‘Die Merkel-koste’

Deel op
ImageAngela Merkel wat al beskryf is as die magtigste vrou ter wêreld, het haarself onlangs die kritiek van Duitse nyweraars op die hals gehaal. Terwyl die ekonomiese logika in Suid-Afrika behels dat die swart mark ten alle koste ontgin word, en die ernstige politieke uitskot daarvan met min simpatie deur sakemense bejeën word, is Merkel besig om die "eerlike en reguit" pad te bewandel ten koste van ekonomiese oorwegings en werkskepping.
Deel op

Of ten minste is dit die mening van Eberhard Sandschneider, navorsingshoof van die Duitse Raad vir Buitelandse Aangeleenthede. Hy meen dat Merkel veral te blameer is vir die moeilike verhoudinge met Rusland enersyds en China andersyds. Merkel se ondersteuners meen egter dat die feit dat sy uit Oos-Duitsland kom haar meer krities stem teenoor sogenaamde diktature. Haar standpunt bly dat sy Duitsland se buitelandse beleid op "waardes" eerder as ekonomiese logika wil bou.

Haar voorganger, Gerhard Schroeder, het Poetin as 'n model voorgehou en alle Westerse kritiek teen die Russiese leier afgeweer omdat Duitsland afhanklik is van Russiese energie. Dit het Duitse maatskappye in staat gestel om die Russiese mark in groter getalle te betree. Onder Amerikaanse druk, is Duitse nyweraars tans van mening, word die potensiaal van die Russiese mark nie naasteby tot Duitsland se voordeel aangewend nie.

Diplomate in Berlyn brom onderlangs dat Merkel in die geskiedenis opgeteken sal word as die persoon wat Rusland vir die Weste verloor het. Walter Steinmeier, minister van buitelandse sake, dryf al jare lank nouer integrasie met Rusland. Steinmeier, wat ook in Schroeder se regering gedien het, wil sien dat 'n uitruil van Duitse hoë-tegnologie en Russiese energie die grondslag lê vir dieper samewerking.

Dat Duitsland die aanvoorwerk gedoen het vir beleggings in beide China en Rusland ly geen twyfel nie, maar onder leiding van die eerste vroue-Kanselier is die inisiatief besig om verlore te gaan. Nyweraars verwys daarna as die "Merkel-koste". Die Russe het in Oktober tydens 'n staatbesoek in Dresden byna gesmeek om 'n energieaanleg in Duitsland op te rig, maar die lukratiewe aanbod is van die hand gewys. Die aanleg gaan nou in Oostenryk gebou word.

Verhoudinge met China is eweneens kil. Merkel, 'n Bush-aanhanger, het pas die Dalai Lama in Duitsland ontvang tot groot ontsteltenis van China. Die voorsitter van BASF het die uitnodiging as "taktloos" beskryf. Duitse diplomate berig dat die besoek verhoudinge met China op alle vlakke negatief beïnvloed het. Omdat Duitsland geen stem by die VN het nie, meen kritici dat dit belangrik is om twee lande wat wel stem nie te vervreem nie.

By gebrek daaraan mag Duitsland se invloed om konflik te bestuur in die gedrang kom. Die Duitse publiek is salig onbewus van die impilkasies van Merkel se buitelandse politiek, ook op werkskepping en groei. Die Dalai Lama se besoek het byval by 80% van die kiesers gevind en vir die meeste Duitsers is hulle Kanselier se "uitwaartse" blik met talle oorsese reise, sterbesoekers en spitberade 'n teken daarvan dat Duitsland se status as wêreldmoondheid herstel is.

cluedo freeФільчаков прокурор

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.