie aan die eenkant van Mike se splinternuwe gazebo geklou, so of dit nou enige verskil sou maak. Na vyf minute en baie haelkorrels was die mini storm oor en verby, almal het begin ontspan en ons het selfs ‘n paar mooi foto’s van ‘n werklik asemrowende reënboog oor Jack’s Pan geneem. Min het ons besef hierdie was net die oefenlopie!

Iemand maak koffie en so tussen die laaste tenttoue styftrek gryp elkeen ‘n beker met koffiekapitaal. Hier gaan ons lekker kamp. Skaars was die gedagte uit my kop uit of dit voel asof ‘n vreemde vlieënde voorwerp op ons boskamp kom land. Die wolke maak so ‘n regte Amerikaanse tornado tregter hier bo ons. My koppie (sonder die koffie) het ek eers die volgende oggend langs een van karre in die veld opgetel. Die moeder van alle haelstorms het ons getref. Kompleet met erge rukwinde en druiwekorrel groot haelkorrels. Ek weet net ek het Jacques se nuwe waentjie se een tentpaal gegryp, Mobru die ander een en ons het geklou. As ek ‘n kilo minder geweeg het, het daai wind my en die wa wragtig opgelig. Die hael het my kneukels velaf gekap. Ek kon nie deur die water gordyn sien waar die ander was nie. Ek het my dogtertjie hoor huil en my vrou hoor troos. Hulle was beide saam Mike onder sy gazebo. Ek kon nie mooi sien of die gazebo nog gestaan het nie, maar hulle was darem nog onder die seile. Aan die anderkant van die kamp waar Wilma en Tersia oomblikke gelede nog gesukkel het om die boog tent staan te maak was net ‘n hoop materiaal, met Wilma wat soos ‘n vlaggie aan ‘n boogpaal klou. Ek het later eers besef dat Jakes aan die agterkant gehang het. Jacques was aan die agterkant van die waentjie besig met skade beheer. Ons geleende Oztent het darem nog gestaan. Dit was net die stoep gedeelte wat glad nie meer ‘n stoep was nie. Jakes se nuwe daktent bo op sy Cruiser was al mooi vasgemaak en Lee was binne in. Sy het eers na die storm haar kop by die ritssluiter uit gedruk om te kyk of sy nie dalk alleen verder gaan kamp nie. Met die storm vinnig oor en verby staan ons, almal deurdrenk nat, en doen ‘n skade opname.

Niemand sê ‘n woord nie. Mike se nuwe gazebo is letterlik plat gewaai, omtrent elke pyp was gebuig. En nee, nie plastiese pype nie, staalpype. Een van pype het Sonya oor die kop gekap en haar bril gebuig. Sy en Wilma lyk asof hulle masels het soos die hael hulle gekletter het. Mike sit net verdwaas teen die Pathfinder se trekstang en kyk na die verwoesting wat Jack’s Pan se haelstorm binne minute gesaai het. Een van die Oztent se aluminium arms was mors af gebreek. Tersia-hulle se boog tent se keerseil het die pad gevat en kruip weg onder ‘n hoop blare en haelkorrels. Jy kan die verdwaasgeid met ‘n lepel skep. Die enigste twee goed wat redelik ongedeerd deur die storm gekom het is ons Kalahari Ferrari (ons bos toilet wat ons heel eerste ‘n ent buite die kamp agter ‘n swarthaakbos goed vasgekap het) en Black se klein boog tentjie. Stadig tel iemand ‘n pyp op en so begin ons met die herbou van die kamp. Die sonsondergang later is asemrowend en die wolk formasies iets om oor huis toe te skryf. Die troppe elande, springbokke, gemsbokke en die een of twee verdwaalde blouwildebeeste op die pan is ‘n groot bonus. Die aand om die vuur deel elkeen sy eie storie oor die storm en is ons dit almal eens, Jack’s Pan is vir altyd in ons almal se are. Elkeen se ervaring van die storm is ‘n hoogtepunt op sigself. En met die potjiekosreuk in ons neuse sit ons rustig om die kampvuur en luister na bakoorjakkalsies se roep. Alles die moeite werd.

