Anderkant die longdrop – ontledings van die verkiesing

Soos gebruiklik is daar ‘n stel feite oor wat met ‘n verkiesing gebeur het, en ‘n klompie meer uiteenlopende vertolkings. Die vertolkings kan in politiek-korrekte en politiek-inkorrekte vertolkings verdeel word.

Die verwikkelinge en faktore oor wat kiesers tussen twee verkiesings beïnvloed, is gewoonlik die veld van die politieke sosioloog. In ‘n diverse en heterogene land soos Suid-Afrika speel politieke antropologie ‘n baie groot rol, en ‘n party wat dit die beste verreken, en ook interkulturele kommunikasie die doeltreffendste kan inspan, gaan groot voordele trek. Weens politieke korrektheid moet die interkulturele karakter van hierdie kommunikasie egter subtiel genoeg wees dat dit nie die idioom waarbinne die groot media funksioneer aantas nie.

Kort voor, en tydens die verkiesing slaan ‘n ander faktor toe – die politieke psige van die kiesers. Dit is dan wanneer die objektiewe faktore wat vir jare sedert die vorige verkiesing sake oorheers het, plek maak vir ‘n skynbare emosionele instink wat min met werklikhede en beginsels te make het.

Die eenvoudige antwoord is dat omdat dit oor politiek handel, politieke korrektheid ‘n groter realiteitsfaktor as andersins is. Sonder om die politiek-inkorrekte te verreken, is ‘n ontleding egter onvolledig.

Omdat die publiek sedert die eerste uitslae bekend geword het, deur die politiek-korrekte redes gebombardeer is, word hier op die politiek-inkorrekte, en dus minder populêre gefokus.

Die politiek-inkorrekte faktore word grootliks gestaaf uit syfers wat Mari Harris, direkteur van Ispos-Markinor verskaf het ‘n dag na die stembusse gesluit het. Die uitslag was toe reeds byna ‘n voldonge feit.

Die kort antwoord is dat die DA se verkiesingsveldtog self nie ‘n baie groot rol gespeel het in die groei wat dié party getoon het nie. Die uitslag is ‘n kieserreaksie op die ANC se rassebenepenheid in die verkiesingsveldtog – ‘n perd wat die ANC self nie behoorlike beheer oor gehad het nie. Die ANC het geen ander keuse gehad nie omdat hy immers ‘n liederlike druipsyfer oor dienslewering het – dit waaroor munisipale verkiesings werklik saak maak.

Deur die kiesers rassegepolariseerd te kry, kon die ANC grootliks daarin slaag om sy steun onder swart kiesers te behou. Die effense verswakking is grootliks aan die wegblystem te wyte, terwyl Cope as nuweling in munisipale verkiesings, ook ‘n ietsie daarmee te make het.

Die ANC het ook die prys betaal vir iets wat ook verswyg word vandat dit in die politiek-inkorrekte vakkie geplaas is – die Jimmy Manyi-uitsprake wat bruin meningsvormers ‘n ruk lank laat moord gil het. Boonop het die ANC-geledere om Manyi gesluit. Manyi se uitsprake het ook nie in ‘n lugleegte gestaan nie – daar is steeds sterk wantroue sedert die tyd onder ANC-bewind bruin mense wat lank op waglyste vir huise, verbysterd moes sien hoe nuwe inkommers uit die Transkei sommer gou-gou, en voor die bruin mense op die lyste, geholpe raak. Tog dui die ANC aan dat die party nie verstaan wat nou met die bruin kiesers aangegaan het om hulle die rug toe te keer nie.

Die DA se skerp groei dui eerder op die wegsuig van steun by ander, veral kleiner partye, in so ‘n mate dat Suid-Afrika nou naby aan ‘n de facto tweeparty-outokrasie beweeg. Volgens Harris (die presiese syfers word nie verskaf nie omdat dit nie behoorlik empiries gemeet is nie), was meer as die helfte van die DA se kiesers Engelssprekend. Sowat ‘n kwart was Afrikaanssprekend, en sowat 20 persent praat ‘n swart Afrikataal as huistaal.

Die DA se tipiese profiel het dus min verander.

Die feit is dat Cope, ten spyte van sy ernstige probleme in die aanloop tot die verkiesing, en die feit dat dit deur die media afgeskryf is, nog betreklik beduidend uit die stryd kon tree waar ander kleiner partye met veel minder teenspoed, sleg gevaar het. Die afleiding wat hieruit gemaak kan word is dat Cope ‘n veel natuurliker afsetpunt vir ontevrede swart kiesers is as die DA.

