Is jy ‘n vryheids-roofkyker?

Deel op
As ek by ‘n Dokter instap met ‘n skeet of ‘n kwaal en hy gee my mediese raad om my van die probleem te verlos, dan is hy geregtig op vergoeding vir sy tyd en kennis. Indien ek betaling weerhou, dan “steel” ek letterlik by die mens.

Hoeveel van ons is nie besig om ‘n aandeel in ons vryheidstryd te steel nie?

Ons sit op al wat ‘n forum is en lewer kommentaar. Ons het raad en planne en opdragte vir die leiers. Ons eis by hulle antwoorde en prestasie, maar vergoed ons hulle enigsins vir hierdie waarde?

Kom ons gestel Dr. Roodt en die manne agter die skerms hou eenvoudig op om ons saak te beveg omdat hulle dit nie meer kan bekostig nie- hoeveel verloor ons dan? Hoeveel verloor ons kinders dan? Wat is vryheid vir u werd in Rand en sent. Ek kan u belowe die dag as ons niks meer oor het nie, sal ons eers regtig agterkom wat ons verloor het.

Leiers kan egter nie hierdie oproep tot finansiële betrokkenheid maak nie, want dan is elke tweede kommentaar dat hulle net agter die geld aan is. Ek, wat self skuldig is aan “Vryheid-roofkyk”, doen dus ‘n beroep op mense soos ek, wat nie altyd persoonlik kan betrokke raak by die vergaderings en so meer nie, om finansieel betrokke te raak.

Kom ons wees nie naïef nie, hierdie stryd gaan nog miljoene Rande kos. Die “struggle” het etlike miljoene per jaar gekos om aan die gang te kry en aan die gang te hou. Hulle geluk was dat die buiteland hulle finansier het. Ons sit met talle lande wat ons goedgesind is, maar wat ons nie nou finansieel kan ondersteun nie. Ons is dus uitgelewer aan ons eie finansiering en dit is maar power. As die bietjie wat ons bydra op die oomblik ons strewe na vryheid verteenwoordig, dan is ons nie baie ernstig oor die saak nie…

Die realiteit is dat baie van ons finansieel swaarkry. Ek is seker hier is lesers op die forum wat gou ‘n tjek van R10 000 kan uitskryf sonder om dit te voel, maar ek (en my bankbestuurder) sien ons agterente net daar! Daar is egter planne rondom dit:

“Afrikaner-Blikkies”

Ek daag u uit om ‘n paar blikkies oranje te verf en net iets soos “Afrikaner-blikkie” daarop te skryf. Deel uit aan u familie en vriende, sit een op by ‘n werksplek, een by elke onderneming wat dit sal toelaat en vat een saam na elke byeenkoms waar u gaan. Al wat u vra is mense se kleingeld, al is dit net hulle brons. Ek is baie jammer vir die DBV, maar ons mense sal ‘n staat bou waar ons die diere mooi sal oppas. Laat daar in elke plek waar u kom so blikkie staan. Een keer ‘n maand gaan maak u al die blikkies leeg-

Ja, Oom, ek weet daar is dalk net R10 in die blikkie, maar as ons 10 000 sulke blikkies elke maand kan bymekaar maak dan is dit R100 000.00 per maand, R1.2 miljoen per jaar… Hoeveel koeksusters is daar nie in hierdie land verkoop om ons inisiatiewe te befonds nie? Hoeveel kerke is nie al gebou met pannekoek, koeksusters en tombola tafels nie? Onthou u nog ‘muntleggings’? Tel op daardie 5 sent stuk in die pad en gooi hom in die blikkie, die ou mense het altyd gesê jy kort ‘n sent om ‘n Rand mee vol te maak!

“Dink Oranje Blanje Blou…”

Die nuwe tendens in die wêreld is om “groen” te leef, maar sit bietjie oranje, wit en blou by vir kleur! Eenvoudige, klein dingetjies maak ‘n verskil- As jy koeldrank koop, koop glas-bottels, dit is nie net meer eko-vriendelik nie, maar die glasbottels kan weer Oranje blikkie toe! Verkoop bietjie al daardie ou “scrap” in jou motorhuis. Nie net sal jy in die mode wees met jou nuwe ‘minimalistiese motorhuis’ nie, maar jy kan ook weer ‘n paar Rand in die blikkie gooi! Sny jou eie gras en betaal die helfte van die loonarbeider se geld in die blikkie!

Vat inisiatief.

Van alles is hierdie die belangrikste! Dit gaan nie oor die “vryheid van die volk” nie, dit gaan oor jou en my oorlewing, dit gaan oor ons kinders se toekoms. Sonder ‘n vryheidstryd, sal daar nie vir hulle ‘n toekoms wees nie… Die leiers is besig om namens my en jou te baklei sodat ons kan oorleef! Kom ons raak deel.

Jy hoef nie vergadering op vergadering by te woon nie. Begin in jou gemeenskap, tussen familie, vriende en bure met inisiatiewe. Koop vir almal pampoensaad dat hulle dit daar in die agtertuin plant en reël dan ‘n braai waar almal hulle pampoene moet saambring! (lag maar, ek het al gehoor van groot oeste wat so afgehaal is vir fondse!)

Reël ‘n Boeresport-dag, nie net gaan jy ‘n paar Rand maak nie, maar jy herinner mense aan die mooi van ons volk wat verlore gaan, jy wakker weer iets in hulle aan om ook betrokke te raak en jy leer die kinders van ons kultuur. Jy hoef nie op ‘n komitee te wees nie, jy hoef nie ‘n organisasie te stig vir dit nie. Kry net twee of drie mense bymekaar en hou dit daar op die leë erf oorkant jou huis. Die eerste keer of twee gaan dit dalk net jy en jou familie wees, maar teen die derde maand gaan mense begin stop en kom deelneem.

Ek is seker daar is nog sulke idees wat julle hier kan bevoeg!

Dit gaan egter nie alles net oor geld nie. Dit gaan ook oor publisiteit en leierskap. Mense gaan vra vir wat is die Oranje blikkie- en hulle gaan weer vertel van die Oranje blikkie. Mense gaan sien jy neem inisiatief en jy gaan outomaties as verteenwoordiger begin optree vir daardie klein stukkie om jou.

Dit is wat ons nodig het- Mense wat besig is om ons saak te bevorder. ‘n Ondersteuningsnetwerk vir ons leiers wat hierdie geveg uit hulle eie sakke moet baklei sodat ek en jy en ons kinders eendag die vrugte van vryheid kan pluk!

Komaan kom ons sit ons beursies waar ons bekke is!

Groetnis!

играшкиФильчаков прокурор отзывы

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.