25 April 2011

Maandagoggend is die lug ongelooflik mooi en verskeie kolganse sowel as breëkop arende begin vroeg-vroeg in die lug rond te speel. Troppe diere loop lui-lekker om en oor die pan. Kgalagadi DSTV op sy beste. Na ontbyt neem elkeen sy eie rigting en ek en Sonya gaan sit op ‘n stoel en kyk hoe die dag vorder op Jack’s Pan. Ek en Mike kom later op vars luiperd en gevlekte hiëna spore af en met Black se kennis besef ons die ouens het so wraggies kom kyk wie die nuwe intrekkers op die pan is. Ek, Jakes en Mike ry net voor die son ondergaan die Pajero na die oorkant van die pan toe, en neem die mooiste foto’s. Daardie aand om die kampvuur ruil ons foto’s uit, kuier sommer net lekker kuier om ‘n heerlike bosbraai. Toe almal se asems later op is, sit ons met gedraaide nekke na die sterrehemel en kyk. Nog nooit was die melkweg so helder soos juis hier nie.

26 April 2011

Dinsdagoggend vieruur skrik ek wakker met die mees onaardse geluid wat ek al ooit gehoor het. Ek lê doodstil en probeer uitwerk van waar kom dit. Ek sien ‘n flits lig en besef dit moet seker een van die ander wees wat ook wakker geword het. Versigtig steek ek my kop by ons tent uit en sien dit is Black. Hy gewaar my en vra of ek die leeu gehoor het. Het ek hom nie gehoor nie, fluister ek. Hy sê die ou maanhaar is so 200, miskien 300 meter van die kamp af en dit is ‘n groot mannetjie. Ek kry toe my groot flits en gaan staan baie naby aan Black, nie om enige ander rede as om vir Black dop te hou nie. As hy vir ‘n boom hardloop, is ek saam. Dalk sal ek eers my vrou en kind uit die tent uit gaan red, sal nog sien. Ek sluit solank die Jeep oop met die afstand beheer wat ek ook so deur die slaap opgeraap het.

Ons hoor die leeu weer brul, verder as die eerste keer. Ek ontspan effens en Black sê ewe ongeërg dat dit nou die tyd is wanneer hierdie mannetjie jag, vroeg in die oggend. Hy voeg ook vinnig by dat die maanhaar weg loop van die kamp af. Die volgende uur of so was dit doodstil in die bos rondom die kamp. So teen kwart oor vyf toe hoor ons weer die gebrul, die keer van reg oorkant die pan. Die maanhaar het van agter ons kamp reg verby die kamp na die oorkant van die pan gestap en nou is hy op pad terug. Die son was nog nie heeltemal op nie, so ons sig was nie te goed nie. Die oorkant van die pan is seker so een en half kilometer van ons kamp af. Teen hierdie tyd het die res van ons kamp ook al die gebrul gehoor en ontwaak en staan almal met vêrkykers en kameras en wag.

Skielik roep Jacques hy sien hom en sowaar, dit is ‘n groot swart maanhaar mannetjie. Uiteindelik kan ek my merkie op my lys maak dat ek ‘n regte wilde Kalahari leeu gehoor het. En gesien het. Hy kom op ‘n ligte drafstappie reguit op pad na ons kamp toe, al met spore langs waar ons die vorige dag met die Pajero gery het. Ons maak al almal planne om so vinnig moontlik in die karre te kom sou hy baie nader kom. Skielik steek die maanhaar vas, kyk stip in ons rigting, brul een ontsaglike brul en draai weg in die bosse in. Nou is ons eers versigtig want ons kan hom nie in die bosse sien nie. Skielik brul hy weer so skuins agter die kamp, dieselfde rigting vanwaar hy vanoggend vroeër gebrul het. Ons is aan die eenkant verlig, maar aan die anderkant effens teleurgesteld want hy was net-net te ver en die lig was net te swak om hom af te neem, maar ons het hom gehoor en gesien.

