Verdien ANC-politici betrokke by seksskandale ons respek?

Deel op

Die nuus dat die Britse oliemaatskappye, veral BP en Shell, regstreeks by die beplanning van die inval in Irak betrokke was, het vir eens en altyd die internasionale knoeiery van Groot Brittanje ontbloot. ‘n Land wat bereid is om te lieg en ander lande aan te val, bloot terwille van oliekonsessies, is nie net gewetenloos nie, maar uiters gevaarlik.

In Irak het dit bloot gegaan om Frankryk, ‘n Britse bondgenoot in die twee wêreldoorloë asook medelid van die EU, die loef af te steek wat toegang tot Irakese olie betref.

Daar is egter steeds baie naïewe Afrikaners wat dink dat die ANC met ‘n wonderwerk hier aan bewind gekom het, sonder enige Amerikaanse of veral Britse inmenging. Ook die beswaddering van die Afrikaner in die internasionale media het “vanself” en “spontaan” gebeur.

Skoppensboer is bereid om ‘n hele casino daarop te verwed dat die AWB met sy swastikas en ander simbole wat aan die Nazisme herinner met Britse hulp of befondsing tot stand moes gekom het. Daar loop al jare lank gerugte dat die Nasionale Party se inligtingsdienste van destyds met ‘n omvattende plan die “regses” en onafhanklikgesinde Afrikaners moes diskrediteer. En wie was die inligtingsdienste se hanteerders? Vir seker die Britte wat allerlei dinge in hul ore moes gefluister het. Toe die Afrikaner eers met die teerkwas van rassisme en Nazisme bygekom is, is daar besluit dat die korrupte klompie uitgeweke linkses van die ANC en SAKP die land moes kom regeer en is De Klerk nader geroep om die seremonie te behartig.

Ook die ANC in sy huidige grootheidswaan sou naïef wees deur te dink hy kan deur sy lidmaatskap van BRICS teen die Britse belang in Suid-Afrika draai. Uiteindelik sal Brittanje nie huiwer om onder een of ander voorwendsel die land weer aan te val indien toegang tot ons platinum en ander minerale in die gedrang kom nie. En wie gaan vir die Britte op die slagveld sneuwel? Waarskynlik Afrikaners, net soos wat die Afrikaner nou weer as stormram teen Malema gebruik word. Wanneer laas het een van die mynmaatskappye vir Malema gekritiseer? Waarskynlik eet hulle saam in Sandton se duurste restaurante en blameer saam die Afrikaners vir al die kritiek wat die ANC en veral sy jeugleier tans moet verduur.

En al die Afrikanerouers stuur hulle bloedjies Engeland toe om daar ponde te gaan verdien en bietjie Britse kultuur in te kry. Dis nou as Beeld nie die nuus oor die Britse koningsgesin van die lamppale af uitbasuin nie.

Stel iemand belang in seksskandale? Dis mos hoe die politiek in Engeland werk. Elke Sondag is daar ‘n nuwe seksskandaal rondom ‘n ANC-minister op die Sondagkoerante se voorblaaie, asof so iets in Afrika enige punte tel. Maar die betrokke joernalis het seker die koevert met al die sappige besonderhede oor hotelverblyf, die hoeveelheid minnaresse en ander obskure inligting by die Britse ambassade of geheime diens gaan afhaal.

Ten minste hoef die joernaliste nie hard te werk nie en word hul “ondersoekende joernalistiek” vir hulle gedoen.

Iets sê vir Skoppensboer dat die meteoriese opgang wat Helen Zille tans maak ook nie om dowe neute geskied nie. Met Malema wat dreig om die myne te nasionaliseer, het die gevaarligte in Londen lankal aangegaan, veral noudat Anglo en De Beers daar gesetel is.

Brittanje is egter kwalik gekwel oor die Afrikanerboere wat uitgemoor word of op die punt staan om al hul grond te verloor. Soos die blankes van Zimabwe, is ons lankal afgeskryf. Die roofkapitalisme wat Brittanje al jare lank in Irak en in Suid-Afrika bedryf, kan net baat by ‘n korrupte en omkoopbare regering.

En ANC-politici wat nie wil “saamwerk” nie, sal deur ‘n seksskandaal getref word. Met as laaste opsie ‘n militêre inval. Kennelik is die Suid-Afrikaanse Weermag ook met ‘n doel tot sy huidige vlak afgebreek. Iewers in die toekoms sal hy as deurmat gebruik word vir ‘n paar Britse soldate om hul voete aan af te vee.

Skielik verdien diegene wat in seksskandale verstrengel raak, Skoppensboer se respek. Miskien werk hulle vir die Chinese. Of die Russe. Maar beslis nie vir die Britte nie.

Onthou ook om vandag by BP en Shell te gaan volmaak en ‘n bydrae tot jou toekoms buite Suid-Afrika te lewer.

для банилобановский александр фото

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.