Die DA het alles in die stryd gewerp om swart steun te werf. Dit het onder meer openlik verklaar dat dit die Vryheidsmanifes onderskryf, wel wetende dat die bepalings oor grondgryp en die nasionalisering van banke en myne nie oral ewe goed ontvang gaan word nie. Die DA het homself as die ware erfgenaam van Nelson Mandela voorgehou, terwyl Mandela onder meer met die aanstelling en volharding met ministers soos dr. Bengu by onderwys, en Nokosasana Zuma by gesondheid ernstige skade aan die land berokken het. Partyleier Helen Zille se omstrede dansery het nie oral ewe goed afgegaan nie, en is soms baie goed deur die ANC uitgebuit. Harris se syfers toon dat dit nie die omvang steunsuiging gehad het wat die DA gehoop het nie. Die DA het, anders as kleiner partye met minder hulpbronne sy mediaverklarings uitsluitlik in Engels uitgereik. Op nasionale vlak het dit oor die plaasaanvalle wat voorgekom het geswyg, terwyl wel ‘n verklaring oor kommer oor die uitbreek van bek-en-klouseer uitgereik is.

Die ironie is dat die ANC nou ‘n soortgelyke impak gehad het as Zille se Zuma-tirades tydens die vorige verkiesing. Toe het dié volgehoue teerkwas-inspannery swart kiesers later sodanig aanstoot gegee dat die destydse wegbreekstroom uit die ANC nie net omgekeer is nie, maar selfs Cope seergekry het oor die terugtog ANC toe.

Nou het die ANC se raspolariserende uitsprake en optredes, soos om as party tot die Malema-haatspraakverhoor toe te tree, nie-swart kiesers instinktief laat laer trek. Politiek-sosiologies neig so ‘n laertrekkery nie in ‘n ideologiese tuiste nie, maar in as dit wat as die sterkste vesting beskou word. En die DA het die voordeel hiervan getrek.

Die ironie is dat die DA nou met selfs meer konserwatiewe mense vreemd aan sy eie ideologie in sy geledere sit. Sowat 18 maande gelede het liberale kommentators juis na hierdie aspek verwys, en ‘n kommentator soos Jan-Jan Joubert het dit selfs as ‘n probleem uitgewys wat vir die DA soos ‘n blok aan die been is.

Die gevolg is dat waarskynlik ‘n rapsie minder as die helfte van die ongeveer helfte stemgeregtigde kiesers wat die moeite gedoen het om te stem, vir ‘n party gestem het – ANC en DA – met wie hulle ideologies saamstem.

Om dit kort en kragtig te demonstreer: Waar peilings daarop dui dat ‘n verre minderheid aborsies op aanvraag steun, maak dit nie sin dat mense wat daarteen gekant is, vir die twee grootste partye gaan stem nie.

Dit is wel so dat munisipale verkiesings veel meer oor dienslewering as oor ideologiese kwessie behoort te behandel – of soos dit nou was, slaggat- en longdrop-kwessies. Dat net enkele van die land se rioolwerke aan die vereiste standaarde voldoen, is ‘n terloopse element hiervan.

Tog lyk dit of partye wat ideologies meer ooreenstem met die algemene gevoel van die publiek, soos onder meer weerspieël word in die manifestasie van die ongelukkige kerkpolitiek in verskeie kerke, hard en innoverend sal moet werk om op die provinsiale en nasionale politieke vlak verlore grond te win – daar waar ideologie werklik saak maak.

‘n De facto-tweepartystelsel in ‘n land waar partyverteenwoordigers deur koukusbesluite gebind is, en waar minder as die helfte van die kiesers wat hulle ingestem het ideologies van hulle verwyderd staan, verskil in beginsel bitter min van ‘n eenparty-outokrasie. Die omvang van korrupsie in SA verdiep die probleem.

Niemand is ook so doof soos hulle wat nie wil hoor nie. Dit is dus uiters onwaarskynlik dat diktatoriale party-leiers soos Buthelezi en Meshoe die boodskap gaan kry dat hul politieke rakleeftyd lankal by die verstrykdatum verby is. Dit gaan hul partye se oorlewingstryd in ‘n omgewing waar die gety teen klein partye gedraai het net verder bemoeilik. Meshoe se verduideliking dat sy party se teenspoed aan ‘n nuwe strategie te wyte is, is ‘n duidelike teken dat dié man wat al jare gelede teenoor die media onderneem het om homself nie weer as partyleier verkiesbaar te stel nie, nie van plan is om die regte ding te doen nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.