Nadat ons toebroodjies van ‘n varsgebakte brood gemaak het, begin ons oppak, want dit is al weer tyd om te groet. Die trein is gepak en ons neem hartseer afskeid. Jacques ry voor en Black hang by die venster uit. Gou-gou kry hy en Jacques die spore van ons vroegoggend besoeker. Sy voorpote is groter as my hele handpalm. Die ses kilometer wat ons van die bospad af in gedraai na die pan toe moet ons nou weer terug. Die leeumannetjie het blykbaar ook besluit dit was ‘n goeie roete terug want sy spore het al in die pad vir amper die hele ses kilometer gelê. Kort voor ons die bospad kry toe swenk die groot spore regs die bosse in. Ons draai links op pad terug na die kaplyn wat verby Mabuasehube se hek loop.

Op die kaplyn hou ons trein eers stil hou om te kyk of daar nie dalk grasse onder die voertuie vassit nie. Mens hoor mos gedurig van karre wat uitbrand as gevolg van die gras wat onder die voertuie verstrengel raak en dan deur die warm dryfas en uitlaatpyp aan die brand gesteek word. Met die karre skoon onder pak ons die dik sand aan. Ek besluit dit is ‘n goeie tyd vir Sonya om bietjie die Jeep in die sand te bestuur. As dit nie die vorige aand gereën het nie sou ons skaars 20 km/h kom ry want die sand was lekker sag en dik, maar die reën het dit so effe gekompakteer wat die rit makliker maak. Na so vyf kilometer gooi Sonya handdoek in en weier om verder te bestuur. Die Jeep met sy Sandton bande gly te veel in die sand. Na ek oorgevat het, ry ons het tot by Mabuasehube se hoofhek. Hier bestorm die vrouens die toilette of dit ‘n Woollies uitverkoping is. Met die uitklim slag sien ons baie vars jagluiperd spore, sommer so in die pad tot by die hek. Ons neem ‘n paar foto’s by die hoofhek van die park voor ons weer die pad vat. Ons het nog een aand in die konsessie oor, maar ons moet die volgende oggend 11h00 vir Black in Tsabong aflaai.

Die sand begin al dikker en dikker raak. So diep dat Jacques die Mahindra in 1ste rat moet sit om aan die beweeg te bly. Naby drie uur se kant, en so 40 km voor Tsabong, vra ek oor die radio vir Jacques om maar te begin uitkyk vir ‘n oop stuk grond, ‘n so bietjie die veld in, sodat ons nou nie so naby die kaplyn kamp nie. Jacques swaai toe regs die bosse in. Daardie aand maak ons toe ons laaste boskamp net daar in die veld langs Mabuasehube. Na aandete haal Jacques sy “blacklight” uit en skielik verander elke skerpioen in die omgewing in boetie se “glow-in-the-dark” monstertjies. Hulle het fosfor in hulle skelet wat die lig absorbeer en as jy dit nog nie gesien het nie, maak ‘n plan. Na ‘n heerlike pasta gereg en bietjie malvapoeding met vla sluip ons een-een na sy onderskeie tent.

27 April 2011

Met ‘n koeltetjie in die wind die volgende oggend is ek maar bly dis ons laaste nag in die veld. Na koffie en beskuit pak ons vinnig op en neem dieselfde kronkelpaadjie terug na die kaplyn toe. Die kaplyn pad, wat die hoofpad na Tsabong is, begin al hoe slegter word en ons sien vir die eerste keer in ‘n lang tyd ander voertuie. “Road Maintenance” waarvan die borde ons gister gewaarsku het, is oral langs die pad besig om iets soos kalk stof in die gate vol water te stort en die pad dus mooi op te vul. Stelselmatig begin die padoppervlakke al beter en beter word tot ons later Tsabong binne ry. Ons spoor die “Mall” taamlik vinnig op en bedank Black vir sy dienste. Op daardie oomblik lui die klok by die laerskool oorkant die pad en voor jy kan sê mes is ons omring deur laggende bekkies. Die kinders se vriendelike “Take me a photo, take me a photo” kan ek nie weerstaan nie en toe maak ek die klomp staan rondom die Jeep. Na die impromptu fotosessie gaan soek ons petrol, wat makliker gesê is as gedaan.

