Sap-zombies juig oor Afrikanerselfmoord

Deel op

Skoppensboer het vandeesweek buite stemming gebly. Nie dat hy die HNP se “stem reg, bly weg” ondersteun nie, maar daar was niemand vir wie hy kon of wou stem nie.

Dan Roodt praat hiernaas en in Rapport vandag van politieke zombies wat uit die dode herrys. Die Super-Sap uit die Wes-Kaap wat vergeefs droom dat die DA die land van die Limpopo tot Kaap Agulhas gaan regeer, het groot plesier in die begraafplase van Houghton en Bishops Court ontketen. Allerlei Sap-zombies het die Union Jack weer uitgehaal, ‘n heildronk op Lord Milner gedrink en al toi-toiende met verrotte ledemate gefuif. Afgesien van die Janne (Smuts en Hofmeyr), was Sir De Villiers Graaff insgelyks daar. Asook Van Zyl Slabbert in sy Madiba-hemp en met ‘n effens kleiner maag, varser uit die doderyk as die ander.

Daar is niks so sterk soos ‘n dooie idee waarvoor ons vleis weer ryp is nie, het die zombies al dansende gesing. Hier en daar het een ‘n DA-kopdoek gedra.

Tussen die grafte het van die zombies ook politiek gepraat. “Man ja, kan jy nou meer. En daar pleeg die Afrikaners toe vir die soveelste keer politieke selfmoord, asof ’94 nie genoeg was nie, hie-hie,” sê een.

Oor die heengaan van die VF Plus was daar insgelyks groot vreugde. Maar enkele vuisgevegte met half ontbinde ledemate het tussen die zombies uitgebreek toe daar gewonder is of dit ‘n selfmoord of ‘n moord was.

“Pieter Mulder het, soos Marthinus, selfmoord gepleeg toe hy die pos in die ANC-kabinet aanvaar het,” meen ‘n besonder vreesaanjaende zombie met ‘n bebloede, verteerde gesig.

“Nee, nee, dit was moord!” skree ‘n ander. “Niks is wonderskoner as ‘n goed beplande moord nie. Solidariteit en Afriforum het die VF Plus in die rug gesteek net soos FW en Roelf die volk verraai het. Dis wat Afrikaners die beste doen: om mekaar in die rug te steek. Verraad is in hul bloed!”

“Lank sterf die Boer!” beaam ‘n ander en lig ‘n glasie.

“Ja, dis die volk wat die vrolikste begrafnis hou, gee hulle darem dít toe,” meen ‘n vermolmde mummiegesig. “Ná 360 jaar beheer hulle geen vierkante sentimeter van die land nie, wat nog te sê die munisipaliteit van Pofadder, en hulle is baie bly daaroor. Gelukwensinge aan Zille dat sy die Verwoerd-standbeeld verwyder het en voortaan alle DA-stadsrade in Engels gaan bedryf, stroom in van alle Afrikaanse organisasies: die ATKV, Afrikanerbond, FAK en natuurlik Solidariteit/Afriforum.”

Oor een ding was die zombies egter ongelukkig: die feit dat die begraafplase so verwaarloos word. “Hopelik stuur Zille vir ons iemand om die gras te kom sny en die bossies tussen die grafte uit te trek,” sê ‘n zombie hoopvol.

Uiteindelik word ‘n komitee gevorm om dié kwessie by die plaaslike ANC-stadsraad te opper.

“Ons het ‘n kommunikasiedeskundige nodig om ons saak in die media te stel,” sê ‘n wandelende dooie.

“Wat van die konsultante uit Brittanje wat die IVP in die pas afgelope verkiesing geadviseer en al hul geldjies opgeslurp het?” vra ‘n ander afgestorwene.

“Nee, hulle het die IVP net van die wal af in die graf gehelp. Doktor Pieter is mos ‘n kommunikasiedeskundige en hy weet hoe om met ‘n nismark te werk. Wesparkbegraafplaas kan doen met ‘n goed gekwalifiseerde persoon,” gaan sy kollega hom teen.

Die voorsitter bring die mosie tot stemming. Pieter Mulder van die VF Plus se dienste as openbarebetrekkingekonsultant vir die Sap-zombies word eenparig aanvaar.

‘n Vroue-zombie uit Pretoria is skielik bekommerd dat daar dalk nog lewe in die Afrikanerlyk kan wees. “Wat van al die Afrikaners wat per sms geld skenk vir Afriforum? Netnou kom daar al weer ‘n Afrikanerparty wat ons meesterplan vir ‘n Engelse Suid-Afrika bederf,” kla sy.

“Nee wat,” sê die voorsitter. “Afriforum en Solidariteit maak seker dat hulle geen invloed in die parlement uitoefen nie, daarom het hulle hul mense verbied om lede van die VF Plus te wees. Hulle werk ook vir ons saak met hul al hofgedinge teen die ANC. Dit plaas minder van ‘n las op die DA se geldkoffers.”

Ter afsluiting staan al die zombies, selfs dié met net een been, op aandag en sing “God save the queen”, amper soos in ‘n bioskoop uit 1935.

игра пазлы для детейДанильченко Юрий Харьков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.