By Tsabong se enigste vulstasie wat brandstof het, begroet rye en rye voertuie ons. Hulle petrol het die vorige dag drie uur die middag opgeraak en die tenkwa met die brandstof het eers vanoggend hier aan gekom. Die plek wemel van GP en NW voertuie. Gelukkig is daar nog drie jerriekanne vol petrol vir die Jeep en ek besluit toe ek gaan nie in een van hierdie rye staan nie. Gelukkig was die diesel ry baie kort en dit was nie lank nie toe is die Cruiser, Mahindra, Nissan en Pajero weer propvol. Ons loop mense van Centurion en Hartbeespoortdam raak wat een van hulle nagte in Mabuasehube moes opgee om voor die vulstasie in die dorp te kamp om te wag vir die brandstof. Nodeloos om te sê, maar Mamma was toe nie baie gelukkig nie.

Middelputs lê so 45 kilometer van Tsabong af en oppad sien ons die eerste regte rooi duine van die omgewing. Met die baie reën wat die Kgalagadi gehad het is die meeste duine met gras oortrek, maar hier was nou die eerste oop duine. Die pragtige wolkformasies en ysterklip skep die perfekte foto geleentheid. My GPS wys ons ry al langs die Molopo-rivier, wat die grens tussen Suid Afrika en Botswana vorm. Ek was nog nooit in Middelputs nie, maar die grenspos lyk groter as die een by Bray. Baie parkering en baie netjiese geboue.

Die twee Botswana grens personeellede wat aan diens is (die ander agt staak), is baie vriendelik en behulpsaam en ons is sommer baie vinnig deur die grens en terug in Suid Afrika. Met die uitry slag sien ek Mike hou stil om ‘n foto te neem van ‘n paar meerkatte. Groot is ons verbasing toe ons later ontdek dat daar ‘n bruin muishond ook in die agtergrond op die foto is. Volgende stop is Vanzylsrus. Hierdie dorp is bekend vir die National Geographic reeks van Meerkat Manor wat naby die dorp verfilm is. In die dorp aangekom stop ons by die hotel. Daar is darem ‘n paar huise, ‘n hotel met twee drankwinkels weerskante van hom en ‘n paar ander klein besighede. Gastehuise en lodges is daar heelwat van en die groot kerktoring hou ook wag oor die huise. As jy nog nie die hotel op Vanzylsrus gesien het nie, mis jy iets. Baie talentvolle mense in daardie dorpie. Ons oornag by Khomani Lodge. Die Lodge is geleë op die tweede grootste sandduin in die dorp en bestaan uit drie houthuise bo op die duin. Die groot huis, wat 16 mense kan akkommodeer, waar ons oornag is baie goed toegerus. Nadat almal klere en kos afgepak en gestort het, maak ons ‘n lekker potjie en gebakte broodjie en kuier tot laat om die vuur.

28 April 2011

Die volgende dag is elke ou maar op homself aangewese en na ontbyt spat elkeen in ‘n rigting. Sommiges sit en lees, ander kyk na die voorloop William en Kate se troue op TV en ander loop rond en neem foto’s. ‘n Entjie van die lodge af is ‘n groot versamel voëlnes en foto oomblikke is daar baie. Ander voëls van die omgewing is ook redelik mak en kom sit sommer op die stoep van die houthuis wat foto neem ‘n plesier maak. Namiddag gaan ry ons en Jacques-hulle bietjie donkiekar saam Harry en sy steeks donkies. ‘n Belewenis op sigself. Mens kan nie glo dat vir baie mense is die donkiekar nog die enigste manier om vinniger van punt a na punt b kom as om te stap nie.

Net voor sononder wil ons die grootste duin buite die dorp gaan uit ry. Elbie, die hotel eienaar verduidelik vir ons hoe om by die duin te kom, en vra toe sommer ook of ons regte 4×4 voertuie het, want blykbaar is die duin nie ‘n man se maat nie. By die duin gekom kyk ek die spulletjie so en besluit ek sal maar eerder die muis deel van die man-of-muis roete neem. Nie omdat ek bang is nie, maar omdat ek realisties is oor die Jeep se bande. Die Jeep en die Pajero (ons het die Pathfinder by die lodge gelos) is toe langs die kant van die duin op. Al is die Jeep op sy hoogste verstelling moet ek die laestrek aktiveer om die duin uit te kom. Die Pajero, met sy All Terrain bande, is baie makliker die duin uit.

Die Cruiser is eerste teen die man deel van die duin uit en was amper bo toe Jakes onthou hy moet dalk die wiele effens afblaas. Tweede probeerslag is ook nie geslaag nie, maar met die derde probeerslag is hy bo. Jacques, wat al baie tergery oor sy 4×4 moes aanhoor, wil die manne se monde oor die Mahindra stil maak en pak die duin met die bakkie reg van voor. Tot Mobru se ontsteltenis. Na drie probeerslae is hy ook bo. Ek moet net sê dat beide die Mahindra en Cruiser nog volgelaai is. Die Mahindra het seker ‘n halfton goeters agter op sy bak, die agtersitplek het ‘n vol gelaaide yskas en ‘n klomp herwinning toerusting. Jakes se Cruiser is ook vol gelaai met ‘n laai stelsel vol goed en ‘n daktent op die dak. Albei se langafstand- tenks is nog vol diesel. Ek het stil-stil my hoed gelig vir die Mahindra en die Cruiser. Later daag nog mense op en probeer een ou toe met ‘n VW Touareg V10 Diesel (wat geen vrag in het nie) ook die duin uitry. Hy moet ook drie keer probeer en die laaste keer toe brul daardie Volksie soos ‘n ou Leyland Mini wat een van Waterkloof se bulte uitry in eerste rat. Die mooi sonsondergang bo op die duin sluit die dag perfek af. Ek wonder net wat sou die Jeep met die regte bande op, nie kon vermag oor hierdie duin nie. Die manne se monde sou oop hang. Nou terug lodge toe vir lekker vetkoek en maalvleis.

29 April 2011

Vrydagoggend pak ons met swaar voete die voertuie en vertrek op die tweede laaste been na ons bestemming die Kameelboom Lodge in Vryburg. Ons ry grondpad langs na Hotazel. ‘n Sarel van der Merwe in sy Hilux bakkie sorg vir ‘n groot kraak in Jacques se Mahindra se voorruit. Hotazel is ‘n klein myn dorpie noord van Kuruman en die manne van Hotazel, Kuruman en Katu sal jou sê as jy nog nie in hulle tri-nations rugby gespeel het, is jy nie goed genoeg om vir Griekwas uit te draf nie. In Hotazel kan ‘n mens sien die myn onderhou die dorp en nie die munisipaliteit nie, want alles is skoon en netjies. Kameelboom Lodge lê so tien kilometer voor Vryburg op die Kuruman pad. Dit is ‘n vriendelike plek met netjies kamers en van die mooiste tuine wat ek nog teëgekom het. Orals is hoekies en draaitjies met die mooiste spreekwoorde wat op geroeste plate en drom deksels aangebring is. In die middel van die tuin staan ‘n 500 jaar oue Kameelboom, werklik ‘n besondere gesig. Om die vuur die aand skiet ons met regte ketties na ‘n paar blikkies en eet die laaste van Heather se heerlike Kalahari wors. In almal is daar ‘n onwerklike gevoel om te dink die vakansie staan einde se kant toe. Die Botswana bos en die mooi sonsondergange sal nog lank in ons geheue vasgebrand wees.

30 April 2011

Met ontbyt sit ek, tussen die geroesemoes van stemme, en dink hoe dankbaar ek is vir ‘n mooi land soos Botswana waar ek eintlik, ironies genoeg, veiliger gevoel het tussen die wilde leeus van die Kalahari as wat ek in Waterkloof tussen die ministers van ons land voel. Botswana is ‘n pragtige land met vriendelike mense en dit is een van min lande in Suider Afrika waar die diere nog werklik wild rondloop. Met ‘n totale populasie minder as die van Gauteng, is Botswana een van die bes bewaarde wildsbestemmings wat ek nog besoek het. By die garage in Krugersdorp aangekom, groet ons almal vinnig en spat uitmekaar, elkeen oppad na sy eie bestemming maar met die selfde gevoel van “Wat’s volgende?”.

André en Sonya Olivier

Indrukke oor ons voertuie vir die ongelooflike toer

Jeep Grand Cherokee 3.6 V6 Overland
Die Jeep het hom goed gedra, ons was drie mense in die voertuig met ‘n kamp yskas, 45 liter koelkas, herwinning toerusting, twee kratte kos, 20 liter drinkwater, klere en kamptoerusting en kampstoele. Die Jeep was tot teen die dak gelaai met net genoeg oop sit plek vir my, Sonya en Monet. Ons het 134 liter petrol gebruik en dit was net eenkeer nodig om die Jeep in laestrek te ry en dit was by Vanzylsrus teen die duin uit. Oop pad verrigting is uitstekend en selfs met die Grand vol gelaai het ek nooit gevoel die 3.6 liter V6 Pentastar enjin werk nou hard nie. Ons toer trein het nooit meer as 110 km/u gery nie en die tog beheer waarmee die Jeep toegerus is het die rit baie gemaklik gemaak. Die Overland spesifikasie waarmee ons toetsvoertuig toegerus was het verhitte sitplekke wat ‘n verkoelings funksie het as standard toerusting. Die verkoelings funksie was nogal handig in die Kalahari, die kwik het vir so twee dae ver oor die 30 grade getrek en dit was juis die verkoelde sitplekke wat my laat kophou het in die diep sand van die Kalahari. Die Jeep se bougehalte is puik en selfs na 500 kilometer in die stof het ek glad nie stof geruik in die Jeep se kajuit nie, daar was geen noemenswaardige ratels na al die grondpaaie wat ons gery het nie en selfs nie eers ‘n papband na al die bospaadjies waar ons gekamp het nie..
Wat my gepla het van die Jeep:
Die toetsmotor was pikswart, nou ons almal weet dit is mite dat swart motors warmer is ander kleur motors, maar die swart het my baie laat lyk soos een van die ampsdraers van die plaaslike regering en daarvan het ek nie baie gehou nie. Die swart het ook baie gouer al die Kalahari stof gewys. Ons toetsvoertuig was toegerus met die standaard 20 duim 265/50 R20 BSW 3 werkverrigting bande wat die sand ryery baie moeilik gemaak het. Die opsionele “Off–Road Adventure II” packet wat 18 duim 265/60 R18 BSW All terrain bande insluit sou hierdie Jeep in ‘n heel ander klas geplaas het op die tiepe paaie. Die pakket sluit ook skaaf plate vir die onderkant van die voertuig in wat die gras ook sommer sou uithou uit die dryfas stelsel uit. Ons toets voertuig se kompas was ook die hele tyd verkeerd, hy het nooit die regte rigting aangedui nie, nou dit moet ek bieg kon my skuld gewees het, want ek het nooit voor die tyd seker gemaak die kompas is reg gekalibreer nie, maar aan die anderkant die GPS stelsel het 100% gewerk en ek kon nie verstaan dat die kompas en die GPS nie saam werk nie.
Wat my beïndruk het van die Jeep:
Die Jeep het verseker die meeste pakplek van die drie motors gehad, die sitplekke wat plat vou en die lengte van die laai ruim is indrukwekkend. Die rygerief was uit die boonste rakke en dan die toerusting wat ingesluit is by die prys van R582 000 is net verstommend. Leer en houtafwerking, verhitte/verkoeling vir die sitplekke en stuurwiel, lugvering, panoramiese glasdak, 210 Kw. se krag, lug filtrering stelsel vir die kajuit, “Smart Beam” slim hoofligte wat aankomende verkeer in ag neem met die sterkte van die hoofligte die lys gaan net aan. Die Jeep is bykans R70 000 goedkoper as die Nissan Pathfinder en slegs R30 000 duurder as die Pajero GLX wat nie naastenby so goed toegerus is as die Jeep nie.

Nissan Pathfinder 3,0 dCi V6 V9X LE
Mike het alleen in die Pathfinder gery met al die sitplekke plat gevou sodat die kamp toerusting, plus van die kos en ‘n 45 liter koelkas sowel as ‘n seil gazebo van 6×4 meter en water kon inpas.
Wat my gepla het van die Nissan:
Ek weet nie of dit net hierdie spesifieke voertuig is nie en of dit ‘n eienskap van die Pathfinder is nie, maar die voertuig se stert het kwaai gehang. Hy was vol gelaai maar nie veel swaarder as wat sewe insittendes met bagasie sou wees nie. Ons het ook die swaarste goed in die middel van die voertuig probeer pak sodat daar juis nie baie gewig op die agterwiele moes wees nie. Die Pathfinder het op heel party plekke sy stert op die sand gesleep, veral in die diep sand van die kaplyn. Ons het eers gedink dit is die noodwiel wat onder die bak gemonteer is , maar agtergekom dit is die agterste ewenaar wat laer as die wiel hang. Mike besit self ‘n 1998 Nissan SANI stasiewa en die Pathfinder is inderdaad kleiner binne as die SANI. Op sy hengel uitstappies slaap Mike gereeld agter in die SANI as die sitplekke plat gevou is, in die Pathfinder kon Mike wat nie eers sesvoet lank is nie, nie plat lê met al die sitplekke plat gevou nie. Ek was ook seker bederf met die Premium bou gehalte van die Jeep, maar die Pathfinder het heelwat meer ratels op die grondpaaie as die Jeep gehad en jy kon duidelik die stof ruik wat heel agter aan die linkerkant by ‘n klein luginlaat in die kajuit ingesuig is. Die Pathfinder was ook met standard pad bande en nie All Terrain bande toegerus wat waarskynlik die sand ry bietjie makliker sou maak.
Wat my beïndruk het van die Nissan
Wel die klankbaan van die Pathfinder se 3.0 liter V6 turbodiesel met nie minder nie as 170 Kw is werklik iets besonders. Die Pathfinder is toegerus met leer sitplekke wat elektroniese verstel, ‘n navigasie stelsel met ‘n geheue vir musiek ensovoorts en ‘n werklike baie gebruikersvriendelike elektroniese vierwiel stelsel wat maklik met die draai van ‘n knop die voertuig gereed het vir van die moeilikste paaie. Sonder die trekkrag van 550 Nm wat die Pathfinder sonder enige inspanning ontwikkel sou ons verseker baie moeilike in die sand gery het, juis omdat die stert so laag gehang het. Mike het 136 liter diesel in die Nissan gebruik.

Mitsubishi Pajero GLX LWB
Wilma en Tersia was die meeste van die tyd in die Pajero, hulle het ook die agterste sitplekke plat gevou om plek te maak vir twee tasse, ‘n vyfman dome seil tent met span seil, kos, water en ‘n 45 liter koelkas. En vroumense kan ‘n klomp goed saam ry.
Wat my gepla het van die Pajero
Wel om die waarheid te sê was daar bitter min wat gepla het, die voertuig het presies gedoen waarvoor hy ontwerp was. As ek nou regtig krities moet wees sou ek sê die dik plastiese bak skorte wat aan die onderkant van die deure aangebring is en by die stampers aansluit en heelwat krappies in die bosse op gedoen, die feit dat die Pajero ook hoë agter hoeke het ook die bos ryery bemoeilik, waar die ander twee voertuie maklik onder deur ‘n bos kon gaan het dit mooi ry gekos om nie die Pajero te krap nie. Daar is dan ook ‘n paar fyn haarkrappe veral op die agterste boonste hoeke op gedoen.
Wat my beïndruk het van die Pajero
Die Pajero se bakwerk kleur wat werklik die mees sindelike kleur, die metal blougrys kleur het die minste stof gewys en ons het van die mooiste foto’s van die Pajero gekry in die Botswana son. Die Pajero was ook die enigste een van die drie wat met All Terrain bande toegerus was en dit het werklik ‘n groot verskil gemaak op die sand paaie van die kaplyn. Die navigasie stelsel van die Pajero was ook vir my die mees indrukwekkendste met die hoogte bo seespieël en kompas rigting wat duidelik aan gedui is. Die laestrek-ratte wat met ‘n tweede hefboom geskakel kan word was ook meer ou skool wat nie so gebruikersvriendelik soos die Jeep en die Nissan was nie, maar meer vertroue inboesem as die twee nuwer voertuie. Ons het 135 liter diesel in die Pajero gebruik.

Gevolgtrekking
Teen R544 588 is die Mitsubishi Pajero 3.2 Di-D GLX LWB Outomaties die goedkoopste van ons drie toetsmotors, hy het nouwel ‘n nuwe 140 Kw turbodiesel enjin, maar die res van die Pajero voel oud, nie heeltemal tegnologies in die klas van die ander twee nie. Met Dakar ondervinding en verkope beter as die van die Pathfinder gee die kopers seker nie te veel om hieroor nie. Die Pajero was die beste toegerus vir die omstandighede waaronder ons getoer het. met die All terrain bande maar hy was ook die enigste voertuig wat oral gras onder die bakwerk bymekaar gemaak het. Daar is ‘n dwars staaf ter versterking van die onderstel wat kort-kort gras versamel het, alhoewel dit nie naby die uitlaatstelsel of dryfstelsel was nie kan dit sonder ‘n skaaf plaat dalk ‘n problem veroorsaak. Die Pajero is ook die enigste voertuig waar ons twee saad nette nodig gehad het omdat daar onder baie laag naby aan die pad ook ‘n verkoeler inlaat sit wat ten spyte van die net nog steeds gras bymekaar gemaak het. Die Nissan Pathfinder 3.0 V6 dCi 4×4 outomaties klink mooi as jy hom bietjie vet gee, hy het die tweede meeste krag vir ‘n diesel in die klas naas die Disco 4, maar met die agterste ewenaar en noodwiel wat onder die voertuig in die sand sleep dink ons die Pathfinder sal beter vaar waar die paaie meer gelyk is. Dink nou net as ons ‘n wiel moes vervang dan moes ons die nood wiel eers uit die sand uit grawe om dit van die voertuig af te kry en dan die voertuig nog hoër oplig om die ou band weer onder die voertuig in te kry. Die Nissan Pathfinder is ook heeltemal te duur vir wat die voertuig bied, teen R652 000 is hy self duurder as die Nissan Murano of Z370 Roadster. Hy is bykans R107 000 duurder as die Pajero en R2000 duurder as die Toyota Prado VX Diesel, selfs R28 000 duurder as die Land Rover Discovery 4 TD SE wat sonder twyfel die leier in die segment is. Wat die Jeep Grand Cherokee 3.6L Overland betref is hy die enigste een van die drie wat petrol aangedrewe is, dit in opsig self is ‘n terugslag vir nou, alhoewel ons geen probleem met die beskikbaarheid van petrol in Botswana gehad het nie kan dit ‘n probleem raak in die res van Afrika. Die Jeep is wat rygerief en toerusting aanbetref in ‘n ander klas, na my mening die naaste aan die segment leier Discovery 4 van al drie die voertuie. Teen R582 000 vir die Overland soos ons toetsvoertuig, is dit net die 5.7 V8 Overland wat nog meer krag bied in die Jeep stal en selfs hy teen R631 000 is goedkoper as die Pathfinder. Die Jeep is meer gesofistikeerd en verfynd as ooit te vore, luukser as ooit te vore en met die Quadra-Trac II en Quadra-Drive II vierwiel stelsel en geslote lugvering wat sy eie lug aanboord in ‘n silinder stoor is dit werklik net die luukste HSE Disco 4 wat die Jeep troef. Met bykans identiese brandstofverbruik syfers as die ander twee diesel voertuie kan ons nie wag vir die turbodiesel model wat dalk later in 2011 plaaslik beskikbaar sal wees. Dus vir ons Kalahari Toer 2011 plaas ons die drie voertuie soos volg vir algemene werkverrigting en brandstof verbruik en gebruikersvriendelikheid.
1. Jeep Grand Cherokee 3.6L Overland (13,58 L/100km vir ons toer)
2. Mitsubishi Pajero 3.2 Di-D GLX Lwb AT (13,38 L/100 km vir ons toer)
3. Nissan Pathfinder 3.0 dCi 4×4 AT (13,48 L/100 km vir ons toer)
Dankie aan Chrysler SA vir die Jeep, Nissan SA vir die Pathfinder en Mitsubishi SA vir die Pajero.

the best gameДанильченео

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.